ICARUS JOERNAAL, INSKRYWING # 1
Wat ek bedoel met arriveer in die metafoor van die pad, is dat ‘n mens op een of ander tyd uit die woud kom. Na weke wat jy deur die skemer en skadus gestap het op eindelose voetpaadjies, en geleef het op wilde vrugte en bessies, sien jy onverwags een oggend lig. Net voor die middaguur bereik jy die rand van die woud. Jy vind jouself op ‘n pad wat loop oor golwende heuwels, langs riviere, deur die berge…
‘n Mens raak moeg van stap en stap en stap en van probeer om jou weg te vind. Miskien is dit hoekom mense hulleself vestig in ‘n voorstedelike omgewing. Hulle raak moeg van nou voetpaadjies, van slaap onder bome, van weghardloop van dinge wat hulle bedreig. Hulle het soort-van die einde van die woud bereik, en ge-settle op ‘n lappie grond buite die woud – op ‘n plek waar hulle veilig voel.
Nou, ek kan maar die klein-burgerlikheid van suburbia kritiseer soveel as wat ek wil, maar dié mense het ten minste ‘n lewe! (Hoe vervelig ek dit ook al wil afmaak.) Hulle gee nie voor hulle lewens is moerse opwindend nie. Hulle werk jaar-in en jaar-uit vir dieselfde maatskappy – wat hulle as voorspoedig ag! – of ten minste in soortgelyke maatskappye. En selfs as hulle een voorstad verruil vir ‘n ander een, word dieselfde basiese leefstyl gehandhaaf. Hulle wag nie meer vir hulle lewens om te begin nie. Hulle het op ‘n punt gekom waar, as hulle stilstaan en dink daaroor hulle sou sê, “It’s not the life of a rock star, but it’s my life.” Hulle sê ook, “Ek leef, vandag. Dit mag dalk nie alles wees waarvan ek gedroom het nie, maar at least lééf ek vandag. Ek wag nie vir môre, in die hoop dat ek dán ‘n meer glorious en exiting lewe gaan hê nie.”
Ek, aan die ander kant, droom altyd van môre. Môre gaan ek begin leef, en dit gaan die lewe wees wat ek vandag sou wou leef, maar dit kom nou net eers môre. Dit het sekerlik ook daarmee te make dat ek bang is om te sê, “Well, this is it, this is home. Ek hoop jy’s gemaklik, want jy gaan heel moontlik nog ‘n lang tyd hier wees.” Ek is geneig – of as ek terugkyk oor die afgelope paar jare toon ek altyd hierdie neiging – om te sê, “As jy nie dink dis great nie, moenie worry nie, want hierdie plek is nie eintlik ons huis nie. Môre of oormôre gaan ek eers my werklike huis bereik. En dit gaan ‘n fantastiese uitsig hê! Dit gaan ‘n great plek wees…”
Die vraag is nie of ek een of ander tyd wil settle nie, die vraag is vir wát wil ek settle. Ek is nie ‘n avonturier nie. Ek is iemand wat net nie vasgevang wil wees in ‘n plek waar ek nie werklik wil wees nie. Solank ek die energie en die wil het om te werk vir iets waarvoor ek graag wíl settle, moet ek nie gemaklik raak met enige iets minder nie. ‘n Mens gaan heel moontlik altyd moet settle vir minder as jou nommer een ideale lewe, maar jy kan realisties wees, en steeds eindig op ‘n goeie plek.
Ek het ‘n week of wat gelede ‘n oefening gedoen. Ek het ‘n lys opgestel van wat ek wil doen met my lewe: ek wil skryf, ek wil studeer, ek wil reis, en uiteindelik my lewe deel met ‘n goeie vrou. Nou, dis soort van algemeen, maar ook spesifiek genoeg. Dis ideale wat oor baie jare kan strek, maar dit kan verskeie konkrete vorme aanneem – studie kan byvoorbeeld ‘n drie-week-skryfkursus beteken, of om vir sewe jaar lank aan ‘n doktorale tesis te werk.
In Korea was my groot pet obsession suburbia. My punt was altyd dat ek weier om te glo dat ook ék een of ander tyd die “realiteit” moet aanvaar dat ek ‘n job moet kry; en ‘n huis, of ‘n woonstel of ‘n townhouse of ‘n duplex êrens in die voorstede moet beset as my little place in the sun.
Ek het altyd gesê die tipe lewe wat ek graag wil leef – wat nie noodwendig die lewe van ‘n popster is nie maar steeds my idee van ‘n goeie lewe – is moontlik, en binne my bereik as ek weet wat ek wil hê, en wat ek wil doen met my lewe (en natuurlik as life as we know it voortbestaan vir nog ‘n halwe eeu of so). Nou sit ek hier in my woonstel in Taiwan, en ek verklaar op hierdie sesde dag van Maart 1999 om rofweg vyf voor twaalf die oggend: Die lewe waarvan ek nog altyd gedroom het, aangevul met nuwe visies elke dan en wan, is moontlik. En dis moontlik in hierdie stad, in hierdie land. Nie at some unknown time in the distant future nie, maar binne ‘n paar maande. En soos ander mense ook soms die een voorstad verruil vir ‘n ander, of een company job verlaat om ‘n week later dieselfde te doen by ‘n ander, so sal ek ook een of ander tyd kan teruggaan Suid-Afrika toe, en voortgaan op dieselfde ritme.
Hoe lyk hierdie wonderlike lewe? ‘n Gemaklike, ou woonstel met ‘n uitsig (al is dit oor ‘n vuil agterstraat), deeltydse werk as ‘n Engelse onderwyser (so drie tot vier ure se klasgee per dag, miskien ses dae per week), en genoeg tyd om te werk aan literêre projekte. [...]
