FAKTOR X SKOP IN

Deur 15 - 09 - 2003

Bronkhorstspruit is ‘n kak plek, dit weet almal. Dit is ook waar dat dit die plek is wat my jongste suster en haar man gekies het as die plek waar hulle moontlik vir ‘n paar jaar gaan bly. Die dorp het omtrent vyftien begrafnisondernemers, twintig “Eazy Credit”-plekke, ‘n Wimpy Bar, en een skryfbehoeftewinkel wat ‘n paar boeke verkoop. Daar is geen musiekwinkels nie. Daar is geen Seven Eleven’s wat 24 uur per dag oop is nie. Daar’s nie ‘n rumoerige scene in die middel van die dorp elke weeksaand na tienuur wanneer mense uitkom om ‘n laat aandete te nuttig by tydelike sypaadjie-restaurante nie. Daar is nie coffee shops wat oopbly tot na middernag nie.

Daar is wel ‘n reuse tempel en opvoedkundige sentrum gebou deur ‘n Boeddhistiese orde van Taiwan. En in ‘n woonbuurt net mooi te ver om te bereik te voet van die dorp af bly my geliefde jongste suster.

Kan ‘n mens dit regverdig om alles op te gee wat aan jou bekend is – of bekend geword het die afgelope vyf jaar van jou lewe – net omdat jy jouself dood verlang na jou familie? Moet ‘n mens nie ‘n argument afvuur wat praat van opofferinge wat jy moet maak sodat jy later die vrugte kan pluk nie? (Talle mense sal byvoeg: “Dis ‘n kwaai wêreld. As jy nie die game reg speel nie, verloor jy. En niemand gaan ‘n oog knip as jy gewond langs die lewenspad lê nie, want hulle is self te besig om ander uit die pad te stoot.”)

Of gaan ek al my bokse en my rolle kalligrafie terugpos Suid-Afrika toe, gespanne dog oortuig van wat ek besig is om te doen, net om na twee maande in Bronkhorstspruit te besef die kuier was lekker, maar ek is gereed om terug te gaan Ooste toe? Sal ek weer my twee tasse pak – selfs al ís ek besig met my eie besigheid, en selfs al verdien ek ‘n inkomste met my eie idees? Sal ek skielik die voordele van ballingskap onthou – selfs ás ek gereeld skryf, en ek tweedehandse boekwinkels (in Pretoria) leegkoop, en elke naweek by my suster-hulle braai, of by my ouers Sondagmiddagete met nagereg geniet?

Waaroor gaan alles op hierdie stadium? Waaroor gaan die hele storie van Taiwan, Bronkhorstspruit, Suid-Afrika en die Ooste? Waaroor gaan die idee van “besigheid”, en skryf, en braaivleis en nagereg by die “huis”? Dit gaan daaroor om so gelukkig te wees as wat ‘n mens kan wees. Dit gaan oor spyt, en spesifiek in my geval om nie later spyt te wees dat ek nie meer tyd met my familie spandeer het nie. Dit gaan daaroor om nie net ‘n vervelige draaiboek te volg soos ‘n tweederangse akteur nie.

Dit gaan daaroor om te wees wie jy werklik is (as jy dit uiteindelik uitgesorteer het), eerder as om net die byproduk te wees van al die maatreëls wat jy implementeer om te kan oorleef en om jou vrees te kan bedwing dat die gode jou met ‘n bliksemstraal sal gooi een sonnige Saterdagoggend. (Of realisties gesproke om soveel as moontlik van jou ware natuur uit te leef na jy al die maatreëls in plek het – almal is tog aan die einde bang vir bliksemstrale, dan nie?)

Hoekom skryf ek hierdie stuk op hierdie Maandag om 02:07 in die vroeë oggendure? Omdat ek een van die dae verhuis na ‘n woonstel in Benewelde Lig Nuwe Dorp in die Berg-van-die-Feniks. Is dit ‘n slegte plek? Nee. Is dit ‘n slegte buurt? Nee. Is dit ‘n moeisame irritasie om olie-aanpaksels van die nuwe plek se kombuismure met ‘n aartappelskiller af te krap? Ja. Mors dit kosbare tyd om skielik te moet inpak eerder as om aan my projekte te werk? Ja. Maar ek troos myself dat ek in elk geval een of ander tyd bokse moes koop om te begin inpak. En ek moes een of ander tyd padgee uit hierdie donker hool wat ek my huis genoem het die afgelope amper vyf jaar.

Hoekom inspireer die nuwe woonstel my op hierdie oomblik om hierdie spesifieke teks te skryf? Omdat ek herinner is aan die feit dat my lewe in hierdie land nie ‘n draaiboek volg nie; ek skryf dit soos ek leef. Ek het, om een voorbeeld aan te haal, verseker nie twee weke gelede geweet ek gaan oor twee weke met ‘n paar sjirugiese plastiekhandskoene hande-viervoet bo-op ‘n marmerblad sit en klonte olie met ‘n aartappelskiller afkrap nie (jammer, ek moes dit net weer noem).

Maar hierdie klein insig, en die fotografiese potensiaal van die uitsig uit my nuwe kombuis is nie wat regtig belangrik is nie (of dis net dele van die groter issue). Wat my regtig pla, is die vrees oor wat vir my voorlê as ek nie meer hoop op “die dag wat ek terugkeer na die land van my geboorte” nie. Ek dink ek is bang my lewe in Suid-Afrika sal… alledaags raak, vasgevang tussen die vrees dat iemand in my woonstel sal inbreek terwyl ek knoffelsous of biltong by die Spar gaan koop, en die vrees dat ek skielik een oggend sal wakker word en ek is dertig jaar ouer.

Hoe gaan dit voel as ek op ‘n Saterdagaand alleen in my woonstel in Bronkhorstspruit sit en TV3 kyk? Hoe gaan dit voel as ek met ‘n Chinese teks gekonfronteer word wat ek voorheen sou gelees het asof dit ‘n Afrikaanse kinderboek is, en ek besef ek kan nie meer helfte van die karakters onthou nie? Hoe gaan dit voel as ek drie-en-dertig word, en vier-en-dertig, en ek braai nog steeds alleen op Saterdagaande by my suster en swaer?

Ek is ‘n mens vir wie “angs” nie net ‘n sielkundige term is nie. Solank ek rondhardloop en baklei vir ‘n beter môre, solank ek getrou aantekeninge maak in notaboeke oor DIE PROSES, dan voel dit asof ek doen wat ek veronderstel is om te doen. Dan voel dit asof ek op pad is. Ek dink ek vrees die dag wat ek veronderstel is om te verklaar dat ek gearriveer het, en iemand spring agter ‘n braambos uit en skree, “Surprise! Jy’t tog aan die einde die draaiboek gevolg! Jy wen (ook) die prys!”

Dan weer, miskien is die prys geluk. Miskien is die prys dat mens voel jy hoort êrens, en jou lewe het betekenis omdat dit betekenis het vir mense wat vir jou belangrik is. Miskien is die prys dat jy voel jy kan nou maar voortgaan met jou kreatiewe werk, want jy hét gearriveer, maar dis nog steeds van belang dat jy sê wat jy wil sê.

Of is ek maar net bang dat, ten spyte van die wye verkrygbaarheid van knoffelsous om oor braaivleis te geniet, ek steeds verveeld sal raak met Bronkhorstspruit? Is ek bang ek verloor my identiteit as iemand wat Chinees kan praat? Is ek bang dat ek minder van myself gaan dink as daar eendag iemand in die geselskap is wat Chinees studeer, en ek moet met ‘n rooi voorkop toegee dat ek “die meeste daarvan verloor het”?

Nou dat ons op hierdie vraagspoor is, wil ek ‘n vrou in my lewe hê omdat ek eensaam en effens eksistensieël-angstig raak op Sondagaande, of net doodgewoon lus enige ander aand van die week? Of wil ek ‘n vrou hê sodat ek kan voortplant omdat ek glo ek sal belangriker voel as ek die pa is van ‘n paar kinders? Wil ek graag op 36-jarige ouderdom vir jonger “soekers na die waarheid” verklaar dat ek nóú weet waaroor die lewe gaan, en dan my kind op my knieg tel en sê, “Kom glimlag mooi vir pappa en die ander mense”?

Of is ek besig om weg te hardloop van wat ek reeds weet? Dat ons hoogs ontwikkelde diere is wat met ons fantastiese, en tog beperkte vermoëns ons bes moet doen om Goed te dien eerder as Sleg, en om die vlam van Beleefde Beskawing voort te dra tot ons tyd op is, en ons die fakkel moet aangee vir die volgende geslag.

Ek moet ophou om in sirkels te dans.

[Later op Maandag 15 September]

Ek is bekommerd daaroor dat ek sal voel my doel is uitgedien en ek word beloon met ‘n “gewone lewe” – soos iemand wat aftree, en dan maar net hoop hy lag nog ‘n paar keer terwyl hy wag om dood te gaan, of soos ‘n ster wat sy glans begin verloor, en hoop hy flikker nog ‘n paar keer voor hy verskiet.

Hoekom is my huidige lewe tot ‘n mate tog oraait, selfs al wil ek wegkom daarvan? Omdat ek nog ‘n stryd voer vir ‘n beter lewe. Maar wat gebeur as jy daai punt bereik waarvan jy droom? Of hou jy aan om die droompunt verder te skuif? Is dit soos Trotsky en die Internasionale groep van die twintigs wat geglo het in Voortdurende Rewolusie? Asof ook hulle kon beaam, “Want wat is ons as ons nie Rewolusionêre is nie? Dan’s ons niks. Dan het ons een van ‘hulle’ geword. Wat doen ons as ons nie besig is met rewolusie nie? Niks kan vergelyk daarmee nie…”

Wat van as iemand vir my moet sê dat die lewe nooit “normaal” is nie, en dat ‘n “gewone lewe” ‘n droom is buite meeste mense se bereik? “Almal voer maar ‘n voortdurende stryd vir iets beters,” sal die persoon sê, “al lyk hulle lewens op die oog af, vir waarnemers soos jy, normaal en gewoon.”

Dan sal ek vra: Waarvoor stry hulle? Vir finansiële sekuriteit? Dis nie goed genoeg vir my nie. Die stryd vir finansiële sekuriteit is vir my net ‘n manier om ‘n groter stryd ‘n beter kans te gee op sukses.

Miskien sal my teenstander in hierdie debat dan slim glimlag, sy troefkaart uittrek en sê, “Ag man, jy’s net eensaam en miserabel omdat jy nie ‘n mooi vrou het wat jou lewe ophelder nie.”

In so ‘n geval sal ek nie veel van ‘n keuse hê met my teenargument nie: Is dit die beste wat ons kan doen? Vyftig duisend jaar van ewolusie sedert ons voorouers in grotte gebly het en mekaar met oerbuffel-knopkieries oor die kop gemoer het, en dis die beste antwoord waarmee ons vorendag kan kom? “Jy’t net ‘n bietjie liefde nodig”?

Die vraag is eenvoudig: Is ek op die regte pad met my huidige planne? Of is my gesig in die regte rigting, maar my voete nog nie heeltemal op die regte pad nie? (Reken ek steeds daar is net een pad wat loop in daai rigting?)

“Watse rigting is dit?” sou my immerafwesige debatsvennoot vra.

Dis die rigting waarop ek in beginsel besluit het in Meimaand; die rigting wat ek besef het die enigste uitweg is vir iemand in my netelige posisie – wat sy eie agenda wil volg, maar nie kans sien vir armoede nie.

Om te moet teruggaan Suid-Afrika toe ter wille van ’n besigheid-strategie is ‘n interessante idee (vir my in elk geval). Dit stel my in staat om te kan verklaar dat ek nie net wil teruggaan Suid-Afrika toe omdat ek my familie mis nie, maar omdat ek moeg is daarvoor om nooit genoeg geld te hê nie. Kort nadat ek oorspronklik die idee gekry het, het ek daadwerklik begin het om inligting te vergader oor hoe om ryk te word – in die land van my geboorte, terwyl ek tydsaam en geduldig my baard laat groei.

Dit was alreeds maande gelede. Ek het sedertdien myself oortuig daarvan dat dit “heeltemal moontlik” is om genoeg geld – en selfs meer geld as hier – in Suid-Afrika te verdien, terwyl ek vurig getrou bly aan my persoonlike agenda.

Wat ek nooit besef het nie was dat ek vir 57 maande lank ‘n standaard antwoord gereed gehad het elke keer as my binne-kind sê, “Pappa, ek wil huis toe gaan.” En elke keer as “Pappa” dan vir mý kyk, het ek my skouers opgehaal en bloot gesê, “Wys my die geld, of sê vir my hoe ons genoeg geld gaan verdien in die land van soveel armoede.” Dit was gewoonlik goed genoeg, want ek sit immers steeds hier na 57 maande.

Miskien was dit die olie afskuurdery in die nuwe kombuis, of die feit dat ek vir die eerste keer in amper vyf jaar in Taiwan ‘n woonstel sou hê met vensters. Miskien was dit onafwendbaar dat ek een of ander tyd daaraan sou dink. Nietemin, vanaand het dit my uiteindelik getref toe ek op my krakende fiets deur die donker strate ry: Ek was nog nooit in die posisie waar ek kon sê ek wéét hoe ek geld in Suid-Afrika gaan verdien nie. Ek was nog nooit in die posisie waar ek dan vir myself kon vra of dit inderdaad is wat ek sonder enige voorbehoud wil doen nie; of ek werklik gereed is om my voete te gaan intrap in ‘n stukkie Suid-Afrika vol vars sement; of braaivleis en nagereg by my familie werklik ‘n wondermiddel sal wees vir al my kwale.

Bogenoemde is die hoof rede hoekom ek hierdie spesifieke stuk sit en skryf op hierdie Dinsdagoggend, twee-en-dertig minute na middernag, eerder as om die duisende stukke gemors in te pak wat ek oor die jare opgegaar het en as “ornamente” in my sitkamer uitstal.

***

[Dinsdag, 16 September, amper een-uur die middag.]

Soos ek toe gisteraand terugry van my ander woonstel af, vra ek myself ‘n administratiewe vraag: Wil ek regtig langer in hierdie plek bly? Ek was ligweg verbaas oor my onmiddellike antwoord: Nee.

Nog ‘n entjie af in die straat, verby die algemene handelaar waar die mooi vrou die til slaan, verby ‘n paar ou toppe wat buite een se armsalige huis sit en suip, verby die verlate oggendmarkarea wat na vrot tofu ruik, kom die opvolgvraag: Wil ek teruggaan Suid-Afrika toe? Die tentatiewe antwoord: Ja, maar

Verby die militêre basis met die toegegroeide muur wat ek eers gedink het ‘n kasteel is, by die laaste stuk pad voor ‘n mens weer by ‘n deel van die dorp kom waar vrugteverkopers nog oop is kort voor middernag, en eensame mans in goedkoop KTV-salonne dreunsing oor verlore liefde, herhaal ek toe die antwoord: “Ja, maar?”

“Maar,” sê ek toe hardop onder die tiervel-masker oor my mond, “ek wil twee weke nadat ek vir my ‘n woonstel gekry het in Bronkhorstspruit, my boeke uitgepak het en lakens voor die vensters gehang het, Mainland China toe gaan. Vir drie maande.”

Terug by die huis is ek toe half vies omdat dit wou voorkom asof ek met ‘n nuwe plan vorendag gekom het. Dinge was net besig om kompleks genoeg te raak om ten minste nog tien bladsye by hierdie stuk te voeg! Ek kom sit toe agter die komper en skryf die vorige bladsy (oor hoe ek nog nooit hier gewonder het of ek werklik sal wil teruggaan Suid-Afrika toe as ek wéét dis moontlik nie).

Net soos ek toe die meriete oorweeg van gisteraand se laaste paragraaf, lui my telefoon. Toe ek op die skermtjie sien dis ‘n internasionale oproep, besef ek dit moet my vriend L. wees. Ek het geweet hoekom hy bel. Vyftien minute later gooi ek die laaste druppels jenewer uit die SAL-botteltjie in my keel af, vlam ‘n sigaartjie op, en herhaal die woorde hardop vir myself: “Gebore om agt minute oor drie… Joshua G. Bietjie blou in die gesig, maar gesond… vier kilogram.”

Ek was gelukkig vir my vriend, sy vrou, hulle families, en veral vir die klein laaitie wat uiteindelik daglig gesien het. Ek het ook by myself gedink die timing is interessant. Skielik was die hele idee van om groot te wees, jou eie kinders te hê, en die reuse finansiële en morele verantwoordelikhede daarvan nie meer net abstrakte elemente om ‘n stuk skryfwerk mee op te vul nie. Dit het met my beste vriend gebeur. En ek kon nie anders nie as om deur die sigaarrook te prewel, “Dis fokken profound.”

Die paar druppels jenewer was nie werklik genoeg om die groot nuus te vier nie. Ek spring toe weer op my fiets en jaag na die Seven Eleven toe om ‘n halfjack Jim Bean te gaan koop – wat hulle toe nie meer in voorraad het nie. ‘n Kwartier later sit ek met ‘n blikkie Qing Dao en nog ‘n sigaartjie by my spieëltafel. Blye gedagtes oor my vriend en hulle eersgeborene lei toe tot hernude spekulasie oor my eie lewe.

Ek wonder toe opnuut of ek met ‘n nuwe plan vorendag gekom het met die drie-maande-in-China-opmerking. Menende om my pret te bederf, wonder ek toe wat ek na die drie maande sal doen.

Ek het gehoop dat ek sou sê ek sal dán teruggaan Suid-Afrika toe, om my knieë dié keer – eerder as net my voete – in vars sement te gaan neervel. Maar ek besef toe dat ek steeds nie oortuig is van “wat dán” nie.

Toe strip ek my moer en fluister dreigend in die rigting van my weerkaatsing in die spieël: “Jou lewe is ‘n wiel! Dit gaan bly draai en draai en draai! Al in die rondte!”

My lewe is ‘n wiel. En dit sal bly draai tot ek ‘n moersleutel in die speke gooi. Of tot iemand anders dit doen…

___________

Hierdie inskrywing dateer: 15 - 09 - 2003 om 01:32 en sorteer onder Boek Twee. [...]

Gesluit vir kommentaar.