ENKELE WAARNEMINGS EN NOTAS VIR DIE DERTIENDE 22 OKTOBER DEKLARASIE
INSIG EEN
Dinsdag, 21 Oktober 2003, teen ongeveer middagete sien my by ‘n tafel net buite die kombuisdeur, met ‘n lekker windjie wat so van die sitkamer se kant af waai. So sit ek by die tafel en knip Chinese karakters uit ‘n gefotostateerde stuk teks. As ek klaar is met die knippery, dan skryf ek die Engelse vertaling van die karakter of woord agter op ‘n kaartjie, en plak die karakter(s) op die ander kant. Ek gaan voort op hierdie wyse tot die hele teks afgehandel is. Dan memoriseer ek al die karakters, en na ‘n rukkie kan ek die hele teks in Chinees lees. Ek geniet hierdie aktiwiteit, en vind dit verrykend en vervullend. Ek is ook bewus van die feit dat ek besig is met die proses van om die Chinese taal te bemeester – ‘n doelwit wat ek jare gelede reeds vir myself gestel het, en iets wat ek beskou as produktiewe en waardevolle tydsbenutting.
Wat verkeerd is met hierdie idilliese situasie is dat dit my na ‘n tydjie onrustig maak. Hoekom? Omdat ek dit te veel geniet. Hoe kan iets wat ek soveel geniet goed wees, as ek wéét dat ek eintlik geld moet maak? Ja, dis immers wat meeste ander mense doen terwyl ék by die huis sit en Chinese tekste bestudeer! Niemand het mos ooit genoeg geld nie! En die aktiwiteite wat neerkom op “geldmaak” is baie keer nie regtig lekker nie – wat nog ‘n goeie rede is hoekom ‘n mens eerder jou tyd dáárop moet spandeer! ‘n Mens voel moeg aan die einde van die dag, maar jy voel ook tevrede met jouself. Jy’t hard gewerk, en jy gaan aan die einde van die maand soveel meer geld hê om te spandeer, of te belê in jou toekoms, of net te bêre in die bank vir ‘n wintersdag. Wat maak dit saak as jy nie altyd geniet wat jy doen nie? Wat maak dit saak as jy jou werk vervelig vind? Wat maak dit saak as jy nooit by enige iets uitkom wat jy meer vervullend sal vind as net ‘n oneindige najaag van materiële gemak en sekuriteit nie?! Dis die lewe! Mens kan nie net altyd doen wat jy wil doen nie, dit weet almal tog!
So ek los toe die woordeboeke, die kaartjies en die tekste (met interessante woorde soos “hūn” wat beteken “skemer”, “duiselig”, “gedemp” of “verward”), en gaan sit agter my rekenaar – om natuurlik te werk, of ten minste te skryf, sou die intelligente leser dalk raai. Ek het egter geweet dat werk op hierdie tydstip ‘n sekondêre moontlikheid is. Ek het my oorfone op my kop gesit, en voortgegaan om ‘n rekord aantal FreeCell-kaartspele agtereenvolgens te wen. Ek het geweet ek gaan dít doen toe die Chinese studies my onrustig gemaak het, en tog het ek gereken dit sal beter wees om agter die rekenaar te sit as om gespanne, dog produktief te wees op ‘n ander plek in die woonstel. (En moontlik omdat ek geweet het ‘n blanko Microsoft Word-dokument is net ‘n paar klikslae weg).
Ek besef toe – en hier kom ek by die EERSTE INSIG uit – dat hierdie besigheid van onrustig raak oor alles en verwant ‘n klomp nonsens is. Plegtig neem ek toe voor dat ek van vandag af nie meer enige slaap gaan verloor oor enige iets nie. Soos dit altyd gepropageer word in die vermaaklikheidsmedia, sal dit nie enige probleme oplos om die heeltyd met ‘n frons op my ewig-groeiende voorkop rond te loop nie.
Dit beteken egter nie ek gaan net die heeltyd musiek luister en card games speel nie. Ek weet wat ek moet doen om my ambisies te vervul, en my doelwitte tot suksesvolle konklusie na te streef. Ek moet doodgewoon opstaan in die oggende, ontbyt eet, en voortgaan waar ek die vorige dag opgehou het. Ek moet vertrou dat ek produktief genoeg kan wees sonder die voortdurende vlam van angs onder my gat.
Verder moet ek glo dat ek wél met die verloop van tyd voldoende kritiese massa kan akkumuleer om my projekte te realiseer en die gepaardgaande beloning te geniet – hetsy persoonlike groei in insig of vermoë, of materiële kompensasie (of beide).
INSIG TWEE
Al die somme wat ek sover gemaak het oor my lang beplande repatriasie eindig altyd op tussen twee, en om en by vier-honderd-duisend Taiwan dollar. Faktore wat hierdie bedrag bepaal sluit in hoeveel geld ek nodig sal hê om my bokse vol notaboeke en ander sentimentele artikels (soos leë tandestokkie-houers) te pos Afrika toe, en hoeveel geld hervestiging so pynloos as moontlik sal maak. Hierdie berekening is ook relatief tot hoeveel geld ek kan verdien deur Engelse klasse te gee, en hoeveel klasse ek in staat is om deur my gemiddelde dag te trek.
Ek kry toe so week gelede die briljante idee dat ek moeg is vir twee honderd of drie honderd duisend Taiwan dollars. Ek verklaar toe aan niemand anders nie as die weerkaatsing in my groen tee dat ek sal teruggaan Suid-Afrika toe met die ekwivalent van ten minste EEN MILJOEN van die Taiwanese eenheid. (Die vermoede was daar vir ‘n oomblik dat hierdie niks meer was nie as net ‘n slinkse poging om te verseker dat ek vashaak in ballingskap tot ten minste 2025. Verskeie idees waarmee ek beplan om ‘n inkomste te genereer het my oortuig om die sinisisme te laat vaar.)
Die idee van ‘n miljoen het te make met baie dinge; genadiglik vir jou as leser gaan ek dit nie nou dekonstrueer en weer aanmekaarlap nie.
Wat ek graag wil uitwys is twee teenstrydige moontlikhede. As ek teruggaan na ‘n vol klasgee-skedule, sal ek heel moontlik na maande se frustrasie, rondjaag tussen verkeer, te laat gaan slaap en nie vroeg genoeg opstaan nie, min of meer NT$300,000 bymekaar kan hark. Die plan is om myself dán, oornag, te transformeer in die gewaad van ‘n entrepreneur. Die alternatief is as ek verklaar dat ek dit heeltemal moontlik ag om ‘n MILJOEN terug te vat huis toe. Dit moet ooglopend en voor-die-handliggend (en vanselfsprekend duidelik) wees dat hierdie tipe geld nie gemaak kan word met klasgeëery in enige taal binne die bestek van ‘n paar maande nie. Dit kan wél gemaak word deur projekte wat slegs ‘n entrepreneur kan optower. So, as ek met meer as net ‘n skamele 300,000 in my gatsak die grond wil soen op Johannesburg Internasionaal, moet ek definitief niks meer as net ‘n paar ure per week klasgee nie, en definitief so veel as moontlik tyd by die huis spandeer, werkende aan projekte van ‘n skaamteloos kapitalistiese aard!
Sien? Frustreer jouself en honderde Taiwanese kinders met te veel Engelse klasse, vloek op al die motoriste wat voor jou injaag, raak vet van te veel trooskos, moeg van te min oefening, siek van te veel sigarette, en gaan huis toe na ‘n paar maande met “genoeg” geld, en nie genoeg voorbereiding vir projekte wat veronderstel is om aan jou ‘n inkomste te gee in jou tuisland nie. Alternatiewelik, werk tot vieruur in die oggend aan besigheidsprojekte, slaap tot jy wakker word, gaan na ontbyt voort met besigheidsverwante take, of met skryfwerk, of Chinese studie, en so teen sononder vang jy ‘n stort voor twee of drie ure se klasgee – wat jou genoeg geld sal gee om jou onmiddelike uitgawes te dek, maar jou nie genoeg sal frustreer om weer te begin rook nie.
Gaan ek binne die volgende paar maande ‘n miljoen in enige geldeenheid verdien? Moontlik, maar moontlik nie. Twee vrae moet eerder gevra word: a) Wat het ek om te verloor? en die belangriker een van die twee, b) Wat het ek om te wen?
INSIG DRIE
Aanvanklik sou daar net twee insigte gewees het, maar soos ek gaan sit het vir nog ‘n rondte met die karakters, het die derde een getref.
Ek het weer begin dink wat dit mag wees wat my partykeer stout laat voel as ek hoogs produktief by die huis besig is, en nie op ‘n vervelige manier in ‘n vooraf gedefinieerde arbeidsposisie my tyd verkwansel aan die hoogste bieër nie. Dit moet iets te make hê met die feit dat ek alleen in hierdie maatskappy is – iets wat nie altyd so lekker strook met ‘n mens se instinktiewe strewe na gemeenskap nie. Om dus by die huis te sit, besigheidsprojekte aan mekaar te timmer, Chinese tekste te ontsyfer of opstelle te skryf, is nie werklik die aksies wat die idee van “straf” in my gemoed loswikkel nie – dis die feit dat ek dit alleen doen.
Oer-moet’s en moenies tersyde, ek is oortuig daarvan dat ek goeie opbrengste lewer op my eiesoortige belegging van tyd en energie. Ek het oor die jare ‘n graad van selfdissipline ontwikkel (spreek dit nie van vooruitgang dat ek dit vir ‘n slag iets anders as “angs” noem nie?) wat maak dat ek sewe dae per week kan werk aan goed georganiseerde en deeglik geadministreerde projekte. Al wat ek inderdaad nodig het, is iemand wat die resultaat van my werksetiek kan bemark, om sodoende wins te maak uit dit waaruit wins gemaak kan word.
Ek wonder toe, gestel dit was binne almal se bereik om soveel sogenaamde “vrye” tyd te kon spandeer aan hulle eie projekte as wat ek doen, sou almal noodwendig dieselfde dividend kon betaal op hulle beleggings van tyd en energie?
Hierdie vraag het my nie te veel verbaas nie. Dit is teen dié tyd al ou nuus dat ek glo ek het die reg om vir ander mense te preek, om wat vir mý werk vir ander te wil voorskryf, om vir hulle te sê hulle mors hulle tyd, “Hoekom doen julle nie wat ek doen nie?” Dit het my ‘n lang tyd gevat om te verstaan dat nie almal die sekuriteit van hulle huidige posisies wil verlaat om elders – soos in Taiwan – ‘n lewe te gaan lei wat bevorderlik is vir meer kreatiewe arbeid nie; of om in so ‘n plek een of twee honderd duisend rand te spaar en dan terug te keer na hulle eie lande en iets te doen vir geld wat hulle persoonlikhede beter pas.
Feit is, meeste mense sal verlore ronddwaal as daar nie vir hulle voorgeskryf word wat om te doen met hulle werksure nie. Net so weet bitter weinig wat hulle sal doen as dit ooit moontlik blyk te wees om hulle “eie ding” te doen. Die opvoeding wat ons kry op skool sluit nie sulke aspekte van die lewe in nie. Opvoeding is “beroepsgeoriënteerd” en het “praktiese waarde” – wat beteken dat die opvoeding wat meeste mense kry op skool en in tersiêre inrigtings hulle in staat stel om waarde te hê in die wêreld van maatskappye en ander georganiseerde instellings (sekerlik speel dit ‘n rol dat maatskappye en ander georganiseerde instellings 95% van die werkende massa in diens neem). Min leer om die waarde van hulle arbeid te definieer buite die grense van hierdie beperkte arena. En die belonings, soos om huispaaiemente en nuwe selfone te kan bekostig, maak dit maklik vir almal om te glo hulle doen die “regte ding”.
(In hulle verdediging kan die Opvoeders seker sê hulle hoor my argument, maar hulle doelwit – waarop hulle eie arbeid toegespits is – is om jong volwassenes voor te berei vir “the real world” van trou-en-kinders, en huispaaiemente, en mediese onkostes, en kruideniersware, en – hoekom dan nie? – nuwe selfone. Dan sal ek my een sleutelbeen liggies vibreer en sê, “Fair enough. Maar ons almal weet daar’s ‘n skroef los in die masjien…”)
Wat beteken dit alles vir my? Dit beteken dat ek minder vir mense moet preek. Dit beteken dat ek moet doen wat goed is vir myself, en wat vir my werk. As ander dan sien die resultate is positief, kan hulle mý vra hoe ek dit regkry.
Dan, en dan alleen, kan die prekery weer begin… of dalk eerder vervang word met iets meer waardevol.
[Nota: Die langverwagte “Dertiende 22 Oktober Deklarasie” was toe nooit geskryf nie. Hierdie stuk moet dus dien, soos dit is, as die plaasvervanger.]
___________
