Duur geld, kosbare tyd, en hoe jy dink aan dinge

DINSDAG 7 MAART 2017

Ek het ooreenkomste met mense om op sekere tye teenwoordig te wees op sekere plekke om mense te help met hulle Engels. Benewens dit hou ek myself besig met vier ander dinge: taalstudie, ander maniere om geld te maak, lees, en skryfprojekte.

Ek kan maklik vier tot agt ure per dag spandeer aan elkeen van hierdie aktiwiteite. Omdat daar net 24 ure in ’n dag is, is ek genoodsaak om minder tyd te spandeer aan hierdie dinge as wat ek graag wil, of wat ek nodig het om sekere doelwitte te bereik.

VRYDAG 17 MAART 2017

I. Die vrou by my een skool het drooggemaak, toe word my werkpermit nie betyds uitgereik nie. Nou is ek volgende week op verpligte onbetaalde verlof. Natuurlik is dit verskriklik, maar ek dink toe ook aan wat ek kan doen in die ekstra tyd wat dit my sal gee.

Dink ek: Daai geld wat ek sou verdien het volgende week is nie gratis geld nie – ek sou betaal het daarvoor met my tyd.

Uit die aard van die saak het ek nodig om ’n sekere hoeveelheid geld te koop elke maand. Vir hierdie doel het ek vaste reëlings om ’n sekere hoeveelheid van my tyd te spandeer om ’n vasgestelde hoeveelheid geld te koop.

Ek dink toe verder dat ek nie die geld wat ek volgende week sou gekoop het nodig het vir iets spesifiek nie. Ek kan wel dink aan ’n paar dinge wat ek kan doen met die tyd wat ek nou nie hoef te spandeer nie. Resultaat: Geen probleem nie.

II. Punt I is ’n voorbeeld van hoe jy jou eie persepsie skep, wat dan jou realiteit affekteer. In stede daarvan dat ek ontsteld is oor die geld wat ek nie gaan kry nie, dink ek nou daaraan dat daai nie gratis geld sou gewees het nie, en dat ek nou nie nodig het om enige tyd te spandeer om daai geld te koop nie. En siende dat ek tyd meer nodig het as geld, is ek gelukkig.

______________________