Dom en desperaat, en ander foute wat ek maak

MAANDAG 3 NOVEMBER 2008

Ontvanklikheid vir buitensporige aansprake, vir resultate wat ongelooflik belowend lyk, word nie so sterk geaffekteer deur hoe redelik of hoe rasioneel jy is (of dink jy is) nie, maar hoe desperaat jy is vir die tipe sukses, en die gepaardgaande vrugte van sukses, wat belowe word.

Ek is spyt

1. dat ek die afgelope amper drie jaar so ontvanklik was vir beloftes en stories van fantastiese finansiële sukses in ’n relatief kort periode;

2. dat ek voortdurend my naïewe verwagtinge gedeel het met mense na aan my, en derhalwe my geloofwaardigheid ondermyn het in hulle oë;

3. dat ek aangehou het om beloftes te maak van besoeke aan my familie – teen “April, of dan Junie” en daarna “September, of andersins teen Kersfees”;

4. dat ek nie vanaf Mei 2006 meer gedoen het om seker te maak ek verdien ten minste NT$30 000 per maand uit Engelse klasse nie; die feit is, my inkomste is al vir ’n geruime tyd heelwat minder as dit, en die gevolge is redelik onsmaaklik.

WOENSDAG 5 NOVEMBER 2008

Ek het onlangs gereken dat ek bepaalde aksies geneem het en projekte begin het sedert Februarie 2006 soos een wat ’n nuwe religie ontdek het: die religie van Making Money From Home.

Ek glo steeds aan die moontlikheid, maar ek sal oneerlik wees as ek nie erken dat ek foute gemaak het nie. Ek was dom en desperaat, en dit was ’n kombinasie wat my gelaat het met min om te wys vir die afgelope dertig maande.

Ek eindig hierdie aantekening met ’n gedagte van gisteraand: Ek is naby, en ek bedoel nie Moses-op-die-berg-wat-nooit-die-Beloofde-Land-sal-betree-tipe naby nie; ek is naby, en ek sál die Beloofde Land betree.

VRYDAG 7 NOVEMBER 2008

Dit voel soms asof ek steeds veg vir die reg om te skryf, asof ek elke nou en dan die waarde wat ek heg aan my skryfprojekte moet regverdig aan mense na aan my wat wil sê, “Hoe kan jy praat van skryf as jy nie geldmaak nie?”

Of, vind ek dit dalk moeilik om die hoë waarde wat ek heg aan my skryfwerk aan myself te regverdig terwyl ek sukkel om kop bo water te hou?

DINSDAG 25 NOVEMBER 2008

Sien weer vanaand ’n handvol jong bendelede op hulle bromponies – een na die ander word die tuie met rukbewegings om ’n draai gegooi. Elkeen het ’n spierwit doppie op die kop, en bypassend fatsoenlike uitrustings.

Ek maak my gebruiklike opmerkings oor mense wat krag vind in die groep, mense wat bereid is om presies dieselfde wit kop-doppies te dra as kentekens van lidmaatskap, versus die bekwame, intelligente man of vrou wat alleen staan, wat nie groeplidmaatskap of die reëls en goedkeuring van die groep nodig het nie.

Nog ’n entjie in die pad af, wonder ek: Wat is my probleem met die jong bendelede? Hulle los my uit, en ek los hulle uit. Hulle soek nie skoor met my nie, en ek soek nie skoor met hulle nie.

Toe besef ek: Ek beny hulle. Ek beny hulle die vriendskap, die broederskap, die kameraadskap wat hulle geniet met ander soos hulle. Ek begeer wat hulle het, en omdat ek dit nie het nie, het ek altyd ’n opmerking te make.

Sjoe. ’n Deurbraak.

SATERDAG 6 DESEMBER 2008

Die foute wat ons maak op enige gewone dag, in enige gewone uur, word herhaal dosyne of selfs honderde kere om ons in ’n situasie te plaas wat ons wens anders was. En ons glo onsself keer op keer wanneer ons onsself en ander vertel dat ons “net een fout gemaak het”.

______________________