Ek probeer om radikaal te wees, sonder my blou kitaar

WOENSDAG 3 MAART 2010

11:58

Twee (moontlik) onverwante gedagtes:

1. My blou elektriese kitaar wat ek in 2000 aangeskaf het in ’n maniese periode toe ek gedink het ek gaan ’n popster of iets word, het uiteindelik sy ware doel en waarde ontbloot: om na tien jaar verkoop te word vir kosgeld wat moontlik so lank as twee weke sal hou.

2. Vir as ek dit gemis het, die punt is opvoeding, en meer spesifiek, ek wat ander mense se opvoeding fasiliteer. Ek reken die onderwerp is voor die hand liggend: finansiële onafhanklikheid. (Hoe werk dit, as ek self sukkel om kop bo water te hou? Ons leer uit mekaar se foute, en uit wat ons wysraak op pad êrens heen.)

20:39

Dit is beter om psigoties te wees en/of in ’n waan te leef as om op te gee. “One can never be radical enough; that is, one must always try to be as radical as reality itself,” het Lenin blykbaar op ’n dag gesê.

VRYDAG 5 MAART 2010

Drie beelde:

– die suksesvolle persoon – familie en vriende ag hom as suksesvol, so ook kollegas en kennisse, maar bowenal ag hy homself as suksesvol

– die een wat opgegee het – trek lewensenergie uit enige een wat nog probeer om iets te doen; skiet alle pogings en idees af; versuur ander mense se hoop; kritiseer alles; bitter

– die een wat aanhou probeer – selfs as dit op ’n punt kom wat sy vriende en familie begin dink dat hy dit nooit sal “maak” nie, selfs al slaag hy nie daarin om sy doelwitte te verwesenlik in die redelike tyd wat hy vir homself gestel het nie, sal hy aanhou werk daaraan, en hy sal heel waarskynlik aanhou tot die dag wat hy verwelk en in die niet verdwyn

SONDAG 21 MAART 2010

Niks beklemtoon jou skande en verleentheid heeltemal soveel soos om absoluut geen kontant in jou beursie te hê nie, en nie genoeg geld in die bank om dit wat jy het, by ’n OTM te trek nie.

VRYDAG 26 MAART 2010

Ek toon al vir jare hierdie neiging om ongemaklik te wees oor die moontlikheid van oormatige geluk.

Sê ’n stem in my kop: Jy doen op die oomblik omtrent 25 of 30% op die geluk-skaal. Baie mense kan gaan tot so 80% voor hulle ongemaklik begin raak. Jy kan self gaan tot so 60 of 65% voor jou kop sal ontplof, so ten minste vir die afsienbare toekoms het jy niks om oor bekommerd te wees nie.

MAANDAG 29 MAART 2010

Beskerm die gees – dit is jou primêre verantwoordelikheid. Wanneer die gees begin kwyn, begin alles ontrafel.

______________________