Ek voel ellendig en verlore, en dreig derhalwe weer transformasie

DINSDAG 30 SEPTEMBER 2003

Terwyl ek vanaand uit die Carrefour stap met nog goedkoop VCD’s en twee bokse ontbytpap, ontstaan die gedagte by my dat ek tot ’n baie groot mate ’n ongelukkige persoon is. Soos almal het ek my beter oomblikke, maar om die waarheid te sê voel ek al ellendig sedert ek hoërskool verlaat het (nie dat daai deel van my lewe ’n hedonistiese helrit was nie). Dit behoort nie vir jou as leser teen hierdie tyd te veel van ’n skok te wees nie, en dit was sekerlik geen geheim vir myself nie.

Die rede vir my voortdurende ellendigheid is gelukkig eenvoudig om vas te pen, siende dat ek meeste van my dae en nagte spandeer in diepe kontemplasie opsoek na oorsake vir presies sulke dilemmas – ek vind dit moeilik, selfs onmoontlik, om myself te verbind aan die hoofstroom van lewe waarbinne meeste van my tydgenote hulle bestaan voer (oftewel dan my karikatuur van die sogenaamde “mainstream”).

Waarom hierdie gebrek aan entoesiasme? Lang storie kort, ek glo dat die dood immer wagtend is. En as gevolg van die skadu van my eertydse geloofsoortuigings glo ek verder dat, wanneer jy voor die Hekke van die Hemel en die Hel staan, jy gevra sal word om te verduidelik wat jy met jou lewe aangevang het.

As jy antwoord dat jy ’n goeie vaste betrekking gehad het en regtig ’n aanwins was vir die maatskappy, sal die reaksie, in my opinie, heel waarskynlik wees dat dit nie goed genoeg is nie. As jy voortgaan deur by te voeg dat jy ook in ’n intieme verhouding betrokke was, en dat julle verhouding regtig ’n pragtige voorbeeld was aan ander, sal die antwoord miskien ’n glimlag ontlok, maar nie veel meer nie. Die aanvanklike reaksies sal jou miskien ’n bietjie gespanne laat, so jy verander dalk jou storie so effens. Jy vertel dat jy en jou maat ook reeds ’n afstammelinkie verwek het, en dat ’n tweede enetjie reeds driftig op pad is. “Veels geluk!” sal die Hekwag dalk sê, “maar gaan gerus voort.”

As jy aan die ander kant in die posisie is om te kan sê, “Ek het ’n boek geskryf oor die betekenis van die lewe, en ek het regtig ellendig gevoel meeste van die tyd,” mag jy, so glo ék in elk geval, dalk net ’n halwe kans hê op ’n plek in die paradys.

* * *

Hier sit ek dus met ’n bakkie vars ontbytpap, krappend aan meer notas oor my ellendige bestaan, opsoek na beter antwoorde oor die doel en betekenis van my lewe as dié wat ek reeds geformuleer het.

Ek reken die feit dat ek die woonstel wat ek vir 56 maande lank beset het, verlaat het om presies 4:39 vanmiddag,[1] vul my nie met hoe ek veronderstel ’n LSD-trip behoort te voel nie. Ek voel effens verlore. En die kakkerlakke in my nuwe hoofkwartier is nie bevorderlik vir ’n beter gemoedstoestand nie. Ek het ook ’n donkergroen laken oor my sitkamervensters gedrapeer, maar dit blyk ’n onaangename effek op my te hê – ’n bewuswording van intense afgeslotenheid.

Ten spyte van al hierdie dinge klou ek vas aan die oortuiging dat nuwe tye voor my lê. Ek oorweeg immers tans ’n transformasie van my totale wese – ’n algehele metamorfose. Ekis moeg daarvoor om ellendig te wees. Ek is moeg daarvoor om nie te “weet” nie. Ek is moeg daarvoor om rond te sweef soos ’n verkoolde stuk koerantpapier by ’n Saterdagbraai. Ek is selfs besig om hoogs ontevrede te raak oor my huidige finansiële situasie. Ek is ook moeg vir kakkerlakke, klam vloere, lugbesoedeling, gebreekte wasmasjiene, toilette waar die ring en die deksel verskillende, ewe afstootlike kleure is, en baddens net groot genoeg om my groottoon in te druk.

Ek beplan om hierdie skryfprojek klaar te maak en myself dan te kwalifiseer as … ’n rekenmeester. Ek sal onherkenbaar wees vir vriend, vyand en familielid. Ek sal ’n duur pak klere kantoor toe dra, en ’n duur horlosie sal aan my linkerpols hang. Aan my voete sal ek die beste kwaliteit skoene dra, mét sokkies. En ek sal ’n motorkar bestuur, en ’n nuwe huis bewoon – sonder kakkerlakke, in die regte deel van die dorp.

Beplan ek om “uit te verkoop”? Beslis. Ek beplan om alles in my vermoë te doen om my huidige oortuigings te verloën. Ek sal my bes doen om skaamte te kultiveer vir my jare van armoede en kreatiewe ambisies. Ek sal al my notaboeke verbrand. Ek sal nooit weer ’n pen besit nie, behalwe as dit ’n goue pen is wat aan my geskenk word deur ’n maatskappy as dankbetuiging vir jare se getroue diens. Ek sal elke aand láát werk in die desperate hoop dat ek bevorder sal word. Ek sal trou en twee kinders kry, maar ek sal nie eens aan ’n grassnyer vát nie omdat dit benede my nuwe status sal wees.

Ek sal die plakkaatseun wees van volmaakte geluk. En ek sal vergeet dat daar ooit ’n tyd in my lewe was wat ek nie “geweet” het nie, of wat ek probeer het om te “verstaan”.

Op hierdie punt moet ek myself egter in die rede val. My wasgoed moet opgehang word, en ek moet na die 7-Eleven toe stap om kakkerlak valletjies te koop. En na hierdie nuutste uitbarsting is my notaboek nog nader aan sy einde. Plus, ek kan definitief doen met ’n nuwe pen …

———————-

[1] Hierdie was reeds die Dinsdag na die Vrydag wat meeste van my besittings en meubels na die nuwe woonstel toe gekarwei is. Ek het tot op hierdie Dinsdag nog heen en weer gery met plastieksakke vol ou koerante en kosbare ornamente.

______________________