Deur 03 - 12 - 2003

[Op hierdie tydstip het die begeerte weereens by my ontstaan om my lidmaatskap van ‘n sekere spesie soogdier te bevestig. Ek was moontlik effens luierig toe my vingers op die sleutelbord gaan lê het, of dalk het ek gereken die poging sal in elk geval nie veel van ‘n indruk maak nie. Nogtans, hier is...]

EK EN JY

Ek is helaas nie van ‘n ander planeet nie. Ek is tot ‘n groot mate net ‘n gewone ou. Ek slaap, eet, besoek die badkamer verskeie kere elke dag van al die tee wat ek drink, en lag as iets snaaks is. Ek hou van flieks, kyk so nou en dan sport, en lees die koerant elke tweede dag. As ‘n heteroseksuele man kan ek myself soms verkyk aan mooi vrouens, en ek het normale dierlike drange. Ek moet ook rekeninge betaal, en van tyd tot tyd die tandarts besoek. Ek kry griep so een keer per jaar, kry koud in die winter, en veels te warm in die somer. As ek dus sê hierdie is mý literêre projek, en niemand anders s’n nie, is ek dus net half reg. Wat ék ervaar, ervaar baie. Wat ek vrees, word deur ander ook gevrees. Wat my irriteer en kwaad maak het dieselfde effek op vele ander.

Tog, ek is nie net die volgende ou met ‘n ander naam en ander lyne oor my gesig nie. Behalwe vir die uniekhede wat almal ‘n bietjie anders maak, moet daar tog iets méér wees wat my onderskei van meeste ander. Wat sou hierdie aspek wees? Ek glo dit is die feit dat ek vroeg in my lewe reeds bewus was van die grootsheid van dinge, en daarmee saam ook ‘n pynlike bewussyn van my eie nietigheid. Ek het aanvanklik die noodwendig gepaardgaande angs probeer neutraliseer met godsdiens, tot dit om verskeie redes effektiwiteit verloor het.

Die verskil tussen my en jou is dalk dat ek bewus is van die feit dat ek aan die einde nie werklik saak maak nie. Ek aanvaar dit tot ‘n mate. Maar teenstrydig soos die lewe is, moet ‘n mens steeds jou bes probeer om wél op een of ander manier vir iemand iets te beteken. My keuse, in ag genome hierdie begeerte, is om te skryf.

Ander mense kies weer om ander dinge te doen om iets vir iemand anders te beteken. Miskien doen jy iets spesifiek in ‘n waardige en opregte poging om meer waarde aan jóú lewe te gee. Miskien doen ék nie daai spesifieke ding nie. Dalk skryf jy ook. Dalk skryf ons selfs oor dieselfde onderwerpe, wat sal beteken die enigste verskil tussen my en jou is ons name, en die lyne op ons gesig… Whatever. Eintlik ‘n kakkerige stuk, maar wat maak dit saak…

[Woensdag, 3 Desember 2003]

___________

Hierdie inskrywing dateer: 03 - 12 - 2003 om 20:04 en sorteer onder Boek Twee. [...]

Gesluit vir kommentaar.