Duiwels in die Withuis – eerste notas

DONDERDAG 22 JUNIE 2017

Ek was op pad terug van die Chinese restaurant toe ek dink aan Amerika se geskiedenis van ongeregtigheid teen nasies wat nie sterk genoeg was om hulleself te beskerm nie. Kon gedink het aan die Filippyne so amper 120 jaar gelede, Iran in die 1950’s, Vietnam in die 1960’s.

Spesifiek het ek hierdie keer gedink aan hoe die Amerikaanse regering opgetree het om ’n enkele maatskappy (die United Fruit Company) se belange te beskerm in Guatemala in die 1950’s; hoe hulle vuil gespeel het, gelieg het, en mense bedrieg het ten einde ’n progressiewe, demokraties verkose nasionale leier omver te werp; ’n leier wat reeds die proses begin het om aan die mense van Guatemala ’n bietjie menswaardigheid te gee na dekades van verstikkende armoede en uitbuiting deur die Amerikaanse maatskappy.

Ek wonder toe: Watse geregtigheid is daar vir die slagoffers?

Dit: Geskiedenis veroordeel die gewetenlose kriminele wat mense van hul waardigheid beroof het, en van enige kans op ’n ordentlike lewe.

Ek weet dit is karige troos vir honderd-duisende mans, vroue en kinders wat gely en gesterf het omdat hierdie gulsige, kortsigtige duiwels die aarde bewandel het. Maar ten minste is die waarheid opgeteken, swart-op-wit, vir enige iemand wat wil weet.

———–

Indien jy meer wil lees oor hierdie geskiedenis, is die volgende skakels ’n goeie begin:

1954 Guatemalan coup d’état

Congress, the CIA, and Guatemala, 1954

An Apology for a Guatemalan Coup, 57 Years Later

[Kortliks: In 1954 het die Verenigde State se regering, met die steun van die United Fruit Company, ’n staatsgreep in Guatemala georkestreer wat die demokraties-verkose president, Jacobo Arbenz, omvergewerp het. Die voorwendsel vir die ingryping was die beskuldiging dat Arbenz sag op kommunisme was, en derhalwe ’n bedreiging vir Amerikaanse nasionale veiligheid. Die eintlike motief agter die staatsgreep was egter om die belange van die United Fruit Company te beskerm, wat groot hoeveelhede grond in Guatemala besit het en bekommerd was oor Arbenz se grondhervormingsbeleid. (John Foster Dulles, die destydse Amerikaanse minister van buitelandse sake, en sy broer, die destydse CIA-direkteur, Allen Dulles, het ’n beduidende verhouding met die United Fruit Company gehad deur hul vennootskap by die regsfirma Sullivan & Cromwell, waar hulle talle transaksies vir die maatskappy gefasiliteer het.)

Die operasie is deur die CIA uitgevoer en het ’n reeks taktieke behels, insluitend sielkundige oorlogvoering, propaganda en die gebruik van plaaslike anti-kommunistiese groepe. Die CIA het onder andere ’n vals radiostasie geskep wat boodskappe uitgesaai het wat ontwerp is om onenigheid en verwarring onder die mense van Guatemala te saai. Hulle het ook gerugte en vals inligting oor Arbenz en sy regering versprei om die openbare mening teen hom te keer.

Ná die staatsgreep het die nuwe diktator, Carlos Castillo Armas, baie van die maatskaplike hervormings wat Arbenz geïmplementeer het, onder meer grondhervorming en arbeidsbeskerming, omgekeer. Hy het ook opposisiepartye verbied en ’n regime van terreur en geweld gestig wat vir dekades geduur het. Duisende mense is gedurende hierdie tydperk deur regeringsmagte gemartel, verdwyn of vermoor.

Die United Fruit Company het voortgegaan om voordeel te trek uit sy bedrywighede in Guatemala, en die Amerikaanse regering het voortgegaan om die regime te ondersteun deur militêre en ekonomiese hulp te verskaf. Die nalatenskap van die Amerikaanse ingryping in Guatemala word vandag steeds gevoel, aangesien die land sukkel om ’n demokratiese samelewing te bou en die menseregtevergrype van die verlede aan te spreek.]

______________________