Hoekom Suid-Afrika ’n groot fokop is

WOENSDAG 6 JULIE 2011

Suid-Afrika is een van daai lande wat, ten spyte van merkwaardige menslike potensiaal, natuurlike skoonheid en minerale rykdom, geklassifiseer kan word as ’n MAJOR FOKOP.

Suid-Afrika was nie ’n MAJOR FOKOP 350 jaar gelede nie. Nguni-sprekende stamme het meer as ’n duisend jaar vroeër stadig begin migreer onder andere suidwaarts, af langs die kus van Oos-Afrika, en gemeenskappe soos die San en die Khoi het hulle ding gedoen op die Weskus en ander dele meer na die binneland toe. Toe, in die sewentiende eeu, kom die Hollanders, en ’n rukkie later die Franse en die Duitsers en ’n paar ander verlore Europese siele.

Nou, ten spyte van wat sommige historici en politieke orators mens wil laat glo, was die blote aankoms van die bleekvelle nie wat die MAJOR FOKOP veroorsaak het nie. As hulle bloot vir die San en die Khoi laat weet het, “Luister, daar’s ’n nuwe game in town, en die game se naam is, die-plek-behoort-nou-aan-ons. Ons weet julle taal bevat moontlik nie eens die regte woorde om uitdrukking te gee aan privaat eienaarskap en die maatskappy-is-baas nie, maar dis hoe ons die ding doen waar ons vandaan kom. Plus, ons het pype wat loodballetjies vinnig uitblaas en enige van julle kan neervel op die plek as julle nie wil saamwerk nie,” kan mens nog argumenteer dat die Khoi en die San kon gereken het, “Whatever, ons het gesien wat die pype en die balletjies kan doen, en die mense lyk ernstig. Kom ons loop soek beter weiplek vir ons beeste.”

Die probleem was dat die bleeksiele mense nodig gehad het om slote te grawe, klippe te kap, mure te bou, beeste op te pas, bome te plant, en vrugte en groente te oes. En die klomp matrose en soldate wat gewerf is op die dorp- en stadspleine van Holland en naburige lande kon óf nie alles self doen nie, óf hulle was nie gretig vir al die hande-arbeid in die Afrika-son nie.

Nou, hierdie mark vir hande-arbeid kon nog oukei vir almal uitgewerk het indien redelike kompensasie aangebied was. Dit is egter op hierdie punt waar dinge alte verskriklik verkeerd begin loop het. ’n Mees barbaarse gebruik het weer populêr geraak in die eeu of so voor die Wes-Europeërs anker laat sak het in Tafelbaai: die gryp van vry mense, die slaan van kettings om hulle hande en bene, en die brutale geweld waarmee hierdie mense geforseer is om teen hul wil arbeid te verrig. Dit was waar die MAJOR FOKOP ingekom het.

Mense is in Angola, Madagaskar, en elders in Afrika gaan vang soos diere, op skepe geforseer, en ’n eenvoudige keuse gegee: werk gratis en verniet in son en wind, in die hitte van die somer en die bitterste wintermaande, of sterf honger en alleen. Dieselfde keuse is gegee aan politieke gevangenes van wat vandag Maleisië en Indonesië is, en aan ander mense wat teen hulle wil Kaap toe gebring is om werk te doen waarvoor die Hollanders en die ander Europeërs óf te lui was, óf wat hulle eenvoudig nie wou, of kon doen nie.

Hierdie ding van een groep mense wat ’n ander groep mense uitbuit en hulle van hul vryheid beroof, is, soos enige redelike mens kon verwag, nie iets wat vinnig vergewe of vergeet word nie.

Twee honderd of so jaar later het nasate van die Europese matrose en soldate en sieketroosters van die sewentiende en agtiende eeue die gebruik voortgesit om bruin en swart mans, vrouens, en selfs kinders te forseer om te werk op plase en in ander nywerhede.

Nader aan ons eie tyd, so van die laat negentiende eeu af, het daai hoogdrawende meesters van wit oppergesag, die bewoners van die Britse Eilande, ook handjie bygesit om te verseker Suid-Afrika beland in die MAJOR FOKOP kategorie. Met behulp van wette en regulasies het hulle duisende swart mans nie veel van ’n keuse gegee anders as om hulle arbeid te verkoop op die myne nie. Verdere regulasies het hulle families verhoed om saam met hulle huis op te sit in die buitewyke van die nuwe industriële dorpe. Hierdie swart werkers, meestal ongeskoold volgens Westerse standaarde, is ’n hongerloon betaal vir ure se harde arbeid om rykdom uit die Suid-Afrikaanse aardbodem te grawe, alles sodat die meesters van wit oppergesag nog kragtiger kon word, en nog deftiger en luukser huise kon bewoon.

In kort, ongeregtigheid, wreedheid en kortsigtigheid word nie gepleeg teen die een geslag, en teen die volgende geslag is alles weer reg en almal sing saam gesange en psalms om die kampvuur nie. Een groep individue wat die lewe uit ander groepe individue druk, lei in die beste van gevalle tot ’n FOKOP. Gooi by rassistiese maatskaplike beleid, gebrek aan politieke verteenwoordiging, en ’n benadering tot opvoeding wat dit duidelik maak dat die groep wat oor die meeste mag beskik, hulleself sien as die baas van ander groepe, en jy sal jou sterre dank as jy nie eindig met ’n situasie wat eeue later nog ’n MAJOR FOKOP is nie.

Jy kan dit ekonomiese ongelykheid noem; jy kan dit rassisme noem. Aan die einde kom dit neer op ’n eenvoudige vraag: Wie werk vir wie, en hoeveel sê het die mense wat die harde arbeid verrig in die hele storie?

______________________