Hoekom het ons nodig om geld te maak?

DONDERDAG 29 DESEMBER 2016

Hoekom het ek, of jy, nodig om geld te maak? Glo dit of nie, maar daar is mense wat onnosel genoeg is om elke nou en dan die antwoord te vergeet, en dan moet iemand in die omtrek altyd verduidelik.

Ek is een van hierdie eenvoudige mense. Gelukkig het ek net genoeg kompleksiteit binne my om na ’n paar minute uit my beswyming te ontwaak, en dan kan ek genoeg breinselle opkommandeer om self ’n antwoord te formuleer.

Dit verduideliking gaan soos volg:

Rede nommer 1. Jy moet probeer oorleef (as jy nie wil nie, geld niks van hierdie verduideliking vir jou nie). Om te oorleef, het jy geld nodig om kos te koop, huur te betaal, en te betaal vir water en elektrisiteit. Jy’t ook nodig om klere, en van tyd tot tyd medisyne te koop. Dit sal ook help as jy iets doen wat dit makliker sal maak om te oorleef een jaar van nou af, en tien jaar van nou af, en wanneer jy veel ouer is as nou en dalk nie meer kán of wíl werk nie. Jou oorlewing is dalk ook ten nouste gekoppel aan die oorlewing van mense na aan jou vir wie se oorlewing jy verantwoordelik is. Dit beteken nog meer geld vir kos, en klere, en medisyne, en ander items.

Rede nommer 2. As jou oorlewing goed genoeg op dreef is, maak dit sin om jou oorlewing die moeite werd te maak – andersins, wat is die punt? Om jou oorlewing die moeite werd te maak, het jy nodig om dinge te doen wat jy geniet. Dit beteken jy het geld nodig om boeke te koop, of sport te beoefen, of bioskoop toe te gaan, of kos te kook omdat jy hou van koskook, of vir dosyne ander dinge wat mense doen vir die plesier daarvan, of omdat dit hulle gelukkig laat voel en oor die algemeen positief oor die lewe.

Rede nommer 3. Jy wil dalk ander mense bystaan in hulle stryd om oorlewing (dis dalk iets wat jou eie oorlewing die moeite werd maak). Kans is goed dat jy geld nodig sal hê in jou pogings om ander te help.

Rede nommer 4. Jy wil dalk ook ander mense bystaan in hulle pogings om húlle oorlewing die moeite werd te maak. Weereens is dit nie altyd nodig om kontant op die tafel te lê nie, maar dit sal heel waarskynlik die proses vergemaklik.

Daar het jy dit – of dalk eerder, daar het ék dit nou, weereens. Ons het geld nodig om te oorleef. Ons het geld nodig om ons oorlewing die moeite werd te maak. Ons het geld nodig as ons ander mense wil help oorleef, en ons het geld nodig om hulle te help om van opinie te verander indien hulle nie dink hulle oorlewing is die moeite werd nie.

______________________