Hiërargie van verhoudings

SONDAG 3 OKTOBER 2004

02:34

Daar is ’n hiërargie van verhoudings: Heel-bo het jy die “sielsgenoot”, dan kry jy die “lewensmaat”, dan die “metgesel”. En dan, al is iemand nie jou sielsgenoot nie, al het julle nie eens genoeg in gemeen om metgeselle te wees nie, en dan definitief ook nie om lewensmaats te word nie, kan julle steeds ’n funksionerende verhouding hê as “minnaars”.

Dit is natuurlik ook so dat jou sielsgenoot ook jou lewensmaat, jou metgesel en jou bedmaat kan wees. Ook dat jou metgesel jou bedmaat is, maar nie jou lewensmaat of jou sielsgenoot nie. En dit is ook moontlik dat jou sielsgenoot nie iemand is met wie jy ooit ’n intieme verhouding sal hê nie. Jou sielsgenoot mag dalk ’n vriend of vriendin wees. Dit mag ook wees dat ’n man sy sielsgenoot vind in ’n vrou wat getroud is met ’n ander man, wat lief is vir haar eggenoot, en toegewyd is aan haar huwelik.

Terloops, wat is ’n sielsgenoot? En wat is die rol van ’n lewensmaat … en ’n metgesel … en ’n bedmaat?

11:48

Die opvatting bestaan dat mens noodwendig seksueel aangetrokke moet wees tot jou sielsgenoot. Hoekom? Die verwagte proses loop soos volg: ’n man en ’n vrou ontmoet mekaar (om een voorbeeld te noem op die seksuele spektrum); hulle is seksueel aangetrokke tot mekaar; hulle vind in mekaar hul sielsgenote; hulle word lewensmaats; hulle verseël hul verhouding in ’n huwelik, om dan gelukkig te wees tot die einde van hul aardse bestaan.

Wat van as mens reeds jou sielsgenoot gevind het in iemand van dieselfde geslag as jy, maar nie jy of die ander persoon is homoseksueel nie? Of wat van as jy jou sielsgenoot vind in iemand van die teenoorgestelde geslag, maar jy’s nie seksueel aangetrokke tot die persoon nie? Hou jy aan soek tot jy ’n sielsgenoot vind in iemand van die regte geslag tot wie jy seksueel aangetrokke is? Dis belaglik! Gaan jy ’n eensame, sekslose bestaan voer tot jy hierdie persoon gevind het? Dis totaal onnodig, en dit dien geen doel nie!

Dis absurd om sulke vereistes te stel aan iemand wat jy wil date, en dis belaglik om te verwag dat jou sielsgenoot noodwendig ’n aantreklike, enkellopende man of vrou moet wees waarmee jy graag sal wil uitgaan.

Laaste vraag: Kan jy lief wees vir iemand as hy of sy net jou bedmaat is, en nie jou sielsgenoot nie? Antwoord: Natuurlik.

______________________