Drie redes hoekom ek foute moes maak

DONDERDAG 7 JULIE 2011

Die laaste keer toe ek in Suid-Afrika was, het my ma vir my gesê my pa is bang ek maak dieselfde foute as hy. Ek het dit baie interessant gevind, en het natuurlik saamgestem, maar omdat ek die saak verstaan het op ’n totaal ander manier.

As literatuur die pad is wat ek moet stap, die lewensweg wat ek moet volg, kan dit gesê word dat ek die laaste vyf jaar (en ’n paar maande) die pad byster geraak het. Dit kan dan gesê word dat ek inderdaad dieselfde fout as my pa gemaak het, deur te doen wat ek gedink het “reg” is volgens ander mense se standaarde – of dalk was my eie standaarde ietwat gekompromitteer, maar dis ’n storie vir ’n ander stuk.

Ek is egter van opinie dat die najaag van wins op meer maniere as wat ek kan tel die afgelope half-dekade, nie ’n mors van tyd was nie. Hier is die redes:

Rede een. Ek het geleer hoe om my eie werk te publiseer – van die registrasie van ’n domein tot HTML en WordPress, tot die voorbereiding van manuskripte vir druk-op-aanvraag dienste soos CreateSpace, CafePress en Lulu. Dan is daar ook lesse in bemarking, en ervaring met sosiale media. Ek is nou in staat om myself en my werk bekend te stel aan ’n potensiële gehoor enige plek in die wêreld.

In kort, ek het veel geleer van dinge waarvan ek nie veel geweet het voor ek begin kyk het daarna as deel van pogings om geld te maak nie.

Rede twee. ’n Paar jaar gelede het ek geskryf hoe ontuis ek voel in die sogenaamde Wêreld van Geld. Ek het gekyk na mense wat geld het, en ek het hulle beny vir die oënskynlike gemak waarmee hulle beweeg het in hierdie misterieuse wêreld. Dit was baie duidelik dat hulle oor die regte woordeskat beskik het, geweet het wat die regte aksies was om te neem om geld te maak, en genoeg ander mense geken het wat oor soortgelyke talente beskik.

In die Wêreld van Geld het ek gevoel soos die vaal, plattelandse kind sonder skoene wat by sy neefs en niggies gaan kuier in die Groot Stad.

Nou, meer as vyf jaar nadat ek my soektog na wins en finansiële welstand begin het, na dosyne e-boeke oor bemarking en hoe om geld te maak, dosyne video-lesse, selfs ernstige ondersoek na die moontlikhede van “online poker” en “Forex trading”, kan ek met ’n aansienlike graad van oortuiging sê dat ek nie meer ongemaklik voel in die Wêreld van Geld nie. Meer as dit, ek kan nou sien dat vele van die mense wat my voorheen so beïndruk het met hulle oënskynlike kennis en bedrewenheid met geld, eintlik elke dag maar net hulle oë toeknyp, die dobbelsteen gooi, en hoop vir die beste.

Rede drie. Teen die einde van 2005 het my inspirasie vir nuwe skryfwerk begin opdroog. Daar was nie veel meer wat ek kon of wou sê oor die vele onderwerpe wat ek aangeraak het in my Persoonlike Agenda projek, en die ses maande se skryfwerk wat daarna gevolg het nie. Natuurlik was daar ander onderwerpe waaroor ek kon skryf, maar nie enige wat my genoeg geïnspireer het, of waaroor ek genoeg selfvertroue gehad het om te skryf nie.

Die laaste vyf jaar se vele mislukkings, en enkele – maar betekenisvolle – suksesse, asook die wye spektrum van onderwerpe waaroor ek gelees het, en selfs mense wie ek teëgekom het op aanlyn-forums en oor wie ek gelees het, was, in terugskouing, presies wat ek as produseerder van literatuur nodig gehad het.

Moes ek dus in Januarie 2006 anderpad gekyk toe ek die eerste advertensies gesien het wat een of ander kits-rykdom produk aan my wou verkwansel? Ek wens soms ek het. Ek wens soms ek het nie soveel tyd gemors met so baie navorsing en projekte wat uiteindelik geen dividend gelewer het nie – buiten ’n kriptiese kantnota wat bloot sê, “Dit werk nie – of ek kan dit nie laat werk nie.”

Ek was voorheen vol selfvertroue oor my keuses. Ek was spyt oor min dinge wat ek gedoen het, of nie gedoen het nie. Dit is nou duidelik dat die laaste vyf jaar ’n goeie leermeester was: Dat ek waardevolle lesse geleer het deur foute te maak soortgelyk aan foute wat my eie pa dertig of veertig jaar gelede gemaak het.

Ek is selfs in die versoeking om te sê ek is ’n beter mens as gevolg daarvan.

______________________