Huiskatte is nie noodwendig waansinnig nie

VRYDAG 7 APRIL 2017

Enige skerp waarnemer van ’n huiskat se daaglikse bestaan sal die indruk kry dat die dier in ’n waan leef. Hy dink duidelik hy’s die baas van die huis, en dat alle beddens, die rusbank, die tapyt in die sitkamer en die kombuistoonbank alles sy persoonlike eiendom is. Hy reken verder dit is heeltemal aanvaarbaar vir hom om drie-uur in die oggend ’n bloeddorstige gegil die lugweë in te stuur omdat hy verveeld is en nie ’n enkele een van sy persoonlike slawe die ordentlikheid het om sy toutjie oor die vloer te kom trek nie.

Mense, aan die ander kant, het hierdie aardige siening dat dit goed is om ’n eerlike beskouing van die werklikheid te hê. Ons glo ons moet ons tekortkominge erken. Ons glo ons moet erken as ons nie dink iets is redelik of moontlik nie. Omdat dit ons beskouing is, tree ons dan ook daarvolgens op. Ons waag nie sekere dinge nie. Ons ken ons plek. Ons hou nie daarvan om uit ons beurt te praat nie.

As huiskatte meer soos baie mense was, was hulle beslis in die moeilikheid. Hulle sou moes erken hulle is uiters weerlose diere wat tussen een-kwart en een-vyf-en-twintigste die grootte is van meeste diere om hulle – naamlik mense, en ander diere soos honde. Hierdie eerliker beskouing van hul werklikheid sou lei daartoe dat katte aansienlik kleiner ego’s sou hê, stil sou sit in ’n hoekie sodat iemand nie dalk met hulle raas nie, en geduldig sou wag totdat iemand so genadig is om vir hulle ’n bietjie kos uit te sit.

Katte sien beslis nie realiteit soos wat dit werklik is nie – hulle sien dit soos dit hulle pas, en tree daarvolgens op.

As enige mens dit durf waag om hulle bewus te maak van hulle waan, sal die kat eers verveeld gaap, en as hy dink jy kry steeds nie die punt nie, sal hy verplig voel om jou nuwe lakens aan’t flarde te gaan krap. Jy kan jouself net verbeel hoe die gedagte vorm aanneem in die kat se kop: “Eerlike beskouing van realiteit? Is jy van jou trollie af? Wat dink jy is ek – ’n mens?”

Die wetenskaplike, Donald Hoffman, sê ewolusie begunstig nie mense met ’n goeie begrip van objektiewe werklikheid nie, maar eerder diegene wat die werklikheid waarneem op ’n manier wat hulle in staat stel om op effektiewe wyse te oorleef.

Duidelik werk dit baie goed vir ten minste óns huiskatte.

Een van ons huisdiere op sy persoonlike rusbank

______________________