EN DIE ANTWOORD IS DUS…

Deur 09 - 02 - 2004

Ek is nie lus vir die oorhaastige gepak nie. Ek is nie lus om goeters weg te gooi wat tot nou toe vir my belangrik genoeg was om te behou nie. Ek is nie lus om in Bronkhorstspruit aan te kom en nie my eie blyplek te hê, en in my suster en swaer se kombuis elke oggend koffie te maak nie. Ek is nie lus vir “linksgesinde argumente” oor hoekom ek nie genoeg geld teruggebring het van Taiwan af om ‘n goedkoop woonstel te kan huur nie.

Aan die ander kant is ek nie lus daarvoor om langer hier te bly, ekstra klasse te kry, en dit dan te los na drie maande nie – of eens om dit te begin met die vaste voorneme om dit te los na soveel maande (ek haat dit om te lieg, of om voor te gee ek mag dalk iets doen wat ek weet ek nie gaan doen nie soos om ten minste ‘n hele semester by ‘n skool te bly). Ek is ook nie lus vir die medical nie – daarvoor is niemand egter ooit lus nie, en ek weet dit weeg nie op in terme van onaangenaamheid in vergelyking met enige van die ander dinge waarvoor ek nie aptyt het op die oomblik nie.

Feit is, dit kan steeds werk om op 4 Maart… Johannesburg toe te vlieg. Maar ek sal dinge moet doen, op kort kennisgewing, wat alles ongemaklik is. Dinge soos vinnig inpak, vir mense slegte nuus gee soos dat hulle binne drie weke ‘n ander onderwyser moet kry, en om – as dit steeds moontlik is om dit so te beskryf – skielik ‘n lewe te begin op ‘n ander plek. Hierdie is alles dinge wat baie mense – en ek dink ek kan myself hierby insluit – kan doen sonder om twee keer te dink, as hulle lewens werklik daavan afhang. My lewe hang in beginsel daarvan af.

Ek is moeg daarvoor om myself te beledig, om myself ‘n lafaard te noem. Ek is ook moeg vir vurige toesprake wat my net meer ontstel. Ek is kwaad – vir wie weet ek nie – dat hierdie tipe van aangeleentheid nie makliker kan wees nie.

Sou ek regtig gepak en gegaan het op die 4e Maart as daar niks meer as net twee tasse was nie? Ek dink nie so nie. Dit sou heel moontlik “te maklik” gevoel het. Ek het nodig om ‘n stryd te stry wat ek feitlik weet ek nie kan wen nie. Ek laai self my eie dobbelstene, en is dan vies dat alles so “ingewikkeld” moet wees.

Ek wens ek was ‘n span skrywers, en ‘n hele skrum vol denkers. Ek wens, soos ek hier sit agter die komper op ‘n vroeë Sondagaand, dat ek kon hoor hoe mense dinge bespreek in die sitkamer, met af en toe ‘n gedempte lag, teelepels wat teen koppies klingel en sigarette wat aangesteek word. Dan sal iemand met ‘n papier in haar hand my “kantoor” binnestap, en my inlig dat ‘n “nuwe scenario” uitgewerk is. Of ‘n nuwe plan. Of ‘n nuwe strategie om seker te maak die mees onlangse plan verloop vlot…

Ek haat dit om alles alleen te moet doen! Waar’s al die grootbekke wat altyd soveel te sê het, maar altyd iemand gehad het om hulle te help om ‘n projek aan die gang te stoot?! ‘n Man wat die vrou bygestaan terwyl sy ‘n klein besigheid van die huis af begin het! Of ‘n vrou wat bly aanmoedig het met ‘n warm bord kos en ‘n vryfie in die nek as die man wil tou opgooi! Waar’s mý fokken partner?! Waar’s mý bord kos?! Waar’s mý nekvryf?! Waar’s my koppie tee?! Ek is net ‘n fokken mens! Hoe de fok moet ek alles alleen doen?!

* * *

Etlike ure later. Ek het intussen aandete in die dorp gaan koop (rys, vleis en groente wat koud was teen die tyd wat ek by die huis gekom het), tee by die mooiste jong vrou in die dorp, en ‘n koerant by ‘n Seven Eleven waar die klerk bekommerd in Chinees vir my gevra het of ek al geëet het vanaand (die mense is soms baie besorgd oor hulle gaste van die buiteruim… uh, -land). Op pad terug het ek myself oortuig daar’s een of ander angle wat ek nog nie gesien het in hierdie hele situasie nie.

Ek dink toe aan aan iets, maar word toe gesteur in my gedagtegang deur ‘n laaitjie met opgedoende hare wat ewe verwaand verby my ry op sy fiets. Ek verbeel my toe hy voel goed oor die feit dat hy so ongeërg verby my gegly het – veral omdat hy so ‘n goeie bos hare het, en oënskynlik veel meer murg in sy jonger gebeendere.

Gedagtes oor die onmiddelike toekoms vir eers vergete verstel ek toe my ratte – saggies, dat hy nie miskien hoor ek beplan ‘n comeback nie. Terwyl my sak rys en groente en my sakkie met die tee eenkant toe swaai, en ek ongeërg iets na die ander kant toe mompel, seil ek toe weer verby hom. Hy’t hoorbaar ratte verstel, en net voor ons my buurt met die ongeverfde beton woonstelblokke binne gejaag het, het hy my weer probeer verbygaan.

Ek het myself egter nie meer aan sy kinderagtige speletjie gesteur nie, en kort daarna tussen Blokke 5 en 6 ingedraai.

“Het ek vorendag gekom met iets?” vra ek myself toe soos ek afsaal en die kos oor my skouer slinger. Ek sê toe ek was besig om aan iets te dink, maar my aandag was afgetrek.

“Deur wat?” vra ek toe in ‘n ander stemtoon terwyl ek die trappe opsukkel, menende om voor te gee asof ek met iemand van my dinkskrum argumenteer.

“Deur iets wat my gemotiveer het om my ratte te verstel, en soos dit toe blyk, my effens vroeër by die huis uitgebring het.”

Ek het nog altyd gereken as ek ooit die korporatiewe kosmos wou betree, daar een werk is wat ek moontlik suksesvol sou kon doen. Ek sou poëtiese slagspreuke kon uitdink wat mense sou oortuig om hulle hardverdiende geld te mors op artikels wat hulle nie werklik nodig het nie. Vanweë my persoonlike politiek, my persoonlike agenda en ‘n mengelmoes ander oorwegings kon ek myself egter nog nooit sover kry om my belowende beroep as ‘n onbesoldigde skrywer van linksgesinde propaganda te verruil vir die klein vreugdes en sekuriteit wat so ‘n korporatiewe betrekking my sou verskaf nie.

Iets is egter verkeerd met die benadering tot my situasie wat ek die afgelope week of so gevolg het. As ek – die een wat wil huis toe gaan – ‘n verbruiker is, en die plan is die produk wat aan my verkoop moet word, is die bemarking hopeloos verkeerd. Ek glo dat ek my lewe hier moet kan opgee vir die groter vreugdes van familie, en die feit dat ek in my eie land sal wees. My idealisme dikteer dat hierdie redes noodwendig voldoende moet wees. Dit maak mos sin, dan nie?

Maar dis soos om vir iemand te sê, “Gebruik hierdie tandepaste. Dit sal goed wees vir jou!” (En as hierdie benadering nie werk nie, by te voeg, “OK dan, dit sal regtig goed wees vir jou!”)

Verbruikersitems, noodsaaklik of nie, verdwyn nie net van winkelrakke af omdat adverteerders beweer “dis tyd om hierdie produk te koop” nie. Mooi vrouens word nader geroep, of mans met breë borskaste. Kinders resiteer oulike lyntjies, honde en ander diere word truuks geleer, en musiek en flitsende ligte word ingespan wat sal maak dat volwassenes en kinders sê, “Ek wil daai produk gebruik!”

Ek verwag dat my ouers en my susters se geselskap oor ‘n bord braaivleis of ‘n bakkie poeding voldoende moet wees, “want dis wat ‘n mens nodig het om te voel jy behoort êrens”. En as mens al honderde bladsye geskryf het oor die onderwerp van “huis toe gaan” raak jy ook toenemend bewus van jou geloofwaardigheid wat begin skade ly omdat jy nóg ‘n Sondagaand in Taiwan sit en koue rys knibbel, terwyl jy veronderstel is om met frenetiese passie oortollige bagasie by die venster uit te gooi.

Helaas, daar’s ‘n rede hoekom swak advertensies nie mense in oproerige groepe by supermarkte laat vergader nie. ‘n Produk moet aanloklik wees. Net om te weet dit sal lekker wees, of dat dit goed sal wees vir jou, of dat dit “die regte ding” sal wees om te doen, is gewoonlik nie voldoende nie.

Nog ‘n ding, mense sal dalk nog ‘n produk oorweeg al is die advertensie nie te wat wonders nie, maar niemand raak entoesiasties oor die newe-effekte van ‘n produk nie, selfs een wat andersins goed sal wees vir jou.

Om hier weg te gaan sal newe-effekte hê op my gemoed. Die voor- en nadele van my lewe in Taiwan is tot vervelens toe oor en oor verwoord. Ek loop egter die risiko om tot in der ewigheid my voete met die inpak-proses te sleep as ek sekere positiewe aspekte van my lewe hier ignoreer of onderskat.

Ek woon alleen in ‘n drie slaapkamer woonstel (wat ter wille van hierdie argument positief is). Ek het nie my eie gemotoriseerde vervoer nodig nie. As ek stad toe wil gaan, ry ek met my fiets tot by die treinstasie, en vat die trein verder. As ek êrens anders moet wees wat ek nie kan bereik binne ‘n uur se getrap nie, of wat nie binne stapafstand van ‘n stasie is nie, dan vat ek ‘n taxi (en glimlag apologeties vir al die mense wat vuiste swaai nadat ons oor nog ‘n rooi lig gery het). Ek sit in die nagte tot watter tyd en skryf, of speel kaart games op my rekenaar. Ek koop gereeld video CD’s teen drie vir R20, en kyk dit op my goeie (tweedehandse) Toshiba kleur TV. Ek herinner myself elke nou en dan dat Hong Kong net ‘n uur se vlug weg is, en Tokyo omtrent drie ure (China is nog so uur se reis per trein van Hong Kong af).

As ek drie-uur in die oggend lus is vir ontbytpap maar my melk is op, of ek is lus vir ‘n pak skyfies, of ‘n slaai, of ‘n boks kluitjies, stap ek binne drie minute tot by die naaste Seven Eleven. En meeste van die tyd kyk ek nie oor my skouer of iemand met ‘n mes of ‘n knuppel uit ‘n bos gaan spring nie.

(Ek kan voortgaan.) As ek op ‘n Saterdagaand wil gaan fliek, ry ek met my fiets na die teater toe, kyk hoe laat wys watter fliek, ry McDonald’s toe vir ‘n appelpastei en ‘n vanilla melkskommel, los my fiets daar en vat kortpad deur die donker stegies terug flieks toe. Of ek drink eers ‘n romerige koffie by die plek om die hoek. Ek het nie ‘n kar nodig om by die flieks te kom nie, en niemand het nodig om my te kom optel nie.

As ek op ‘n date gaan, is om karloos te wees nie net heeltemal aanvaarbaar nie, dis ook nie ‘n probleem nie. Weereens trap ek dorp toe, los die fiets teen ‘n muur, ontmoet die vrou by die restaurant of die movie plek en geniet die res van die aand sonder om bekommerd te wees oor my voertuig.

Ek is bewus daarvan dat daar nie kafees is wat 24-uur per dag oop is in die Suid-Afrikaanse dorpe waar ek wil gaan afpak nie. En as daar is, het ek ‘n kar nodig. As ek soontoe kan stap, beteken dit heel moontlik ek bly in ‘n deel van die dorp of stad waar mens oor jou skouer moet loer. Die noodsaaklikheid van gemotoriseerde vervoer eindig ook nie by kafee toe gaan drie-uur in die oggend nie.

Daar is aspekte van my huidige leefstyl wat ek gaan mis, soos daar redes is hoekom ek hierdie plek sal mis. Ek wil ook nie kleingelowig of sinies klink nie, maar om die liefde van my lewe te ontmoet in Suid-Afrika is ook nie hoog op my lys van verwagtinge nie. Dit mag selfs gebeur dat ek later besluit om weereens weg te gaan van my familie en my eie land.

Nietemin, ten spyte van die dinge wat ek sal mis van Taiwan, en ten spyte van die feit dat ek weet ek nie op pad is na ‘n lieflike aardse paradys in my eie land nie, trek elke stukkie weefsel van my liggaam, en elke volt elektrisiteit van my siel in net een rigting.

Maar hoekom, in ag genome hierdie sterk begeerte, en dat ek weet dit haalbaar is om op die 4e Maart in volle glorie die land van my herkoms te bevlieg, is ek nie besig om in te pak en reëlings te tref nie?

As ek op Donderdag, 4 Maart my sogenaamde “rewolusie” uitvoer kyk ek ‘n eerste maand of twee in die gesig wat pynlik armoedig sal vergelyk met die lewe waaraan ek hier gewoond geraak het. Ek sal moontlik die eerste paar weke in die spaarkamer van my jonger suster, of by my ouers moet afpak. Ek sal my voete onder hulle tafels moet inskop “tot ek weer my voete vind”.

Anders as die laaste paar jaar se besoeke aan my familie sal my teenwoordigheid nie wees as ‘n gas wat weer gesig kom wys het, en wie se beursie verseker dat daar elke tweede of derde dag ‘n pekaneuttert of ‘n bottel rooi wyn op die kombuistafel staan nie. Dit sal wees as die broer wat teruggekeer het uit die vreemde, wat ‘n bietjie “bygestaan moet word” tot hy weer op sy voete is. Selfs die ontsteltenis dat ek ‘n teleskoop nodig sal hê om die naaste laatnagkafee raak te sien, sal nie my aandag van hierdie werklikheid kan aftrek nie (nog minder sal dit die situasie verlig).

Kan ek ‘n idealistiese argument formuleer wat my sal laat beter voel? Ja, maar een wat werklik iets sal beteken vyf weke van nou af?

Gaan dit net oor myself, of gaan selfs geliefdes net menslik wees en oor ses weke vir mekaar fluister dat “die ou regtig met ‘n bietjie meer geld hier kon aankom”?

Dis moontlik om al die oproepe te maak, en al die bokse te pak wat sal verseker dat ‘n Maart repatriasie die laaste hoofstuk van hierdie skryfprojek sal wees. Maar sal dit nie, as ek vertroue in myself kan behou en die geloofwaardigheidskrisis kan ignoreer, beter wees om die repatriasie aangeleentheid beter te benader nie? (Al klink dit amper uittartend om te sê ek het nóg drie of vier maande nodig, en “moenie oorhaastig wees nie”.)

Is wankelrige vertroue in myself, en ‘n geloofwaardigheidskrisis voldoende redes om binne minder as vier weke ‘n lewe van vyf jaar op te pak, af te handel, en met meer geloof as besigheidsvernuf my verwaande persoon te gaan uitstal op ‘n nuwe landskap, as ek dit beter kan doen oor drie maande?

Repatriasie, of dan Die Opheffing van My Ballingskap, is ‘n produk. Die afgelope week het ek gepoog om dit aan myself te verkoop teen ‘n belaglike lae prys, met sentimentele musiek en dreigemente van wantroue in myself in die agtergrond. Maar as ek dit nie reg benader, en al die newe-effekte goed genoeg oorweeg nie, gaan ek my voete langer sleep met die afhaal van ‘n enkele muurbehangsel as wat huidiglik die geval is met die proses om my visum te hernu.

Die produk is een wat ek nodig het. Dis die pil wat ek moet sluk om te kan voortgaan met my lewe. Maar om te verwag dat ek nie soos enige mens ‘n bietjie senuweeagtig moet wees om ‘n plek – en ‘n lewe – wat vir vyf jaar lank my identiteit en persoonlikheid help slyp het, agter te laat sonder veel seremonie nie, is om my te reduseer tot die karikatuur wat ek so graag van myself skets.

Dit, is ongelukkig hoe dit is, en dit is my laaste woorde oor hierdie spesifieke aangeleentheid.

Dis Maandag, 9 Februarie 2004 om twee minute voor een in die vroeë oggend. Ek moet gaan slaap, anders kom ek nie môre by daai mediese ondersoek uit nie. Hoe lank kan ek immers nog hierdie maniese pieng-pong in my kop verduur?

___________

Hierdie inskrywing dateer: 09 - 02 - 2004 om 01:02 en sorteer onder Die Februarie-Plan. [...]

Gesluit vir kommentaar.