GERUGTE OOR ‘n VAKANSIE

Deur 12 - 03 - 2002

[Die vroeë oggende en ekstra klasse van November af het my in staat gestel om weer die reisagent se telefoonnommer te gaan uitkrap waar ek dit twee jaar tevore gebêre het. Vanaf Januarie het ek die dae en weke begin tel...]

———————

Eersdaags In Jou Distrik

“Geagte Kamerade, Rol Oop die Baniere! Kaptein Ben Brandwag is Eersdaags in Jou Distrik! Ja Vriende, die Legendariese Held van die Vreemdste Legioen arriveer om 0850 op Saterdag, 16 Maart 2002 op Kaapstad Internasionale Lughawe. Vir Openbare Veiligheid Word die Publiek Vriendelik Versoek om nie Optogte te Organiseer nie, en ook om Baniere van Verwelkoming te beperk tot nie meer as Twintig Meter in Lengte, en Vyf Meter in Hoogte nie. Meer Inligting sal Bekend gemaak word soos die Tyd Onvermydelik Nadersleep. Groetnis dan vir Eers, en Voorwaarts Stryders vir Progressiewe Kuns en Kultuur!”

~ Uit ‘n e-pos (24 Januarie 2002)

Sommer Net ‘n Brief Aan ‘n Ou Geliefde

“Ek is bevrees my timing is weer uit, want dis nou al middernag hier, en ek is nie seker watter tyd kantoormense in daai land soos besetenes by die deur uitstorm vir vars lug en vryheid nie. Nietemin is ek besorgd oor hoe jou dag verloop.

[...]

Ek het natuurlik altyd staande planne om [vir julle te gaan kuier, wat] ten minste vir my aangenaam sal wees. Sedert ek julle laas gesien het, het ek nog ‘n miljoen brokkies wysheid en insig vergader oor die lot van die mens in die moderne wêreld. Soos gewoonlik, kan ek nie hierdie opinies vir myself hou nie, so by so dat die plaaslike bevolking nou al weekliks in troppe by my woonstel bymekaarkom met notaboekies oopgeslaan vir die nuutste uitbarsting.[*]  Ek het dus nuwe opwinding nodig.

Miskien weet jy, of miskien nie, maar ek eet volgende Saterdagoggend ontbyt op Stellenbosch [...]. Ja, dit is wel so dat ek na twee jaar se afwesigheid weer my eerlike bakkies gaan uitstal in die Kaap. Daarna vat ek my toer verder Noord voor ek terugkeer na my hoofkwartier op hierdie lieflike stukkie aarde. (Teen daai tyd sal vriende en familie in elk geval op hulle senuwees raak die oomblik as ek my gesig by ‘n venster insteek, met ‘n diep insig oor die geheime van die lewe warm op my tong.)

Elk geval, as jy nog nie halfpad huis toe is nie, geniet jou naweek, en gooi vir jouself ‘n stywe ene by die huis – voor jy jou voete teen die muur druk, en aan die slaap raak met ‘n sigaret wat die tapyt aan die brand steek. As jy reeds op pad is huis toe en hierdie nota eers Maandag of Dinsdag kry, hoop ek bogenoemde dinge is wel gedoen.”

* [Uit die aard van die saak oordrewe snert. Niemand het gekom met notaboekies nie...]

~ Uit ‘n e-pos (9 Maart 2002)

Kennisgewing Aan Twee Menere

“Menere, daar’s ‘n tyd vir rewolusie, en daar’s ‘n tyd vir oorlog. Daar’s ‘n tyd vir lieg, en dan’s daar ‘n tyd om die waarheid te vertel. En, soos met ander sterflinge ook die geval is, is daar ‘n tyd vir my om tydelik terug te keer na die Grond van My Geboorte. [...]

Hierdie oorwinningstoer (is daar enige ander manier om dit te beskryf?) sal uit die aard van die saak ook ‘n draai gooi in die blink stad van Johannesburg, [...].

[...] moontlike koppie tee en melktert. [...] tydelike vlug uit die land van te veel rys [...] telefoniese verbinding [kan] met hom gemaak word op Woensdag, 20 Maart deur die volgende nommer in te pons in die naaste selfoon: [...].

Nuus in dié verband sal so gou as wat beleefd is, verwelkom word.”

~ Uit ‘n e-pos (14 Maart 2002)

Die Nuwe Brand

“Ek waardeer die kommer, en ten spyte van die stilte kan ek jou verseker dat die ‘vakansie-idee’ nie ‘n bose komplot was om myself mee te vermaak nie – dit weet ek uit die twee tasse wat alreeds op die sitkamerstoele staan (waarvan een reeds gepak is).

Ek land steeds om 9:00 Saterdagoggend in die Kaap, en hoewel ek voorheen bekend was as ‘n onaantreklike natuurfrats, lyk ek nou soos Jan Wilkens met die voorkop van sestien 17-eeuse filosowe (of is dit sewentien 18e-eeuse filosowe?). Hou dit in gedagte wanneer julle ‘n ou foto van my teen die inkomende skare hou, om sodoende te verseker dat julle nie per abuis die verkeerde held om die hals val nie.

In kort dus, ek is steeds op pad [...].”

~ Uit ‘n e-pos (12 Maart 2002)

Hierdie inskrywing dateer: 12 - 03 - 2002 om 00:18 en sorteer onder Boek Een. [...]

Gesluit vir kommentaar.