Hoe sal dit uitwerk as godsdienstige mense eerliker moet wees?

VRYDAG 15 JULIE 2016

Ek was ’n gewoonteroker vir omtrent veertien jaar lank. Ek het geen illusies gehad oor die effek wat dit gehad het op my gesondheid nie. En, soos ander rokers, is ek gereeld gekonfronteer deur mense wat gereken het dit was hulle plig om my in te lig dat dit ongesond is om te rook.

“Weet jy nie dat jy longkanker of emfiseem kan kry nie?” sou hulle vra.

Ek weet, sou ek sê. Spaar my die toespraak. Jy kan my niks vertel nie. Ek gaan nie eers probeer op met jou te argumenteer nie.

“As jy weet,” sou my goed bedoelende vriend of familielid reageer, “hoekom op aarde rook jy dan nog?”

Want, sou ek antwoord, ek het dit nodig.

Ek glo daar is ’n parallel tussen die gesprek wat rokers het met nie-rokers, en die gesprek tussen ateïste en teïste oor laasgenoemde se geloof.

Vele sogenaamde gelowiges spaar geen moeite om agnostici en ateïste te probeer oortuig dat daar meer as genoeg bewys is vir die bestaan van God nie (kan enige goddelike figuur wees, maar kom ons beperk ons vir die oomblik tot die god van die monoteïste, en dan meer spesifiek die Christelike religie – derhalwe die term “God” met ’n hoofletter). Hulle sal wetenskap inspan. Hulle sal beroemde wetenskaplikes soos Albert Einstein aanhaal. Hulle sal verwys na insidente en ervarings in hul eie lewens. Hulle sal ook probeer om hulle teenstanders te betrap met ’n bek vol tande. “Wat sê jy daarvan?” sal hulle vra na een of ander vertelling, en dan hulle arms tevrede vou.

Feit is, in die intellektuele stoeigeveg tussen mense wat glo in die bestaan van God, en mense wat nie glo in die bestaan van God nie, het eersgenoemde die opdraande stryd. Al wat die nie-gelowige hoef te vra, is “Hoe weet jy?”

As iemand beweer water kook teen ’n sekere temperatuur, en iemand anders kyk hom ongelowig aan en vra hoe hy dit weet, kan die een wat die bewering gemaak het eenvoudig ’n pot water op ’n warm plaat sit, ’n termometer daarin druk, en – voila! – na ’n paar minute is die bewering gestaaf. Indien die ander persoon wil argumenteer dat dit ’n vloekskoot was, kan hulle dit weer doen, of nog beter – die “ongelowige” kan dit self probeer, met presies dieselfde resultaat.

“Hoe weet jy God bestaan?” is ’n tameletjie vir gelowiges want hulle kan die bestaan van God nie bewys nie. Hulle sal sê hulle kan dit bewys, maar nie met dieselfde sekerheid wat die waterkoker kan bewys dat water kook teen ’n bepaalde temperatuur nie. Die bestaan van God kan eenvoudig nie bewys word nie. Nie dat die uitdaging baie gelowiges afskrik nie.

Dis op hierdie punt waar ek wil terugkom by die roker wat sê: Ek weet. Jy kan my niks vertel nie.

In stede daarvan dat gelowiges warm onder die kraag raak en almal van Plato tot Einstein aanhaal en praat van die kompleksiteit van die vlieg se oog en die hitte van die son om te probeer bewys dat God bestaan, wonder ek hoe dit sal uitwerk as die gelowige ook moet terugstaan en sê: “Ek weet. Jy kan my niks vertel nie. Ek het Sam Harris se End of Faith gelees. Ek het Richard Dawkins se God Delusion gelees. Ek het Hawking gelees. Ek het al van daai Christopher Hitchens video’s op YouTube gekyk. Ek weet presies wat jy vir my gaan sê. En ek kan nie regtig veel teen dit sê nie. Ek kan nie die bestaan van God aan jou bewys soos iemand kan bewys dat water kook teen ’n sekere temperatuur nie. Ek meen, ek kan jou vertel van tye wat ek gebid het, en wat sekere dinge gebeur het, wat ek gesien het as bewys dat God my gebed aangehoor het, en besluit het om in te gryp. Maar ek weet jy gaan praat van ‘confirmation bias’ en so aan. Ek moet eerlik wees: Ek sien jou punt. Die onus is definitief op my om te sê hoekom ek aan die bestaan van God glo, en ek kan niks sê wat jou tevrede sal stel nie. Ek verstaan jou argumente ten volle.”

Hoekom glo jy dan, as jy nie kan bewys dat dit waar is nie, sal die nie-gelowige vra.

“Want, ek het nodig om te glo,” sal die gelowige antwoord. “Ek wil glo. Ek hoop regtig van harte dat God bestaan, en dat daar ’n lewe na die dood is.”

Goed en wel, sal die nie-gelowige sê, maar as wat jy sê waar is, as die God van Jesus en Moses en Paulus werklik bestaan, en dat daar lewe na die dood is, wat dink jy sal gebeur met agnostici en ateïste en ander mense wat hulle oortuigings op rede en wetenskap en logika baseer? Wat sal word van mense soos ek?

“Om eerlik met jou te wees,” sal die gelowige begin, “ek weet nie. Ek glo aan ’n genadige god, ’n god wat nie nodig het dat mense moet bevestig dat hy bestaan nie. Die god waaraan ek glo, is nie ’n onseker god nie. So vir al wat ek weet, is ek en jy albei oor honderd jaar in die paradys, besig om land en sand te gesels oor iets anders.”

Hoekom nie? Hoekom is bogenoemde so ’n onwaarskynlike posisie vir vele volgelinge van die Christelike religie om in te neem?

Is dit omdat dit nederigheid sal vereis? Is nederigheid nie ’n Vrug van die Gees nie? En indien ’n persoon wat self-identifiseer as Christen dan so ’n groot probleem het om nederig te wees, kan hy of sy werklik dan beweer dat hulle ’n Christen is – of is dit nie so eenvoudig nie?

Is dit omdat vele Christene glo aan ’n god wat kwaad is? Is dit omdat hulle glo aan ’n god wat wil straf, aan ’n god wat die mens geskep het om ons te toets? En wat die mens straf as hulle faal. Glo, of ek straf jou? Glo reg, of dra die gevolge?

Is dit hoekom gelowiges so kwaad raak vir ateïste – omdat laasgenoemde dit durf waag om nie reg te glo nie?

Hoe sal dit wees as Christene eerliker moet wees, met ander mense en met hulleself? As hulle nie die bose ateïs vrees nie, maar hom of haar sien as net nog ’n weerlose mens wat probeer om sin te maak van sy lewe en die wêreld om hulle? Hoe sal dit werk vir die Christen as hy of sy moet antwoord op vrae van nie-gelowiges met ’n eerlike, “Ek weet nie”? As hulle moet erken dat hulle glo omdat hulle wil glo? As hulle moet erken dat hulle glo omdat hulle nodig het om te glo? As hulle moet toegee dat ’n onpersoonlike kosmos sonder God te eensaam is, en sonder doel en betekenis? As hulle moet erken dat hulle glo omdat hulle hoop dit waarin hulle glo is waar, al kan hulle niks onteenseglik bewys nie?

Is dit nie waar dat die gelowige en die ateïs en al die grade van gelowige en ongelowige tussen in almal maar net mense is wat dit deur nog ’n dag en nag probeer maak nie?

Wat help dit om onredelik te wees? Wie baat daarby?

______________________

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui