EK VOEL ELLENDIG EN VERLORE, EN DREIG DERHALWE WEER TRANSFORMASIE
Die idee mag dalk by jou (die leser) posvat dat van my stukke deesdae frases insluit soos, “Op pad na die Seven Eleven toe…,” of “Soos ek besig was om my wasgoed op te hang….” Hierdie insluitings moet tog nie gesien word as goedkoop truuks om die indruk te skep dat ek ‘n lewe het buite my hoof-aktiwiteit van om onleesbare notas te griffel nie. Die rede vir hierdie verwysings is eenvoudig: Siende dat ek bitter weinig tyd in gesprek met ander mense spandeer – en definitief nooit terwyl ek my daaglikse take verrig nie – het ek nie veel van ‘n keuse anders as om myself geselskap te hou nie. Dit is gewoonlik hierdie gesprekke wat lei tot die gekrap in die notaboeke.
So, terwyl ek vanaand uit die Carrefour stap met nog goedkoop VCD’s en twee bokse ontbytpap, ontstaan die gedagte by my dat ek tot ‘n baie groot mate ‘n ongelukkige persoon is. Soos almal het ek my beter oomblikke, maar eintlik voel ek al ellendig sedert ek hoërskool verlaat het (nie dat daai deel van my lewe beskryf kan word as ‘n hedonistiese helrit nie). Dit behoort nie vir jou as leser teen hierdie tyd te veel van ‘n skok te wees nie, en dit was sekerlik geen geheim vir myself nie.
Die rede vir my voortdurende ellendigheid is gelukkig eenvoudig om vas te pen, siende dat ek meeste van my dae en nagte spandeer in diepe kontemplasie opsoek na oorsake vir presies sulke dilemmas – ek vind dit moeilik, selfs onmoontlik, om myself te verbind aan die hoofstroom van lewe waarbinne meeste van my tydgenote hulle bestaan voer (oftewel dan my karikatuur van die sogenaamde “mainstream”).
***
Waarom die gebrek aan entoesiasme oor die sogenaamde “hoofstroom van lewe”? Eenvoudig soos hierdie sake soms is, is dit omdat ek glo dat die dood altyd immerwagtend is. En as gevolg van die skadu van my eertydse geloofsoortuigings glo ek verder dat, wanneer jy voor die Hekke van die Hemel en die Hel staan, jy gevra sal word om te verduidelik wat jy met jou lewe aangevang het.
As jy antwoord, “Ek het ‘n goeie vaste betrekking gehad, en ek was regtig ‘n aanwins vir die maatskappy,” sal die reaksie heel moontlik wees, “Nie goed genoeg nie.” As jy voortgaan deur by te voeg, “Ek was ook in ‘n intieme verhouding betrokke, en ons verhouding was regtig pragtig,” gaan die antwoord soortgelyk wees.
Teen dié tyd is jy miskien al ‘n bietjie gespanne, so jy verander dalk jou storie so effens. “Eintlik was ek getroud, en ons het onlangs geslaag daarin om die lieflikste afstammelinkie te verwek!” Die respons in hierdie geval sal dalk ‘n bietjie vriendeliker wees. “Veels geluk!” sal die Hekwag sê, “maar gaan gerus voort.”
As jy aan die ander kant in die posisie is om te kan sê, “Ek het ‘n boek geskryf oor die betekenis van die lewe, en ek het regtig ellendig gevoel meeste van die tyd,” mag jy, so glo ék in elk geval, dalk net ‘n halwe kans hê op ‘n plek in die paradys.
***
So, hier sit ek dus met ‘n bakkie vars ontbytpap, krappend aan meer notas oor my ellendige bestaan, opsoek na beter antwoorde oor die doel en betekenis van my lewe as dié wat ek reeds geformuleer het.
Ek reken die feit dat ek die woonstel wat ek vir 56 maande lank beset het, verlaat het om presies 4:39 vanmiddag*, vul my nie met hoe ek veronderstel ‘n LSD-trip behoort te voel nie. Ek voel effens verlore, en die kakkerlakke in my nuwe hoofkwartier is nie bevorderlik vir ‘n beter gemoedstoestand nie. Ek het ook ‘n donkergroen laken oor my sitkamervensters gedrapeer (hoofsaaklik om die bure se koppe in hulle eie woonstelle te hou), maar dit blyk ‘n onaangename newe-effek op my te hê – ‘n bewuswording van intense afgeslotenheid.
Ten spyte van al hierdie dinge dring ek aan op die geloof dat nuwe tye voor my lê. Ek oorweeg tans ‘n transformasie van my totale wese – ‘n algehele metamorfose. Ek is moeg daarvoor om ellendig te wees. Ek is moeg daarvoor om nie te “weet” nie. Ek is moeg daarvoor om rond te sweef soos ‘n verbrande stuk koerantpapier by ‘n Saterdagbraai. Ek is selfs besig om hoogs ontevrede te raak oor my huidige finansiële situasie. Ek is ook moeg vir kakkerlakke, klam vloere, lugbesoedeling, gebreekte wasmasjiene, toilette waar die kleurskema van die onderskeie dele bots, en baddens net groot genoeg om die punt van my… toon in te druk.
Ek beplan om hierdie projek klaar te maak, en om myself dan te kwalifiseer as… ‘n rekenmeester. Ek sal ‘n duur pak klere kantoor toe dra, met ‘n duur horlosie wat aan my pols hang. Aan my voete sal ek die beste kwaliteit skoene dra, met sokkies. En ek sal ‘n motorkar bestuur, en ‘n nuwe huis bewoon, sonder kakkerlakke, in die regte deel van die dorp.
Beplan ek om “uit te verkoop”? Beslis. Ek beplan om alles in my vermoë te doen om my huidige oortuigings te verloën. Ek sal my bes doen om skaamte te kultiveer vir my jare van armoede en kreatiewe ambisies. Ek sal al my notaboeke verbrand. Ek sal nooit weer ‘n pen besit nie, behalwe as dit ‘n goue pen is wat aan my geskenk word deur ‘n maatskappy as dankbetuiging vir jare se getroue diens. Ek sal elke aand laat werk in die desperate hoop dat ek bevorder sal word. Ek sal trou en twee kinders kry, maar ek sal nie eens aan ‘n grassnyer vát nie omdat dit benede my nuwe status sal wees.
Ek sal die plakkaatseun van volmaakte geluk wees, en ek sal vergeet dat daar ooit ‘n tyd in my lewe was wat ek nie “geweet” het nie, of wat ek probeer het om te “verstaan”.
Op hierdie punt moet ek myself egter in die rede val. Ek moet my wasgoed gaan ophang, en ek moet na die Seven Eleven toe stap om kakkerlak-valletjies te koop. En die skoon bladsye van my notaboek is besig om min te raak. Plus, ek kan definitief doen met ‘n nuwe pen…
(Dinsdag, 30 September 2003)
___________
* Hierdie was reeds die Dinsdag na die Vrydag wat meeste van my besittings en meubels na die nuwe woonstel toe gekarwei is. Ek het tot op hierdie Dinsdag nog heen en weer gery met plastieksakke vol ou koerante en kosbare ornamente.
___________
