Eie spoor – trein insig

DINSDAG 15 JUNIE 2004

’n Goederetrein tref een wat te veel op sy eie spoor rondhang

Soos ’n goederetrein laat in die nag ’n dronke op ’n treinspoor nugter skrik, so’t ’n idee my onlangs getref: Sommige mense na aan my glo die hoofrede hoekom ek na al hierdie jare steeds in Taiwan is, is omdat ek volgens hulle … sal ons maar net sê, ’n “alternatiewe” seksuele oriëntasie het, en dat om hier te wees – weg van die nuuskierige oë van mense wat my ken, ek my seksualiteit kan uitleef soos ek dit goedvind.

Laat my toe om die volgende opmerkings te maak oor die onderwerp (met die betrokke mense baie na aan my die bedoelde lesers):

1) Ek is bewus van die feit dat hierdie tipe wanpersepsie jare vat om by mense se verbeeldings in te sluip, en dit word nie gewoonlik verjaag net omdat die persoon sê, “Julle is verkeerd” nie.

2) Julle is verkeerd.

3) As mense nie meer komplekse redes verstaan vir die besluite wat ander maak, of verstaan wat hulle motiveer nie, werk hulle verbeeldings gewoonlik oortyd om op te maak daarvoor.

4) Ek het geen probleem met homoseksualiteit nie, so moenie verwag dat ek ongemaklik moet wees wanneer die onderwerp aangeroer word nie.

5) Laastens, as, en wanneer ek ’n vrou ontmoet met wie ek ernstige tyd wil spandeer, sal dit nie wees om enige iemand anders as myself en hierdie spesiale persoon gelukkig te maak nie.

O ja, een laaste ding: dankie daarvoor dat my kant steeds gekies was teen dié wat miskien minder verdraagsaam is in sulke aangeleenthede, al het almal die pot ’n bietjie mis gesit.

WOENSDAG 16 JUNIE 2004

Nog ’n trein insig

Mense kyk om hulle rond en sien wat goed, en suksesvol en effektief vertoon as mens-modelle. Hulle kyk dan na hulself, sien waar hulle te kort skiet, en ontwikkel obsessies om op te maak vir wat hulle sien as tekortkominge.

Wat lê agter dit? Ek glo, soos voorheen, wat agter dit lê is vrees. Die “potensiële” mens word, soos ’n Frankenstein karakter, lewendig geskok deur die bliksemstraal van vrees. Vrees vir wat? Vrees om te misluk as ’n mens, om ingesluk te word in die Groot Nietigheid in, en om vergeet te word asof hulle nooit enige voetspore getrap het op terra firma nie.

[Teks is teks, reg? Wat nie gelees kan word tussen die lyne van bostaande twee paragrawe nie, is dat ek amper my beursie verloor het, en ’n halfuur op ’n verlate treinstasie moes spandeer tussen Gebuigde Dorp Nommer Nege en my tuisdorp van Fengshan, as gevolg van my onwilligheid om te wag tot ek by die huis kom voordat ek gedagtes neerskryf.

Ek het op hierdie Woensdagoggend gewag vir ’n trein op Nommer Nege se stasie. Die spesifieke bewoording van bostaande teks het my grysstof binnegedring, ek het my klein pakkie papiertjies uit my boeksak gehaal, nie die ritssluiter toegemaak nie, en die nota begin maak. Die trein trek toe by die stasie in net soos ek die laaste sinne neerskryf. Ek gryp toe my sak, my papiertjies, my bottel water en my pen, en hardloop vir die naaste oop deur. Eers op die trein besef ek die sak was oop. Ek voel toe rond vir die beursie, en na ek in al die moontlike plekke rondgevroetel het, kom ek tot die konklusie dat die beursie uitgeval het.

Die stasiemeester op die volgende stasie – wat ek eers met die tweede probeerslag opgespoor het, telefoneer toe die ander stasiemeester, en ’n halfuur later was ek weer verenig met my beursie, my drie banknote en my bioskoop VIP-kaart.

Dit kon erger gewees het, het ek myself getroos: Ek kon dalk die bewoording van ’n interessante gedagte vergeet het.]

______________________