Donker Dinsdag | Ligter Donderdag

DINSDAG 29 JULIE 2003

Mens wil nie onnodig op dieselfde snaar bly hamer nie, maar ek reken ek gaan een van die dae in die kak wees. My vermoede is sterk dat ek al vier my vriende op verskillende tye, en om verskillende redes vervreem het. (Is dit beter as om hulle te vervreem om dieselfde rede?) Meer as dit, die suspisie is aan die ontwikkel dat hulle selfs sover gaan om my te vermy. Kan jy dit glo? Onskuldige ek wat altyd aankarring in gesprekke oor “stryd en skepping” en vir almal goed bedoelde preke afsteek oor hoe hulle lewens fokkol werd is as hulle nie kan wegstaan van hulle eie skeppings, en soos die God van Genesis kan sê, “Dis goed!” nie. (En om te dink ek probeer hulle net help om meer vervullende lewens te lei.)

In alle eerlikheid, ek dink nie my teorieë en preke is die enigste stomp swaarde wat vriende en potensiële kennisse verjaag nie. Ek is, behalwe nou vir my hoogs oorspronklike teorieë en gepaardgaande monoloë, ’n hoogs vervelige individu. Goed, ek kan saampraat as die gesprek om die vuur oor geskiedenis of godsdiens gaan, maar ek mag dalk geneig wees om te slim te wees, en miskien net te veel te weet vir die ander mense om ook goed te voel oor húlle algemene kennis. So, tensy die gesprek handel oor sonde, die oorlog in Irak, Hitler, Stalin, of die Middeleeue, is ek in my moer in. Ek het nie ’n motorfiets nie (kan nie eens een bestuur nie), en ek gaan nie oor naweke saam na strandoorde toe nie. Ek vertel nooit vuil grappe langs braaivleisvure nie (kan die donderse goed nooit onthou nie), en ek doen nooit iets op my eie wat mense goed sal vind om oor te vertel aan ander, sodat ek ’n gesonde sosiale reputasie kan opbou nie.

Maar kom ons hou op om rondom die netelboom te steier. Die primêre rede hoekom ek ’n persona non fokkol is, is omdat ek altyd alleen by plekke inloop, en nooit saam met iemand uitstap nie (hoofsaaklik van die teenoorstaande geslag). Ek is, per definisie dus, ’n alleen-loper. En soos mense van voor die tyd van Johannes die Doper al weet, kak almal in hulle broeke as dit lyk of ’n alleenloper in hulle rigting mik.

Die Alleenloper babbel voort oor dinge wat net hy verstaan en interessant vind. Die Alleenloper is melaats. Die Alleenloper het ’n boggelrug. Die Alleenloper het ’n velsiekte wat maak dat hy op ’n afstand geruik kan word. Die Alleenloper het tering, of AIDS … wat by oop sere op sy hande uitdrup in bloed wat dreig om almal te besmet wat om braaivleisvure staan en vuil grappe vertel.

Die Alleenloper is ’n fokken genius. Dit kan nie anders nie. Ek meen, selfs al het hy nie ’n graad in geskiedenis en godsdienskunde nie, selfs al het hy nie ’n boek van ’n paar honderd bladsye oor sy eie lewe geskryf nie, selfs al was hy nie reeds besig met sy tweede digbundel nie (wat, soos die eerste, ’n ongepubliseerde meesterstuk sal wees), selfs al het hy nie sy eie Beginsels van ’n Betekenisvolle Lewe geformuleer nie, moet hy noodwendig uitsonderlik wees: ’n Ongekende profeet wat nie eens in die buiteland erken word nie, wat nog te sê in sy eie agterplaas (as hy ooit so iets sou kon bekostig in die land van sy herkoms).

Hy móét eenvoudig spesiaal wees, iemand wat net nie verstaan en waardeer word deur die plebs wat hy graag sy vriende sou wou noem nie. Hoekom? Want god alleen weet, as hy nie is nie, is hy niks. Dan’s hy ’n verrottende karkas wat selfs deur ander intelligente, gesofistikeerde, verligte mense wat hy voorheen “vriende” genoem het, vermy word. Want instink dryf selfs die mees verligtes onder ons om ons neuse op te trek vir dit wat dood is. Om weg te vlug van dit wat eens geleef het, maar sedertdien eers ’n turn for the worst gevat het, en toe stadig gaan vrek het in die halfskemer stilte van sy privaat kwartiere, êrens in ’n buurt waar niemand wat sy taal praat, meer gesig kom wys nie.

Ag nou ja. Fok almal, dan.

DONDERDAG 31 JULIE 2003

Wie’t my stuk oor die snaar gelees?

Sedert Dinsdagoggend 29 Julie 2003 om 1:32 in die oggend het my een vriend gebel om te vra wanneer ek tyd het – hy wil graag vir my ’n nuwe fietswinkel in die stad gaan wys. Later bel ek my een vriendin. Ons gesels toe vir meer as ’n uur lank oor werk, en oor onsekerhede waarmee sy worstel elke dag. Ensovoorts. Sy’s blykbaar werklik besig. Sy’t blykbaar werklik meer vriende as net die uwe, en sommige van haar vriende hou haar besig met tot twintig sellulêre teksboodskappe op ’n dag. Vanoggend net na ontbyt bel my ander vriendin. Sy’s jammer sy’s so stil deesdae, maar tot die einde van hierdie week is sy besig van Chinese klas in die oggend tot halftien in die aand met werk. So, vra sy, hoe lyk dit met koffie vanaand by haar.

Ag nou ja.

______________________