HOE DIE KRAGTE DANS
Dat alles om mag wentel, is een van die belangrikste dinge wat ek geleer het op die bedrieglike pad na volwassenheid. Ook geld hierdie waarheid nie net op die politieke en ekonomiese terreine nie, dis net so geldig op die terrein van persoonlike verhoudings.
Enige persoon wat ooit gelukkig genoeg was – of ongelukkig, hoe dit ook al sy – om in ‘n intieme verhouding met iemand anders te kon wees, sal vir jou kan sê dat beide partye altyd geweet het waar hulle staan in die magsbalans. In die ideale verhouding is albei partye natuurlik gelyk, selfs al is die een soms in ‘n beter emosionele toestand as die ander, en derhalwe beter in staat daartoe om sake, vir die oomblik, te dikteer. Maar die feit dat die party-in-beter-gemoed elke nou en dan wissel, bevestig die basiese gelykheid van die twee partye.
Hierdie beginsel geld ook vir vriendskappe. Daar mag tye wees wat die een vriend meer in beheer is van ‘n situasie, en meer oortuig is van hom- of haarself. In sulke gevalle sal die ander vriend amper instinktief die onderdanige posisie inneem. Hierdie rolle kan verander so gou as wat die onderwerp van bespreking verander, of wanneer ‘n situasie ontwikkel waarmee die een persoon meer gemaklik is.
Dieselfde verskynsel manifesteer ook op subtiele wyses in sosiale omgang tussen vreemdelinge. Wanneer twee mense mekaar vir die eerste keer ontmoet (sê by ‘n braai, of by ‘n drink-en-dans-ruimte), onderneem die brein ‘n spoed-profiel-samestelling. Feite word gesoek en gerangskik in ‘n voorlopige begrip van magsbalans. Is die persoon vriend of vyand? Is hy cool, of is hy ‘n loser? Is sy iemand wie se naam ek behoort te onthou, of moet ek net haar hand papperig skud terwyl ek oor haar skouer soek na iemand wat my belangstelling meer prikkel?
Afhangende van die voorlopige antwoorde op hierdie vrae, besluit ons waar ons staan in die magsbalans met hierdie vreemdeling. As die persoon gereken word as ‘n nie-bedreigende, potensiële vriend wat die indruk skep dat hy of sy weet watter woorde om in watter konteks te gebruik, dan word die volgende vraag opgestuur na die Hoër Orgaan toe: Moet ek hom/haar as ‘n gelyke behandel, of as iemand wat ek nie sal omgee om saam te sleep as ‘n bewonderaar nie; of moet ek definitief hierdie persoon se guns probeer wen omdat, a) die persoon meer weet as ek, b) meer ervaring het as ek, c) iets het wat ek wil hê, of d) ek die persoon beskou as my meerdere om al drie redes en nog ‘n paar ander?
Jy mag dalk dink dat hierdie hele denkproses die grootste deel van ‘n minuut opneem, maar in vele gevalle is al hierdie vrae reeds beantwoord teen die tyd wat die handdruk, of knik van die kop verby is. Die faktore wat die antwoorde van hierdie vrae bepaal sluit in voorkoms; die intensiteit van ‘n glimlag; die entoesiasme, of afwesigheid daarvan, wanneer die ander persoon gegroet word; mense saam met wie jy, of die ander persoon is as julle aan mekaar voorgestel word; of enige inligting wat die persoon oor jou beskik het voordat hy of sy jou persoonlik ontmoet het, of inligting wat jy oor die ander persoon beskik.
In sommige gevalle is dit moontlik dat ‘n aanvanklike swakkerige beskouing van jou verander sodra die ander persoon sekere dinge oor jou wysraak. As die persoon byvoorbeeld moet uitvind dat jy ten spyte van jou eksentrieke voorkoms, “sal ons maar net sê, finansieel baie gemaklik is”, sal jy heel moontlik ‘n onmiddellike houdingsverandering teëkom op jou terugkeer van die badkamer af.
Natuurlik, soos met die meeste dinge, kan die teenoorgestelde ook gebeur. Jy mag dalk reken jy’t ‘n blywende indruk gelaat met die fyn sinchronisasie tussen kleredrag en fantastiese mites wat jy oor jouself versprei het, maar teen die derde keer wat jy iemand raakloop wat aanvanklik gedink het jy’s ‘n held, vind jy tot jou ontsteltenis dat die persoon intussen onder ‘n sterker figuur se vlerk ingekruip het. (Of miskien het jy te veel geleun op jou staaltjie van die tyd toe jy en ‘n lid van die onttroonde Burmese koningshuis gevlug het deur die oerwoud van Viëtnam, net om te vind julle is in werklikheid in Thailand, en dat hy jou persoonlik verantwoordelik hou vir die feit dat hy malaria het. “Van wanneer af het almal sulke stories?” sal jy wonder, terwyl jy die vertrek deursoek na ‘n nuwe groep mense om te beïndruk.)
Dit is helaas, nie net die onaanraakbares van Indië wat ‘n stryd voer met ‘n kaste-stelsel nie. Alle gemeenskappe het hiërargieë en klasse wat kruis-en-dwars oormekaar vleg. Almal, van die rykstes tot die armstes, van die koelste boekhouer tot die mees verveligste popster, moet probeer byhou met wat hulle plek bepaal op die mags-hiërargie in die omgewings waarbinne hulle beweeg. Iemand moet eintlik ‘n soort poeier ontwerp wat ‘n mens oor ‘n sosiale bymekaarkoms kan sprinkel om werklike opinies en agting te ontbloot wat mense het vir dié rondom hulle. ‘n Paar geheime bewonderaars mag dalk ontmasker word, maar die kanse is aansienlik beter dat ‘n paar opgeblase ego’s die nietigheid in geprik sal word.
(1 Junie 2001)
