EINDKONTEMPLASIE, DEEL EEN/DIE UITEINDELIKE HOOP

Deur 25 - 09 - 2003

Ek voel dat ek besig is om die einde te bereik van wat ek in retrospek my “boek” kan noem. Ek het nie al die vrae gevra nie (wie kan?), en ek het nie al die antwoorde nie (wie het?). Wat ek wel weet, of in oortuiging glo, is waaroor die lewe buite my kamervenster gaan.

Waaroor gaan die lewe dus, volgens my? Op die mees elementêre vlak is dit ‘n stryd om oorlewing. Van die miserabele boemelaar wat in agterstraatjies deur rommelsakke grawe, tot by Bill en Melinda Gates, die Pous, die Dalai Lama, die President van die Verenigde State, terug tot by die baba wat ‘n minuut gelede gebore is in die agterbuurte van Kolkata. Almal is altyd, van die oomblik van geboorte tot en met die oomblik van fisiese dood, gewikkel in ‘n stryd om oorlewing. Hierdie stryd word gevoer op baie verskillende vlakke, en ter wille van ‘n beperkte hoeveelheid behoeftes wat bevredig moet word.

Een van hierdie behoeftes het toenemend my belangstelling geprikkel die afgelope paar jaar. Hoe meer ek na my eie lewe kyk, en die wêreld buite my voordeur waarneem, hoe meer word die belangrikheid van die behoefte, die drang om êrens te behoort, bevestig – om te weet hoe jou lewe gekoppel is aan ander vorms van lewe (en selfs lewelose objekte), in terme van die verlede, die hede, en die toekoms. Dit sluit in om te verstaan hoe jy inpas tussen ander spesies op hierdie planeet, en hoe jy inpas tussen die skreeuende massas mense, en tussen teenstrydige godsdienstige tradisies en uiteenlopende geskiedenisse van die mensdom.

Alle soogdiere – om die groep diere te kies waaronder ook die mens sorteer – weet instinktief waar hulle behoort. Dit is, alle soogdiere wie se natuurlike lewens en habitat nie versteur of verander is tot so ‘n mate dat hulle lei aan dieselfde droefenis as soveel mense in die moderne wêreld nie.

Om verward te wees oor jou plek in die wêreld – om nie te weet waar jy hoort nie, word meegebring deur verskeie faktore. Een van hierdie faktore is die vervreemding van ‘n individu van die omgewing waar hy op ‘n sekere stadium van sy lewe geweet het op watter wyses en tot watter mate hy behoort. Hierdie vervreemding word op sy beurt onder andere teweeg gebring deur ontnugtering met dit wat voorheen sy identiteit gedefinieer het, en sy plek in die groter wêreld bepaal het. ‘n Voorbeeld van laasgenoemde is die vervreemding wat plaasvind tussen ‘n individu en die religieuse gemeenskap waarvan hy voorheen ‘n bevestigde lidmaat was – vervreemding veroorsaak deur onder andere persoonlike ervarings en/of intellektuele blootstelling wat soms die geloofwaardigheid van oorgelewerde waarheid wegvreet.

Wanneer dit gebeur, wanneer ‘n persoon gekonfronteer word met die realiteit dat hy nie meer weet hoe en waar hy inpas in die Groter Landskap nie, sal hy dit moeilik vind om homself te verbind en toe te wy aan enige iets anders as dit wat aan hom onmiddellike vertroosting bied in die aangesig van ‘n wêreld wat hy toenemend antagonisties sal vind.

Identiteit – om jou eie naam te ken, jou nasionaliteit, persoonlikheid, voorkeure, talente, belangstellings, vrese, sterkpunte en swakhede, asook jou ambisies en drome – stel ‘n mens in staat om te weet waar jy staan met ander mense, en derhalwe om verhoudings aan te knoop. Dit is deur hierdie verhoudings wat ‘n persoon uiteindelik lidmaatskap verkry aan groepe en gemeenskappe; ‘n faktor wat ‘n betekenisvolle rol sal speel in die vermindering van sy weerloosheid as ‘n enkele individu. Lidmaatskap aan groepe en gemeenskappe sal hom in staat stel om minder te vrees, wat sy selfvertroue sal verbeter, wat die waarskynlikheid sal verhoog dat sy fisiese en emosionele behoeftes bevredig sal word. As hierdie gemeenskappe ‘n religieuse gemeenskap insluit, kan hierdie individu selfs aan homself, en aan ander verduidelik hoe hy glo hy deel uitmaak van ‘n werklikheid wat tyd en ruimte oortref.

Bogenoemde is die ideaal van positiewe en opbouende verhoudings. Negatiewe en destruktiewe verhoudings bevredig óók die behoefte om êrens te behoort, maar op ‘n wyse wat nie vrees en angs verminder nie. Sulke verhoudings inhibeer ook soms meer positiewe en opbouende sosiale interaksie. Nietemin, ook “slegte” verhoudings beklemtoon die belangrikheid van die behoefte om deel te wees van iets wat groter is as net die enkele individu.

Om aktief deel te wees van groepe en gemeenskappe het ‘n mens nodig om sekere basiese dinge oor jouself te weet en, wanneer nodig, te bevestig (jou naam, jou persoonlikheid, belangstellings, talente, oortuigings, en ander dinge wat reeds genoem is). ‘n Mens het ook ‘n basiese kennis en begrip nodig van die wêreld waarin jy jouself bevind op ‘n daaglikse basis.

Indien ‘n persoon se intellektuele ontwikkeling die grense oorskry van ‘n oorgelewerde begrip van “hoe dinge werk” (in die gemeenskap waarbinne die persoon homself bevind), of indien hierdie begrip geloofwaardigheid verloor as ‘n resultaat van sekere persoonlike ervarings, of na blootstelling aan ‘n alternatiewe filosofiese verwysingsraamwerk of omvattende beskouing van bestaan, sal hy noodwendig sekere vrae stel. Beginsels sal ook geïdentifiseer (of geherdefinieer) moet word om sy begrip van menslike bestaan te fasiliteer. Hierdie beginsels, en die begrip wat daarmee saam sal ontwikkel, sal uiters bevorderlik wees vir die proses van identiteitsvorming (of herdefiniëring van identiteit). Hierdie proses sal die persoon in staat stel om te weet, of opnuut te ontdek, hóé, waar en met wie hy verhoudings behoort te kultiveer.

Uiteindelik sal die hoop van so ‘n persoon wees om ‘n beter begrip te hê van hoe hy deel vorm van alles wat is, was, en moontlik nog kan wees, en om voort te kan gaan met sy bestaan, maar as iemand wat nie op ‘n daaglikse basis vervreemd voel van alles en almal om hom nie.

[Geskryf êrens tussen 22 en 25 September 2003]

___________

Hierdie inskrywing dateer: 25 - 09 - 2003 om 23:12 en sorteer onder Boek Twee. [...]

Gesluit vir kommentaar.