Geloof en ontnugtering – eerlike verskyning

Val in, dis reeds DINSDAG 8 JANUARIE 2008.

Om sonder hoop te wees, en sonder geloof, is amper so erg soos om sonder liefde te wees.

WOENSDAG 9 JANUARIE 2008

Nou net onthou wat ek geskryf het ’n paar maande gelede: “Fight for the fighting spirit, for the sake of fighting for the fighting spirit.”

Hoekom? Hoekom staan jy op elke keer na ’n teleurstelling of ’n terugslag?

Jy staan op, want wat anders gaan jy doen? Opgee? Oudword binne weke, skielik sieklik, geïrriteerd, lus vir niks?

Fok dit. Count me in for another round.

SATERDAG 12 JANUARIE 2008

Ek is my eie grootste ondersteuner, vriend, raadgewer, en kameraad … maar, en dit is nie maklik om te erken nie, ek is ook my eie grootste struikelblok op die pad na sukses.

DINSDAG 15 JANUARIE 2008

Die dag kom wat ’n idee jou tref, en van daai dag af maak jy keuses om hierdie idee te realiseer. Soms is die reis lank, en vermoeiend – soos reise soms is. Bereik jy ’n kruising, dink jy soms jy ken die regte pad; ander kere is jy nie so seker nie. Elke week of ses sien jy nog ’n merker – in ’n struik, in ’n bos, onder ’n boom, of staangemaak bo-op ’n hoop klippe. Miskien nog twintig kilometer, lees die diep-geëtste letters in donker ink. Net sodat jy weet.

DONDERDAG 21 FEBRUARIE 2008

Die eerlikste verskyning wat mens ooit sal maak, is wanneer jy slegs aan jouself verskyn.

Probleem is, as jy altyd slegs aan jouself verskyn, sal jou kanse skraal wees om te ervaar wat beskryf kan word as geluk. Of jy ooit sal voel jou lewe het enige betekenis, is ook debatteerbaar. So, om geluk te ervaar en betekenis aan jou lewe te gee, verskyn jy aan ander mense.

Hoe belangrik is eerlike verskyning – vir jou? Hoe kan eerlike verskyning gedefinieer word? Kan jy geluk ervaar as jou verskynings nie eerlik is nie? Kan jou lewe waarde hê al is jou verskynings nie eerlik nie? (Ek dink, ja.) Kan jy ’n bewussyn hê daarvan dat jou lewe betekenisvol is as jou verskynings nie eerlik is nie? Kan jy ’n bewussyn hê daarvan dat jou lewe betekenisvol is al beteken jou lewe nie enige iets vir iemand anders nie, maar jou beperkte verskynings is eerlik?

VRYDAG 14 MAART 2008

’n Persoonlike stryd draai soms om ’n enkele saak, en soms vloei veelvuldige worstelinge saam in ’n enkele stryd.

My persoonlike stryd is, op die oog af, om finansieel onafhanklik te wees. Onder die oppervlak wil dit egter blyk asof die stryd om finansiële onafhanklikheid slegs die mees onlangse slagveld is in ’n groter stryd.

Hierdie groter worsteling draai om geloof en ontnugtering.

Ek wíl altyd glo, maar in die donker gange van my wese sluimer die verwagting van ontnugtering.

Dit is my stryd.

VRYDAG 28 MAART 2008

Is dit nie vreemd dat ’n mens soms jou beste liefdesgedigte, en jou mooiste liefdesbriewe, skryf vir mense wat uiteindelik, op die langtermyn, nie soveel vir jou saak maak nie? Dat ’n mens soms jou beste, mees geïnspireerde liefdesliteratuur opdra aan dié wat ver, ver wegstaan van die Een Groot Liefde?

______________________