Geld, die arbeidsmark, en hoe jy funksioneer

WOENSDAG 30 JUNIE 2004

As ek die afgelope tien jaar geld gehad het, of meer gereeld geld gehad het, en groter hoeveelhede daarvan … as ek myself gedurende die laaste dekade van my lewe in ’n posisie bevind het waar ’n gereelde inkomste onnodig sou wees, sou dit my proses van selfontdekking en selfdefiniëring radikaal beïnvloed het.

Een moontlikheid: As my familie welgesteld was, en my ouers het dit duidelik gemaak reeds in my tienerjare dat ek elke jaar, vanaf my agtiende verjaarsdag, ’n aantreklike bedrag geld sal ontvang net omdat ek so gelukkig was om gebore te word as hulle seun, sou ek heel moontlik vanaf my laat tienerjare myself minder toegespits het daarop om binne die volgende vyf tot sewe jaar vir myself ’n posisie te bewerkstellig op die arbeidsmark. Ek sê nie ek sou noodwendig ’n onproduktiewe suurstofdief gewees het nie, maar indien ek nie nodig gehad het om my persoon voor te berei vir die arbeidsmark of vir die besigheidswêreld nie, sou ek nie die persoon gewees het wat nou hierdie woorde tik nie.

Nog ’n moontlikheid: As ek as seun van werkende middelklasouers op agtien ’n massale fortuin gewen het in ’n lotery, met ’n versekerde maandelikse dividend wat sou bly uitbetaal tot die einde van my fisiese bestaan, sou my gevolglike proses van selfdefiniëring ook, onder andere, nie die lastigheid ingesluit het om tot ’n bevredigende mate te moet verskyn aan ’n arbeidsmark ten einde in my eie daaglikse behoeftes te kan voorsien nie.

’n Derde moontlikheid sou wees as ek in my laat twintigs ’n produk ontwerp het wat my sedertdien miljoene besorg het in tantieme. In so ’n geval sou die karakter wat aan die ander kant van die proses-tonnel sou uitkruip, een gewees het wat – vanweë aanvanklike ervarings in my volwasse lewe – weet hoe dit voel om persoonlike verskynings aan te pas vir inkomstedoeleindes, en ook weet hoe dit voel om dit nié meer te doen nie.

Eenvoudige konklusie: As jy toegang het tot voldoende kapitaal om dit onnodig te maak om ’n inkomste te verdien om jouself aan die lewe te hou, hoef jy nie te funksioneer op dieselfde wyse as mense wat daagliks moet arbei om te sorg vir kos, en ’n dak oor hulle koppe nie. En siende dat jy minder nodig het om op ’n wyse te funksioneer wat tot ’n groot mate voorgeskryf of sterk aanbeveel word, het jy meer ruimte om ander moontlikhede te ontdek vir jou persoonlike ontwikkeling, en om jou persoon op ander wyses te definieer.

______________________