Heer van Ellende – identiteit – sirkel van lewe

SONDAG 2 OKTOBER 2005

’n Vraag wat soms hardop gevra word, en soms net in stilte gekontempleer word: “Hoe behoort ek te lewe?”

MAANDAG 3 OKTOBER 2005

Soms voel dit asof ek gereeld ’n nuwe saak bring na die hof van die Heer van Ellende, in ’n poging om hom te oortuig om my genade te betoon en my vry te maak as een van sy pagters.

Let wel, ek offer niks. Ek stel net keer op keer my saak, menende ek hoop om die heer te oortuig om my toe te laat om my gevoel van ellende te laat gaan, dat ek nou maar gelukkig kan wees, want …

Die Heer van Ellende sê dan net: “Dis die nuwe status quo.”

Ek sal dan vra wat dit beteken. Geen antwoord sal volg nie.

Ek sal besig raak met ander dinge tot ek later weer dieselfde saak stel. Sê die Heer van Ellende dan: “Waarvan praat jy? Hierdie is al jou status vir maande lank! As jy genade wil hê, bring vir my ’n nuwe saak!”

En dis dit.

Dit bring mens amper in die versoeking om te sê: Fok die Heer van Ellende. Wie het hom in elk geval aangestel oor my lewe?

WOENSDAG 5 OKTOBER 2005

Ek bestaan. Ek bestaan as ’n seun, ’n broer, ’n vriend, ’n minnaar, ’n digter, ’n skrywer, ’n onderwyser, en as ’n Westerling in ’n land in Noordoos-Asië.

Ek het nie altyd bestaan in al hierdie hoedanighede nie. In watse ander hoedanighede sal ek nog bestaan?

SATERDAG 8 OKTOBER 2005

19:08

As jy net oorleef, het jy nie noodwendig identiteit nodig nie. Oorlewing vereis soms net dierlike instink. Indien jy jouself wil aanwend tot oorlewing-plus, sal spesifieke identiteit uiters handig wees.

19:10

Elke oomblik in ’n mens se lewe is ’n volle sirkel van lewensdata. Die sirkel is konstant besig om te vibreer, maar dit is altyd vol. Sirkel-081005@19:11:38 is nie dieselfde as Sirkel-081005@19:11:39 nie. Ooreenkomste wissel van 99.99% tot veel minder.

Die mens se lewe is ’n konstante vloei van sirkels – of dan, ’n konstante vibrasie soos een sirkel oorgaan in ’n volgende sirkel.

Persoon X is die as waarom Persoon X se sirkels draai.

Verskille in inhoud van die sirkels raak duideliker hoe meer tyd verloop tussen sirkels. Belangrik egter om te onthou: elke sirkel is 100% vol.

Hoe meer data, en hoe meer uiteenlopend die inhoud, hoe ryker die lewe.

Risiko neem ook toe soos data vermeerder. Meer data kan egter ook kanse op oorlewing bevorder.

______________________