F** MY HANG-UPS OOR DIE MIDDELMENSE
‘n Verdediging en Apologie, in Twee Emosionele Toestande
Siende dat ek so gretig is op vergelykings, kom ons vergelyk ‘n bietjie. Almal is relatief gelyk terwyl hulle op universiteit is, of op tegnikon of kollege – niemand het ‘n huis van sy of haar eie nie, al het party dalk karre, en al woon party wel in woonstelle met ‘n paar nicerige meubelstukke. Daar is egter ‘n paar dinge wat almal soort-van gelyk maak. Een van die gelykmakers is akademiese prestasie. Jy kan maar ‘n armgat wees van ‘n armblanke familie (wat net kan studeer omdat jou suster vir jou studielening borg gestaan het), maar as jy ‘n goeie akademiese standaard handhaaf, dan word jy tot ‘n mate gerespekteer. Baie studente glo ook aan die mite van die sogenaamde arm studente-dae, “toe ons nog studente was en by die Spur geëet het”. So, al weet jy dat jy ook ná jou arm studente-dae nog steeds die gesin gaan vat na die Spur toe vir julle maandelikse uitete, kan jy ten minste tydens jou studente-jare jou burgers afsluk met goedkoop bier in die wete dat “almal” maar op daai stadium by die Spur eet.
Dan kom die dag waarvoor almal gewag het: Jy gradueer, gaan op vakansie vir ‘n paar weke (óf in Goodwood, óf in Plettenbergbaai), en jy stuur jou See-Vee die Grootmens-Wêreld in. In hierdie sogenaamde “real world” word die eertydse student verwelkom deur mense wat nie geïnteresseerd is in jou “studentepraatjies” nie, wat te vertelle het dat “in the real world things don’t work like that”.
So nou is die voormalige jolige student ook ‘n werker; iemand wat, soos ander Grootmense, ‘n salaris verdien. Van hierdie punt af is daar geen grense meer nie. Jy wil nou soveel geld verdien as wat jy kan, die beste kar ry wat jou kredietrekord kan regverdig, en die niceste meubels aanskaf wat jy kan bekostig. Jy’s nou ‘n Grootmens. Jy wil die klere dra van ‘n Grootmens. Jy wil Grootmens-Praatjies praat. Jy wil jou eie rekenings hê om te betaal (en waaroor jy kan kla by ander Grootmense).
Elke nou en dan gebeur dit dan ook dat jy iemand raakloop wat in dieselfde koshuis as jy was, of wat dieselfde “klasse geloop het” of wat saam die keer weggehardloop het toe julle ‘n “Prof” se kar met eiers gegooi het. Vrae word gevra, antwoorde word versigtig gekies, en na ‘n moontlike uitruil van telefoonnommers loop elkeen weg met sy eie berekeninge wat gemaak word: “So ou Klaas werk nou by Piet Internasionaal, en hy verdien twee sent per maand meer as ek. Ek wens ek kon sy sel bekostig…” Of, “Ek het vanoggend vir Sannie gesien, jy weet mos, daai girl wat altyd so maltrap was in die koshuis. Sy’s nou pregnant met haar derde kind. Ja, dit lyk nie of hulle te goed doen nie.”
As die ontmoeting in jou guns beeïndig het, sê jou ewolusie-meter êrens in jou binneste jy’t nou net verby nog een geskuif: Jou kanse op oorlewing is nou 0,062% beter as wat dit gister was.
Soos gewoonlik het ek van die punt afgewyk, maar ‘n hernude kykie na die kultuur van die Middel-Mense het altyd waarde in enige literêre stuk.
Feit is – en dit behoort ons terug te bring op die spoor – my dae op universiteit was gedeel met ‘n groep mense wat almal plus-minus uit dieselfde sosio-ekonomiese agtergrond gekom het. Hierdie agtergrond kan rofweg – en moet geen verrassings verwag nie – as middelklas geklassifiseer word.
‘n Middelklas-agtergrond beïnvloed mense op ‘n verskeidenheid maniere, en op meervuldige vlakke. In die geval van die mense saam met wie ek op universiteit was, het dit in die eerste plek ‘n invloed gehad op hulle besluit om op universiteit te studeer. Dit het beïnvloed wát hulle besluit het om te studeer. Dit het beïnvloed of hulle in ‘n koshuis gaan woon, en miskien selfs in watter een. Dit het beïnvloed hoeveel geld hulle tot beskikking sou hê vir boeke, kos, bier, klere, en ander noodsaaklikhede. Dit het beïnvloed of hulle ‘n studielening kon kry by die bank, en of hulle dalk nie ‘n lening nodig gehad het nie. Ook het hierdie agtergrond politieke oortuigings beïnvloed wat hulle sou aanhang. So ook was hulle morele waardes en hulle godsdienstige oortuigings beïnvloed deur hulle middelklas-agtergrond.
Beteken dit dat alle studente wat produkte is van die middelklas ‘n homogene groep is wat dieselfde tyd elke week na dieselfde kerk toe gaan in uniforme kleredrag, en mekaar salueer met dieselfde rympies? Natuurlik nie. Die rede is eenvoudig: Agtergrond is maar een faktor wat bepaal waar jy gaan staan in jou verhouding met die gemeenskap, in watter klere, en saam met wie. Hoewel beide die ateïs in die swart jeans en leerbaadjie en die toegewyde kerkganger in die blou jeans en leerbaadjie gereageer het op rofweg dieselfde sosio-ekonomiese omgewing, kon ander faktore ‘n beslissende rol gespeel het in hulle keuses. Hierdie faktore sluit in dat die kerkganger se pa dalk ‘n alkoholis was wat sy ma geslaan het, terwyl die ateïs dalk doodgewoon verveeld was met sy strydvrye kinderdae.
My trips oor die middelklas is geneig om tot vervelens toe voort te gaan, so laat ek by die punt kom. Bewoners van die Middel-Kosmos het meestal self gekies om hulle lewens op ‘n wyse te leef wat volgens sosioloë en ander deskundiges op ‘n sekere wyse gedefinieer en geëtiketeer word. Baie van hierdie mense het hierdie spesifieke lewe gekies omdat hulle reken dat dit hulle beste kans op geluk en oorlewing is. Hulle is verder van opinie dat hierdie spesifieke bestaan goeie geleenthede vir hulle kinders sal verseker.
Omdat hulle hoop om in die aand terug te keer na dieselfde omgewing en omstandighede wat hulle verlaat het na ontbyt, word verandering dikwels met agterdog bejeën. Hierdie spesifieke klas van burgers neig tot konserwatisme – relatief tot die politieke neigings van arm mense wat niks het om te verloor met grootskaalse veranderinge nie. Hulle verkies die bekende bo die onbekende. Hulle verkies voorspelbaarheid bo die onvoorspelbare gedrag van iemand wat niks het om te verloor nie. Hulle neig tot ‘n mentaliteit van behoudendheid, en bewaring van die status quo.
In gesprek met ‘n Middel-Man of -Vrou sal jy amper altyd vind dat sekere vrae gevra word, die informasie word dan verwerk, en sekere konklusies word getrek: Hy is “een van ons” óf alternatiewelik ‘n buitestaander wat “ander” oortuigings koester. Laasgenoemde persoon word gewoonlik met koue beleefdheid hanteer, soos ‘n besoeker van ‘n vreemde kultuur wat hopelik nie ‘n tweede koppie tee wil hê nie. Hierdie behandeling van die outsider-figuur ontbloot ‘n eienaardige verskynsel: Ten spyte van die feit dat Burgers van die Middelklas ‘n paar eeue gelede al die beheer van die wêreld begin oorneem het by die Adelikes, koester hulle verbasend baie insecurities en hang-ups.
Wat ‘n lieflike manipulasie van die teks is om my terug te bring by die titel van hierdie stuk. My oorspronklike idee was om ‘n kort bestekopname te maak van die lewens van mense wat ek ken, en met wie ek op verskillende tye gereeld sosiale omgang gehad het. Ek wou dan opsommenderwys illustreer dat niemand regtig ‘n pionier van ‘n dapper nuwe wêreld is nie. Ek wou ander se lewens met myne vergelyk om aan te toon dat, ten spyte van ooglopende materiële ongelykhede, ek nie té sleg doen nie. Vergelykenderwys.
Soos met die meeste van my materiaal, het hierdie stuk my maande gevat van begin tot op hierdie punt. Die eerste paar paragrawe was gemotiveer deur my verleenthede en inhibisies wat gebore en getoë was in my tienerjare toe ek altyd lomp en ongedefinieerd tussen klasse gehang het – tye wat my broek gesê het “middelklas” maar my hemp “armgat” (behalwe wanneer my vriend wat by Edgars gewerk het van sy ou klere weggegee het).
Ek het sedertdien ‘n paar dinge wys geraak oor daai vreemde groep mense – my vriende en mede-planeetbewoners van die middelklas. Hulle is, soos ek, onseker oor baie dinge. Ook húlle het inhibisies. En ook húlle het vrese. Hulle is angstig oor dinge soos die toekoms, en of alles sal uitwerk soos hulle hoop. Hulle skrik ook soms drie-uur op ‘n Dinsdagoggend wakker, en wonder of die keuses wat hulle oor die jare gemaak het die regte keuses was. Hulle droom ook soms van “iets anders” en soms fluister hulle laat in die nag in slaapkamer-gesprekke oor “kanse waag”. In kort, ons adem dieselfde lug in, en ons loop mekaar soms raak in supermarkgange waar ons dieselfde items in ons trollies laai.
So het ek intussen dertig geword. Ek besit meer CDs en boeke as ooit, maar dis omtrent waar dit eindig. My broeke, in alle eerlikheid, pleit ook deesdae soms “armgat” en my hemde dra nie exactly by tot ‘n alternatiewe beskouing van sake nie. (Ek het wél ‘n paar skoene wat skrik vir geen teenstand nie, en as dit regtig nodig is, dan trek ek ‘n broek aan wat te alle tye gestryk lyk). Tog, as ek nou per geleentheid sosiaal omgaan in milieus waar ek voorheen skuinsvoet getrap het, probeer ek nie meer Middel-Gesprekke voer nie. Ek probeer nie meer inpas, of aanpas nie. Ek probeer ook nie meer mense oortuig van dinge waaroor hulle nie naastenby so obsessief voel soos ek nie.
Ek het gevind dat ‘n mens op ‘n punt kom waar jy moeg raak vir weghardloop, of koes vir die aanslae van die spesifieke insecurities en hang-ups wat jóú terroriseer. So het ek dan ook op ‘n lieflike dag gestop, omgedraai, en vir hierdie spesifieke irritasies gebulder: “Genoeg! Kry my of heeltemal onder… of fokof!”
