Eindbestemming – kort termyn parkeerplek

DONDERDAG 17 FEBRUARIE 2005

10:20

As ek per trein reis van Moskou na Parys, en ek vertoef vir ’n dag of twee in Berlyn, sal dit onjuis wees om te beweer dat my reis gestagneer het. My reis is steeds aan die gang; ek spandeer bloot ’n dag of twee op ’n plek tussen beginpunt en bestemming.

As ek per trein reis van Moskou na Parys en ek stop vir ’n dag of twee in Berlyn, sal dit ook onjuis wees om te verklaar dat my eindbestemming – Parys – nie bestaan nie, omdat ek dit nog nie bereik het nie. Parys – my eindbestemming – gaan nie uit die niet ontstaan soos my trein daai plek op die kaart nader nie. Die plek waarheen ek op reis was sedert die trein uit die stasie getrek het in Moskou, het van die begin af bestaan. Terwyl ek vertoef het in die een plek of die ander, het my eindbestemming reeds bestaan.

Die eindbestemming bestaan onafhanklik van my – dis daar, lank voor ek dit bereik, lank voor ek die eerste keer die stad op die horison gewaar, lank voor ek die strate van my eindbestemming bewandel, en die lug van hierdie plek inadem.

11:59

Ek sit in die passasiersitplek van ’n geparkeerde motorkar, op ’n kaal stuk veld wat bekend staan as My Suster En Swaer Se Plot Buite Bronkhorstspruit.

My swaer verduidelik van ’n lapa, ’n swembad, vier slaapkamers, ’n dammetjie, bome wat oor ’n dekade of so lang skadu’s gaan gooi oor honde en kinders en grootouers wat om ’n braaivleisvuur gaan sit en kuier.

Ek vind dit redelik interessant. Met gevoude arms maak ek ’n opmerking oor “geloof in dit wat jy nog nie kan sien nie” terwyl my swaer ’n pik van hoog bo sy kop neerpletter op ’n stukkie aarde waar ’n boom sy bestaan sal uitleef.

Ek vind die oomblik, en die plek waar hierdie reeks momente van my lewe uitspeel, aanvaarbaar in terme van betekenis en vermaaklikheidswaarde.

Ek weet ook dat as ek oor sestig minute nog hier sit, in die passasiersitplek van ’n geparkeerde motorkar in die Afrika son, ek onrustig gaan raak … en nie meer heeltemal so tevrede met die waarde en vermaaklikheid van die reeks momente wat dán my lewe sal wees nie.

“Short-term gratifications,” sê ek vir myself, en draai die volumeknoppie op die radio ’n paar kerwe aan.

______________________