Geloofwaardigheid – die omgewing en proses van die intieme verhouding

WOENSDAG 15 JUNIE 2005

’n Hele paar gedagtes staan in lyn vir ’n stukkie papier […] Ek kom agter dat ek ’n hang-up ontwikkel wat betref geloofwaardigheid. Ek kan honderde bladsye teks op die tafel neerlê wat ek sover geproduseer het, maar … tot nou toe is niks gepubliseer nie! […] Aag tog! Iets moet gedoen word!

Papier is papier; ink is ink; en soos ek hier sit in my grys onderbroek en grys T-hemp, op die rooi stoeltjie by die lessenaar in die kombuis met die blou waaier wat raas en die reën wat buite drup, is gevoelens, gevoelens. En soos dit is, slaag mens nie altyd daarin om in ’n nota aan jou latere self te probeer verduidelik, op papier, in ink, presies hoe jy gevoel het op daai oomblik nie.

So, wat ek voel is frustrasie … nee, ongeduld, want ek sien die wenstreep, of die bestemming waaroor ek vir jare al profeteer. Ek sien dit, want dit is naby. Die probleem is dat ek nie reguit soontoe hardloop nie. Ek skuifel-draf teen ’n halwe sentimeter per uur, van links na regs en regs na links, dan slaan ek bollemakiesie en stap eers terug na die begin voor ek besef ek moet omdraai, dan gly ek eers oor my eie broekspype, skuifel voort teen een sentimeter per uur vir twee ure, raak aan die slaap van verveling en verloor weer my spoor … en so karring ek aan.

Ek het nodig, ter wille van geloofwaardigheid, om te produseer, met amptelike verifikasie van sukses.

DONDERDAG 16 JUNIE 2005

Reën – al vir vyf dae aaneen, eindelose wasgoed, skottelgoed, geloofwaardigheid as ’n skrywer en entrepreneur, en ’n nuwe vraag: is ek ietwat verleë oor die effek wat ’n intieme verhouding op my het? Dit beïnvloed wat ek sê en hoe ek dit sê; dat, en waaroor ek soms apologeties is; en dit laat my verskyn aan iemand soos ek voorheen net aan myself verskyn het – bedoelende finansiële status, my status as ongepubliseerde skrywer, die werklikheid dat ek werk aan talle sogenaamde geld projekte … wat nog nie geld maak nie.

Nog ’n vraag (’n noodsaaklike een): voel ek so goed oor myself in ’n intieme verhouding soos wat ek gevoel het op my eie?

Soos ek besig was om die vraag neer te skryf, het ek besef dis gelaai met misverstand en ongesproke detail. Was ek altyd gelukkig op my eie? Het ek verwag dat ek in ’n verhouding te alle tye gelukkig sal wees? Die antwoord op beide is, nee.

Hier’s my advies aan myself: ’n Intieme verhouding is ’n omgewing waar jy weereens gekonfronteer word met jouself – ’n omgewing wat op kardinale wyses verskil van die een waarin jy op jou eie was. Dit bied aan jou ’n nuwe spieël waarin jy na jouself kyk. Dit is ’n omgewing waar konflik, beide groot en klein, ’n gereelde verskyning maak. ’n Verhouding is ook ’n proses waartydens jy jouself weereens moet definieer – wie jy is, wat jy is, waar jou plek in die wêreld is, wat jou ideale rol is, wat jou relatiewe waarde is as ’n mens (en as moontlike rolspeler), wat jou sterkpunte en jou swakhede is, wat die toekoms moontlik vir jou kan inhou, hoeveel geld jy nodig het om nie net te kan oorleef nie, maar om te wees wie jy wil wees en te doen wat jy wil doen.

Soos die omgewing van die Woestyn (selibaatheid en alleenheid), so ook is hierdie omgewing en die gepaardgaande proses beide konstruktief en destruktief, beide positief en negatief; soms lei dit tot ’n bewussyn van geluk, soms tot frustrasie; soms lei dit tot ’n afname in positiewe selfbeskouing en vertroue in jou potensiaal en vermoëns, soms bevestig dit jou bestaande positiewe selfbeskouing en vertroue in jou potensiaal en vermoëns, en soms is dit bevorderlik vir ’n versterking van laasgenoemde.

’n Intieme verhouding is ’n lewende omgewing, waar geduld, liefde en wedersydse aanvaarding sal lei tot vervulling van veel meer as net fisiese behoeftes. In die ideale situasie sal dit lei tot ’n ryker ervaring van menswees. Natuurlik sal ’n intieme verhouding ook soms lei tot pyn, teleurstelling en frustrasie. Dit is ’n omgewing waar eerlikheid en opregtheid hoog op die prys gestel moet word. Dit is ’n proses wat gekoester moet word, selfs al moet jy ook soms die minder aangename aspekte verduur wat deel sal wees van enige situasie waarin twee mense in gereelde en intieme gemeenskap verkeer.

SONDAG 26 JUNIE 2005

Sê ’n Christen karakter in ’n movie vir ’n ander ou, “Jesus will save us.”

Antwoord die ander ou met, “I don’t believe that.”

Slaan die Christen ou terug met, “Your beliefs have no bearing on the facts.”

MAANDAG 27 JUNIE 2005

01:22

’n Gekrap deur bokse, ou gemors, en stukkies papier wat A.W.O.L. gegaan het oor die jare lei my tot die hernude besef dat ek nie gister ontstaan het nie. Ek kom al ’n lang pad.

17:58

Hoe dink ’n mens? Mens praat in klanke, en lees visuele voorstellings van die klanke – maar hoe dink ’n mens? Wat is die woorde in jou kop?

______________________