hande
i
jong mans en dames sien sy in die park
deftig uitgevat, glinster hulle, soos kristal, of glas
maar sy self bly onsigbaar, onaanraakbaar
sal sy voortgaan om haar eie hande vas te hou
stap sy deur die strate, pratend met haarself
wil amper roep vir iemand om te help
kyk sy honger rond vir slote of vir gate
sy moet tog weet: die tyd kom al hoe nader
luukse motor draai stadig om die hoek
skyn sy ligte op ‘n weelderige ou gebou
sy kyk weg, begin haar een hand uitsteek na die ander
in haar verslete jas se uitgerekte regtermou
ii
sy sien kaalvoet seuns en meisies in die park
maar sy self is uitgevat, haar juwele glinster teen haar vel
tog wil niemand na aan haar begrip of deernis wys nie
sal sy noodwendig dan haar eie hande vas moet hou
ry hul deur die strate, haar gedagtes hou sy vir haarself
sy kon uitroep, as sy wou, vir iemand om te help
selfs rond begin te soek vir pille of ‘n hospitaal
sy moet tog weet: die tyd kom al hoe nader
hulle luukse motor draai stadig om ‘n hoek
skyn sy ligte op die weelderige ou gebou
sy kyk weg, begin haar een hand uitsteek na die ander
in haar warm jas se ander mou
___________
