Dieselfde vrae verteer steeds

SONDAG 18 NOVEMBER 2001

Ek word verteer deur vrae: Wat is die mens? Hoekom doen ons wat ons doen? Hoekom leef ons soos ons leef? Wat is “geluk”? Wat beteken dit om “ongelukkig” te wees? Wat doen mense om “tevrede” te wees? Is daar universele patrone te bespeur? Wat beteken dit om ’n “betekenisvolle lewe” te leef? Hóé leef ’n mens ’n betekenisvolle lewe? Wat is die natuur van die mens? Behoeftes, drange, doel … Ek kan nie my lewe daaraan toewy om geld te maak terwyl ek verteer word deur hierdie vrae nie. Ek word gedryf om antwoorde te vind. Ek kan dit nie ignoreer nie.

Ten spyte van my obsessie moet ek steeds op ’n daaglikse basis speel volgens die neergelegde reëls: Ek moet kos en kruideniersware koop, huur en water en elektrisiteit betaal, ensovoorts. Ek kan nie my behoeftes vervul deur in ’n grot te woon, en te jag, of miskien my eie lappie grond te bewerk nie – nie in die wêreld waarin ek woon nie, in elk geval.

Ek het lankal geleer dat wat ek nodig het, verkrygbaar is, solank ek iets kan ruil vir die kos wat ek wil eet, en vir die klere wat ek wil aantrek. Wat ek nodig het, is krediet. Hoe kry ’n mens krediet in die hande? Deur óf ’n produk vir ’n mark te produseer, óf deur ’n diens te lewer. Dis hoekom ek om 6:45 elke oggend opstaan – sodat ek ’n diens kan lewer, krediet kan ontvang daarvoor in die vorm van kontant, wat dan omgeruil kan word vir wat ek nodig het. Of ek my dienslewering geniet, is van sekondêre belang – ek móét dit doen.

Maar steeds word ek verteer deur dit wat ek nie weet of verstaan nie. Kan daar iets soos ’n doel toegeskryf word aan die mens se lewe? Miskien, miskien nie. Wat ek weet is dat indien daar ’n doel is maar jy vervul dit nie, jy die spyt later in jou lewe sal voel soos ’n ton bakstene op jou skouers.

______________________