Gedagte twee + Gedagte een

SATERDAG 7 AUGUSTUS 2004

Gedagte twee: Identiteit het te make met die vraag na wie ons is. Begrip oor wat gebeur tydens die proses van identiteitsvorming kan help om die vraag te beantwoord hoekom ’n individu is soos hy is, hoekom hy doen wat hy doen, leef waar hy leef, saam met wie hy dit doen, hoe hy verskyn aan die wêreld, hoe hy geld verdien, en hoekom hierdie spesifieke detail en nie ander nie.

Gedagte een: Dis Saterdag 7 Augustus 2004. Dis 13:10 in die middag. Ek sit op ’n vliegtuig oor die … Indiese Oseaan.

Op 3 Mei hierdie jaar het ek vir ure gestaan en skryf in my notaboek. Wat ek geskryf het daai dag het uiteindelik daarop neergekom dat ek ’n self gedefinieer het in Taiwan waarmee ek gelukkig is. Dit was ook duidelik  dat ek moeg was daarvoor om te sê, “Ek is op pad … hierdie is nie my werklike lewe nie … ek werk aan ’n paar planne … moontlik oor ses maande sal ook ek ’n lewe hê wat ek met trots my eie sal kan noem …”

Ek het op daai Maandag verklaar: Ek hét ’n lewe. Hierdie lewe is in Taiwan. Dis nie ’n volmaakte lewe nie, maar dis ’n goeie lewe. En dis my lewe.

Ek het ’n identiteit vir myself uitgesorteer waarmee ek gemaklik is, en op ’n plek waar ek hierdie partikulêre “Ek is” kan wees.

Wie is ek dan? Ek is ’n man in sy vroeë dertigs wat woon in Taiwan, wat skryf, Engelse klasse gee, Chinees studeer, en wat werk aan langtermyn-besigheidsprojekte. Ses maande gelede sou ek spesifieke etikette gehang het om hierdie dinge wat ek doen, etikette partikulêr aan die tyd en groter omgewing wat ek bewoon soos “skrywer”, “onderwyser” of “student”. Ek het niemand anders nie as Karl Marx te danke vir die idee dat jy jouself eerder net moet bepaal tot wat jy dóén, en die etikette laat vir dié wat dit om verskeie redes nodig het.

—————–

“For as soon as the distribution of labour comes into being, each man has a particular, exclusive sphere of activity, which is forced upon him and from which he cannot escape. He is a hunter, a fisherman, a herdsman, or a critical critic, and must remain so if he does not want to lose his means of livelihood; while in communist society, where nobody has one exclusive sphere of activity but each can become accomplished in any branch he wishes, society regulates the general production and thus makes it possible for me to do one thing today and another tomorrow, to hunt in the morning, fish in the afternoon, rear cattle in the evening, criticise after dinner, just as I have a mind, without ever becoming hunter, fisherman, herdsman or critic.”

~ Karl Marx, The German Ideology (1845)

______________________