Dieselfde Vrae Verteer Steeds
Ek word verteer deur vrae: Wat is die mens? Hoekom doen ons wat ons doen? Hoekom leef ons soos ons leef? Wat is “geluk”? Wat beteken dit om “ongelukkig” te wees? Wat doen mense om “tevrede” te wees? Is daar universele patrone te bespeur? Wat beteken dit om ‘n “betekenisvolle lewe” te leef? Hóé leef ‘n mens ‘n betekenisvolle lewe? Wat is die natuur van die mens? Behoeftes, drange, doel… Ek kan nie my lewe daaraan toewy om net ‘n klein rolletjie te speel in ‘n groot korporasie terwyl ek verteer word deur hierdie vrae nie. Ek word gedryf om antwoorde te vind. Ek kan dit nie ignoreer nie.
Ten spyte van dit wat my jaag, moet ook ék op ‘n daaglikse basis tot ‘n mate speel volgens die neergelegde reëls – ek moet eet, ‘n woonplek hê, ensovoorts. En hierdie behoeftes kan nie meer vervul word deur in ‘n grot te woon en te jag, of miskien jou eie lappie grond te bewerk nie (nie in die wêreld waarin ek woon nie, in elk geval). Ek het lankal geleer dat wat ek nodig het verkrygbaar is, solank ek iets kan ruil vir die kos wat ek wil eet, en vir die klere wat ek wil aantrek.
Wat ek nodig het is krediet. Hoe kry ‘n mens krediet in die hande? Deur óf ‘n produk vir ‘n mark te produseer, óf deur ‘n diens te lewer. Dis hoekom ek om 6:45 elke oggend opstaan – sodat ek ‘n diens kan lewer, krediet kan ontvang daarvoor in die vorm van kontant, wat dan omgeruil kan word vir wat ek nodig het. Of ek soms my dienslewering geniet is van sekondêre belang – ek móét dit doen.
Maar steeds word ek verteer deur dit wat ek nie weet of verstaan nie. Is daar iets soos ‘n doel in die mens se lewe? Miskien, en miskien nie. Maar wat ek weet is dit, indien daar ‘n doel is maar jy vervul dit nie, sal jy die spyt later in jou lewe nie kan ignoreer nie.
Formele studie in enige van die vakgebiede waar hierdie vrae gebestudeer word, is te eng vir my. Derhalwe het ek op die punt gekom waar ek glo ek geen ander keuse het anders as om op my eie te studeer nie. Ter ondersteuning kan ek aanhaal uit Red Star over China, “I [Mao Zhe Dong] had come to the conclusion that it would be better for me to read and study alone.”
~ Uit die Pers Notaboek, Laat-November 2001
