Ek weet wie ek is, deel twee

VRYDAG 28 MEI 2004

Mense wat dink ek hou daarvan om alleen te wees, moet hulle koppe laat lees. Maar watse alternatief is daar vir die persoon vir wie alleenheid ’n daaglikse realiteit is anders as om sy waarde as individu te bevestig volgens sy eie standaarde?

Hierdie persoon sal poog om sy waarde as ’n enkeling te bevestig in ’n gemeenskap waar lidmaatskap aan ’n groep een van die gesogste pryse is wat ’n individu vir homself kan toeëien.

Om een lid te wees van ’n intieme twee-lid groep word egter veral hoog op die prys gestel, want dit impliseer onder andere dat die individuele lede seksueel aantreklik is vir ten minste een persoon. Dit weer beïnvloed die aansien van hierdie twee lede in die groter sosiale groep waarbinne hulle beweeg, en ook in die breër gemeenskap, want seksuele aantrekkingskrag (en die gepaardgaande bevrediging van ’n ander persoon se behoefte aan plesier) is saam met finansiële vermoëns van die belangrikste faktore wat ’n individu se waarde bepaal in die wêreld waarin ons van hierdie tyd leef.

As jy dus nie ’n gewaardeerde lid van ’n sosiale groepering is nie, en jou seksuele aantrekkingskrag is nie van so ’n aard dat mense fisieke gemeenskap met jou begeer nie (op wyses wat vir almal duidelik is), is daar slegs een moontlike etiket vir jou persoon, naamlik ENKELING-ALLEENLOPER. (As jy egter, as ENKELING-ALLEENLOPER, oor sigbare finansiële vermoëns beskik, sal jy wel mense aantrek wat die voordele wat jou finansiële status inhou, begeer.)

Om ’n ENKELING-ALLEENLOPER te wees, veral een sonder sigbare finansiële vermoëns, is uit die aard van die saak nie so genotvol soos om saam met iemand te wees nie. Dit het ook geensins ’n kalmerende effek op enige eksistensiële angs wat jy dalk ervaar nie. Dit is ook ’n persoonstoestand wat lei tot geniepsige aanvalle op jou waardigheid, wat weereens jou bewussyn van andersheid beklemtoon, wat jou kanse nog verder verminder om wel ernstig opgeneem te word in ’n groter sosiale konteks.

Wat staan jou te doen? Moet jy voor ’n trein inspring? Moet jy ander mense eindeloos verveel met jou selfbejammering? Wat jy doen, is om jou waarde te bevestig volgens jou eie standaarde, wat soms in konflik is met dié van die gemeenskap wat enkelinge met agterdog bejeën en lidmaatskap aan sosiale groepe aanmoedig. ’n Kritiese beskouing van sommige van die gemeenskap se standaarde is dus te verwagte.

Terloops, vir wie maak ek hierdie aantekeninge? Selfs die moontlikheid dat dit net vir myself is, is ondraaglik.

En ek weet waar hierdie nuutste stukkie sosiale kritiek vandaan kom: Dit voel sleg om alleen te wees, so nou vleg ek ’n sweep uit woorde waarmee ek die gemeenskap kan wetter (of ’n sweep wat ek kan klap ’n veilige afstand van die naaste piekniektafel af – ek wil nie my kanse op ’n bietjie gemeenskap te erg in die wiele ry nie).

Ek trek nie ’n enkele woord terug van wat ek gesê het in die voorafgaande paragrawe nie, maar dit is ter wille van intellektuele eerlikheid weereens belangrik om te erken dat ek weet wat my kritiek aanvuur.

Ek is vasgevang in ’n dilemma. Die kloof tussen hoe ek myself sien, en “die gemeenskap” se beskouing van my – soos gemanifesteer word in die reaksies van mense op wat ek met my lewe doen, en wat ek soms in hulle gesigte kwytraak – raak toenemend onoorbrugbaar.

Twee moontlikhede: a) ek moet die erkenning kry van die gemeenskap wat ek glo ek verdien, of b) ek sal voortgaan om die gemeenskap met toenemend venynige minagting te bejeën. (Dit moet noodwendig so wees – as “hulle” nie saam met my is nie, is ek teen hulle. En die malhuis of die tronk kruip nader …)

Hou ek die gemeenskap verantwoordelik vir my eensaamheid? Nee. Ek is reeds skuldig aan sinisme, ek kan nie bekostig om nog onnosel ook te wees nie.

[…]

Nietemin, soos jy die gras soms skud om ’n slang te laat uitkruip, so glo ek my eie gebrek aan gereelde intieme kontak en my afgeslotenheid van die gemeenskap is die medium waardeur ek sekere insigte bekom oor die posisie van die enkeling in die gemeenskap. Die bitterheid waarmee ek soms skryf daaroor, bevestig dat dit nie net ’n interessante onderwerp is wat ek met die objektiwiteit van ’n akademikus bestudeer nie. Ek weet waarvan ek praat.

Weereens kan ek verklaar dat ek weet wie ek is. Weereens kan ek vir mense wat tyd op hulle eie so ver as moontlik vermy, vra of hulle weet wie húlle is – buiten die kombinasie van na-apings om suksesvol te kan funksioneer binne ’n spesifieke sosiale gemeenskap.

Ek kan ook verklaar dat wie ek is nie altyd goed is nie, en definitief nie altyd lekker nie. Mens wonder ook soms wat dan so goed is aan breedvoerige selfkennis as die resultaat daarvan is dat jy jou dae en nagte alleen slyt …

______________________