Geloofwaardige identiteit in ’n nuwe gemeenskap

VRYDAG 13 FEBRUARIE 2004

In 2000 wou ek nie net “Brand” gewees het wat kitaar of klavier kon speel nie – ek wou “Brand die Musikant” wees. ’n Kritieke lae selfbeeld het ’n desperate poging aangevuur om ’n aspek van ’n sosiale identiteit te ontwikkel wat my goed sou laat voel het oor myself.

Helaas, my ambisie was hopeloos onrealisties. Ek wou soos John Williams (die klassieke kitaarspeler, nie die komponis nie) kitaar speel binne enkele maande, en ten minste darem met albei hande klavier binne dieselfde tydperk. Onvermydelike mislukking het my laat verval in die slegste gemoedstoestand wat ek ervaar het tot op daai tydstip in Taiwan. (My werksituasie het petrol by die vuur gegooi. Ek het meeste van my klasse aangebied by ’n laerskool waar die helfte van die sewejariges my geïgnoreer het tydens die klas, ’n kwart opgelet het die helfte van die tyd, en die ander kwart nie kon wag vir my om buite toe te gaan ná die klas sodat hulle grond na my toe kon gooi nie.)

Die musikant issue het natuurlik nie gegaan oor die kitaar of die klavier nie; dit het gegaan oor hoe ek myself gesien het, hoe my sosiale identiteit en status in die gemeenskap gemerk was, en hoe ek dit wou hê.

Na watse gemeenskap verwys ek hier? In 2000 het daar amper oornag ’n vloed ander Suid-Afrikaners in Kaohsiung aangekom. Ek was dus weer uit die bloute gekonfronteer met die vraag na wie ek was – nie net in ’n breë eksistensiële sin nie, maar tussen mense van my eie ouderdom, van my eie land, wat my taal gepraat het.

My liefde vir musiek, en die agting en respek wat ek altyd gehad het vir mense wat musiekinstrumente kon bespeel, het die idee teen die middel van daai jaar by my laat posvat dat die etiket van die “Musikant” verreweg die mees ideale een was vir my behoefte. ’n Enkele snit op die Pearl Jam album No Code het nie gehelp om hierdie beskouing te verhinder nie. Ek was so gehipnotiseer dat ek enkele dae na ek die CD gekoop het, uitgegaan het en vir myself ’n elektriese kitaar aangeskaf het.

* * *

As ek nooit Korea toe gegaan het nie, en derhalwe ook nie Taiwan toe gekom het nie … as ek in Pretoria moes bly vanaf April 1996 (hopelik nie vir langer as drie maande in my suster se sitkamer nie), sou ek genoodsaak gewees het om my identiteit as ’n volwassene te definieer in die meer bekende habitat van my eie land, tussen mense van my eie kultuur, wat my moedertaal gepraat het. Dit sou heel moontlik faktore soos my ongunstige sosio-ekonomiese status moes insluit, en ek sou dalk ander maatreëls moes tref om beter te voel oor myself.

Wat egter gebeur het, was dat ek in die dubbel vervreemding van Korea beland het – as Westerling in ’n stad van 800 000 Koreane, en enigste Suid-Afrikaner en Afrikaansprekende in die gemeenskap van buitelanders. My proses van identiteitsvorming het weereens ’n skoktydperk binnegegaan – soos die sosio-ekonomiese skok van “middelklas” na “armblank” in 1985.

Sou ek ’n “ander mens” gewees het as ek teen Junie 1996 ’n werk gekry het in Pretoria? Natuurlik, maar ek glo ook dat die kern van die mens se persoonlikheid tot ’n groot mate gevestig is en bloot reageer op verskillende omgewingsfaktore. “Korea Brand” was die resultaat van 22 maande in daai land en die dubbel vervreemding wat ek ervaar het. “Pretoria Brand” het nooit ontwikkel verder as die aanvanklike drie maande nie.

Sou “Pretoria Brand” steeds ’n “skrywer” geword het? Moontlik. Die kreatiewe aspek van my identiteit het immers reeds teen 1994 begin ontwikkel in Stellenbosch, en dit was verbind aan vorige tye wat die potensiaal vir hierdie bousteen van identiteit gemanifesteer het.

Wat belangrik is hier, is geloofwaardige identiteit. Ek was nooit ’n geloofwaardige “Brand, die Musikant” nie. Ek het dit geweet, en het desperaat probeer om geloofwaardigheid op te bou in ’n belaglike kort periode.

Is “Brand, die Skrywer” ’n geloofwaardige identiteit? Ja, en nie omdat ek dink my teks is dit werd om gepubliseer of gelees te word nie. Wat belangrik is – en ek het dit al vele kere genoteer, is dat ek skryf, dat ek genoeg skryf, en dat ek al genoeg geskryf het teen hierdie tyd om in my eie oë geloofwaardigheid te hê as ’n skrywer.

* * *

Ek was in Korea gekonfronteer met ’n omgewing waar, anders as 1995 en vroeg ‘96, ek myself gereeld aan ’n groot groep van my tydgenote moes kon identifiseer. Ek was onseker hoe om dit te doen. Ek was onseker oor wie “Brand Smit” was, en oor wat dit beteken het om “Brand Smit” te wees. Ek het gesoek na leidrade, antwoorde … en waar gaan soek mens anders as die grond waar jou naelstring lê, by wyse van spreke?

In my geval het ek middelklas suburbia geïdentifiseer as “ground zero”. Wat my in die gesig gestaar het, was egter die mislukking, persoonlik en dié van my familie, om in te pas en aanvaar te word deur die plek wat die leidrade moes oplewer oor wie en wat ek was. Die beskouing van myself as afstammeling van ’n bron wat altyd gedreig het om mens te aborteer, het my die bron in uiters negatiewe lig laat sien, om dit sagkens te stel.

Die mees ideale alternatief vir “middelklas suburbia” in die ontwikkeling van my identiteit kon gewees het die Christelike religie. Mens kon selfs sê dat my hele identiteitskrisis daar en dan beslis kon word. Probleem was, sedert 1993 het ek nie meer die Kerk, soos ek dit geken en gerespekteer het van kindsbeen af, beskou as ’n geloofwaardige instelling nie. Die noue verbintenis tussen die Afrikaner middelklas en die spesifieke vertakking van die Christelike religie waarmee ek ten nouste vertroud was, het my verder vervreem van beide.

Om op te som:

1. Ek was in Korea gekonfronteer met die noodsaaklikheid om myself te identifiseer aan dosyne van my tydgenote; veel meer mense, en op persoonliker vlak, as in 1995 en vroeg ‘96.

2. Ek het gesoek na antwoorde en leidrade in die plek waar my wortels gelê het. Hierdie plek het ek geïdentifiseer as “middelklas suburbia”. Ek was egter bewus van die feit dat hierdie plek (omgewing en gemeenskap, in die breë sin van die woord) nie my en my familie se wortels wou aanvaar nie – of kón aanvaar nie, volgens kwalifikasies wat sekerlik enige gemeenskap se reg is om aan potensiële lede te stel. Wat hier ter sprake is, is nie soseer middelklas suburbia se standaarde rakende finansiële welstand en stabiliteit nie, maar dat hierdie spesifieke omgewing, met sy spesifieke kultuur, waardes en idees, nie vir my kon dien as ’n geloofwaardige bron van identiteit nie.

3. Die mees ideale alternatief kón gewees het die Christelike religie, maar ook dit was vanaf 1993 nie meer vir my ’n geloofwaardige bron nie, vanweë my toenemende gebrek aan geloof in die Oorgelewerde Tradisies van die Gevestigde Kerk.

4. Konklusie? Ek was in die moeilikheid. Ek moes baie dieper gaan grawe vir leidrade en idees oor wie en wat ek was, en wou wees, en ook in watter omgewing ek hierdie persoon wou wees.

* * *

In 2000 is ek weer gekonfronteer, dié keer in Taiwan, met mense aan wie ek myself moes identifiseer, nadat ek weereens ’n jaar in obskure anonimiteit gefunksioneer het – waar net die mees basiese data oor myself goed genoeg was.

Soos ek reeds genoem het, was die “Musikant”, in my opinie, die mees ideale vooraf verpakte, en vooraf goedgekeurde identiteit waaraan ek in my onsekerheid en angs oor my eie waarde kon dink, maar een waarvoor ek nie geloofwaardigheid kon opbou in die kort tyd wat ek nodig gehad het om dit te doen nie.

Dit wil dus voorkom asof deelname en lidmaatskap aan ’n nuwe gemeenskap – waar jy jouself in redelike groot kleur en detail moet identifiseer, lei tot verskerpte selfondersoek en hernude definiëring van identiteit, of die ontwikkeling van nuwe aspekte van identiteit, indien jy ontevrede is met wie en wat jy is binne daardie gemeenskap.

Dit volg ook dat die identiteit of aspekte van identiteit wat jy sal probeer ontwikkel, sal korrespondeer met wat goed en aanvaarbaar is vir hierdie gemeenskap waarvan jy deel wil wees.

Die alternatief vir aanvaarding en lidmaatskap in ’n gemeenskap is obskure anonimiteit – waar wie en wat jy is nie noodwendig aanvaar hoef te word deur ander mense in jou gemeenskap nie, solank jy jouself op jou eie besig hou, en nie moeilikheid maak nie.

______________________