Hoekom ek nie geduldig wou werk aan ’n langtermyn kommersiële projek in 2006 nie

DONDERDAG 12 MEI 2016

Ek het sopas ’n insig gehad in my doen en late in 2006. Lesende deur die notas van daai jaar is dit tot my groot verleentheid baie duidelik dat ek vinnig wou geld maak. Dit is duidelik dat ek geval het vir die opinie van inligtingverkopers dat dit maklik is vir enige iemand om te begin om geld te verdien met een of ander skema op die internet sonder dat dit maande of jare se geduld en harde werk sou vereis.

Sekerlik moes ek geweet het wat die algemene indruk was van skemas om vinnig geld te maak. Hoekom het ek dan geval daarvoor? Hoekom – en dit het ek baie oor die laaste tien jaar gewonder – het ek nie ’n onderwerp of ’n belangstelling of ’n behoefte gekies met ’n mark wat bereid was om te betaal vir iets, en stadig en geduldig gebou aan ’n aanlyn bate nie?

Op 27 November 2006 skryf ek: “Ek kom toenemend onder die indruk dat ek my werklike sterkpunte ignoreer omdat ek tot nou toe geglo het dat dit ‘te lank’ sal vat om wins te maak daarmee.” En later ’n waarskuwing: “Waak daarteen om oor te hel na die teenoorstaande pool – om vir die volgende paar weke verlore te raak in kreatiewe werk wat ek meer sal geniet, maar wat nie noodwendig enige geld gaan inbring nie.”

Hoekom het ek nie begin bou aan ’n aanlyn besigheid nie? Hoekom het ek nie gewerk aan ’n kommersiële webwerf wat binne ses maande of ’n jaar vir my sou begin geld maak het nie?

Die rede, soos wat ek ontdek het, is eenvoudig: As ek wou werk aan iets wat ses maande of ’n jaar sou vat om geld te maak, het ek gewerk aan my eie projekte. Ek het juis die skryfwerk opgegee omdat ek gedink het – of wou glo – dat ek vinnig geld kon maak op ander maniere, om dan terug te keer na my skryfwerk, dié keer met genoeg geld om onder andere iemand te kan betaal om my materiaal te proeflees, en dalk selfs ’n paar klasse te kan kanselleer en sodoende meer van my eie tyd te besit.

______________________