geografie
nuwe behuising trek
lyne skuins oor my planne
my oë op skrefies tuur ek
deur ander vensters na bure se mure
veronderstel ek weet van meer
as net lewe en dood en pype vol muise
sou ek die preke van ouds kon memoriseer
het ek te veel geleer van oumenstehuise
ek loer soms te diep in die bottel van tyd
skryf notas op vloere met potlood en kryt
byt soms ‘n knippie te veel
af van geel-verouderde reëls
na nuwe behuising moet mens soms trek
die werk van ‘n man soos ‘n vrou mos nooit klaar
maar ek skryf maar my lyne en hou maar my bek
trek my oë op skrefies tot volgende jaar
(Sondag, 14 September 2003)
___________
