Eerste treë van my tienduisendmylreis terug huis toe

Agtergrond:

1. EPIK was die staatsorganisasie wat Engelse onderwysers gewerf het vir publieke skole in Korea. Nasionaliteit was van kardinale belang; Suid-Afrikaners het nie gekwalifiseer nie. Ek het dit geweet voordat ek aansoek gedoen het, maar het nogtans ’n kans gewaag.

Die warmwaterstelsel in Korea werk met olie wat elke paar weke opgevul moet word. Ek en Mrs. Kim – wie se huis dit was – het beurte gemaak om te betaal daarvoor.

———–

Dinsdag 24 Februarie 1998

Op Maandag 16 Februarie het ek die EPIK-kantoor gebel. Die vrou het kategories verklaar dat ek nie aanvaarbaar is vir die program nie. Ek was ietwat verlig.

Op Donderdag 19 Februarie kom Mr. John Lee van Top Language Institute na my skool toe om my in te lig dat ek vanaf Maart twee ure per dag vir hom sal werk. Ek wonder toe oor die kompensasie, siende dat ek teen Maart streng gesproke my skool twee ure per dag sal skuld.

Op Sondag 22 Februarie het ek ’n befokte dag in Seoel saam met twee ander expats. Ons besoek die één plek in Korea waaroor ek regtig spyt sou wees as ek dit nie gesien het nie – die DMZ [Demilitarised Zone] tussen Noord- en Suid-Korea.

Gister, Maandag 23 Februarie, is ek in ’n antagonistiese bui. Ek het weereens nie warm water nie, en ek sou graag wou weet oor die Top affêre. Ek besluit om direk met Mrs. Kim te praat. Sy sê “as ek wil” kan ek twee ure per dag vir Top werk, dis “oukei” met haar. Ek vra hoeveel ek sal kry vir die klasse. Sy sê ₩200,000 [$200/R1,000] per maand. Dit is ₩200,000 vir veertig ure, wat uitwerk teen ₩5,000 [$5/R25] per uur. Ek sê toe vir haar: “I just happen to know Mr. Lee pays ₩15,000 per hour. What’s happening to the other ₩10,000?” Ek werk uit dat die hele storie ₩600,000 per maand werd is (volgens hoeveel Lee sy ander onderwysers betaal), waarvan ek slegs ₩200,000 sal kry. Die tafel is gedek. Ek is die moer in.

Om alles te kroon, word ek vertel dit is my beurt om te betaal vir die olie. Die bedrag is ’n verbysterende ₩189,000 [$189/R945]!

Ek sê gisteraand vir [Mrs. Kim se seun] ek voel beledig oor die ₩5,000 per uur wat ek aangebied is, en dat ek nie “cheap labour” is nie. Hy sê ek moenie kwaad wees vir hulle oor die olie nie; dis nie hulle skuld nie. Ek sê – heel beleefd – ek is nie kwaad vir hóm nie, maar hy moet ook nie kwaad wees vir mý as ek een of ander tyd sê dat die situasie dit vir my onmoontlik maak om aan te bly in Korea nie.

Die afgelope paar weke voel ek afgerem, getap, soos ek gevoel het verlede Mei toe ek gesê het, “I’m running on empty.” My keel trek toe as ek dink ek moet nog meer as vier maande hier bly. Die ekonomiese krisis het veroorsaak dat my salaris 60% van sy dollarwaarde verloor het … die warmwaterkrisis … die onpersoonlike [long-drop buite, langs die hek] … die wete dat ek steeds ’n lekker cheap bargain is vir […] Foreign Language Institute.

* * *

Gistermiddag, Maandag 23 Februarie, op pad na my middagskof, reken ek, ek het genoeg gehad. Ek gaan werk tot einde Maart, maar ek sal nie teruggaan Suid-Afrika toe nie … ek gaan Europa toe.

Die idee waai soos ’n warrelwind deur die volgende paar dae. Ek vra myself toe of ek dit nie dalk tog sal maak tot einde Junie nie.

Ek besef egter my plan gaan oor meer as net dit. Dit begin al hoe meer sin maak. Miskien sal ek dit wel kan “maak” tot Junie, maar die idee begin vorm aanneem as meer as net ’n emosionele reaksie. Dit raak toenemend die beste plan in ag genome al die relevante faktore, ongeag of ek dit sal kan maak tot einde Junie, en ongeag of ek Korea haat, of net moeg is vir haar.

Dit gaan verder terug as die warmwaterstelsel, verder terug as my lekkende krane, verder terug as die kakhuis by die hek, verder terug as die spoegdruppende mans, die lelike geboue, die vingerwysende kinders, en die asemrowende mooi vrouens.

Dit gaan terug tot by ’n warm somersaand in Desember 1995 – alleen in Stellenbosch, in ’n meubellose woonstel waarvan die huur agterstallig was, en ek wat op die balkon staan en na Gary Moore op my walkman luister wat sing, “One day the sun will shine on you”.

Sondag 8 Maart 1998

Goed, terug na die plan, maar alles is nou reeds in werking. Ek het bedank op Dinsdag 3 Maart om tien voor elf die aand.

Hoekom? Ek haal aan uit notas van 27 Februarie: “Dit gaan oor Korea, maar dit gaan meer oor die plek waar ek werk as oor die land. Dit gaan ook meer oor Europa as oor Korea én die plek waar ek werk. Meer as dit gaan dit oor ’n geleentheid – ’n geleentheid wat nóú daar is vir my om aan te gryp. Ek is bevrees as ek teen die verwagtinge hier oorleef tot einde Junie, sal ek myself binne ’n week of twee terugvind in Suid-Afrika met geen definitiewe planne of vooruitsigte nie.”

Intussen is ek ingelig dat ek nie direk Europa toe kan vlieg nie,* maar ek het nietemin voortgegaan met die bedanking. Ek bly tot einde April; verhouding met Mrs. Kim bly goed, met volle salaris én ₩200,000 bonus. Ek vlieg dan Suid-Afrika toe; wat my nog twee maande gee om planne en vooruitsigte uit te sorteer.

———–

* Ek het ’n retoerkaartjie gehad van die vorige jaar terug Johannesburg toe. Singapore Airlines het eers gesê dit is moontlik om die eindbestemming te verander, maar ’n probleem met die uitreiking van die kaartjie die vorige jaar veroorsaak toe dat hulle dit nie kon doen nie.

Dinsdag 10 Maart 1998

As ek wag tot ek ’n plan foutloos gekontempleer en geargumenteer het, gaan ek lank wag. Die beste advies aan myself is om ’n besluit te maak, die besluit uit te voer na die beste van my vermoëns, en die gevolge te aanvaar wat dit ook al mag wees.

Dit is waar die grootste risiko, en die grootste avontuur lê – in die uitvoer van ’n besluit wanneer jy bereid is om die gevolge te dra. Ek is gereed.

* * *

Moet nooit die grootsheid van die eerste tree van ’n duisendmylreis onderskat nie.

______________________