Die (werklike) waarde van geld

MAANDAG 22 SEPTEMBER 2003

Baie mense wil ryk wees vir die gemak en sekuriteit wat dit verskaf. Baie mense wil ook ryk wees omdat hulle glo dit sal hulle belangrik laat voel, en belangriker laat verskyn aan ander.

Finansiële welvaart is ook bevorderlik daarvoor dat die gemiddelde persoon wie se lewe geanker is in die immer veranderende kulturele moeras van die sosio-ekonomiese middelklas meer oortuig kan wees van sy of haar identiteit. Geld stel ’n mens in staat om die kentekens aan te skaf wat die individu nodig het ten einde hom- of haarself op ’n sekere wyse aan die wêreld te kan vertoon. Sodoende kan die individu dus aan ander mense sê: “Dit is wie ek (dink ek) is, wie ek graag wil wees, en hoe ek graag gesien wil word. Hier is die sigbare bewyse daarvan.”

Rykdom word dus (meestal onwetend) gesien as ’n maklike manier om identiteit te definieer, en voortdurend te bevestig – veral deur mense wat nie oor baie geld beskik nie, en wat daagliks omgaan in omgewings waar geld ’n prominente rol speel in die vorming en vertoning van identiteit.

… en ’n akademiese nota

Bogenoemde kan genoem word ’n “antwoord” soos wat ek bedoel het ’n paar stukke gelede. In hierdie geval sal die aanvanklike vrae wees: Hoekom wil so baie mense ryk wees? Gaan dit net oor die sekuriteit van om te weet jy sal genoeg hê om te eet vandag, en môre, en moontlik nog volgende maand ook? Of word die mens ook gedryf deur ’n ander instink of motivering?

Meeste van my sogenaamde antwoorde is niks meer as persoonlike teorieë nie. My metodiek is ook nie vreeslik wetenskaplik nie. Ek sal byvoorbeeld dink: “Dit wil vir my voorkom of [Persoon X] steeds nie oortuig is van haar eie identiteit nie.”

Dan, in hierdie spesifieke geval, sal ek verder afstof, of vlekke op die vloer probeer wegvryf, tot ’n volgende gedagte by my opkom: “Snaaks, sy was nog altyd een wat oordrewe aangetrokke was tot geld.”

Dan, soos ek staan met ’n stoflap vol lighter fluid in die een hand, en ’n sigaret in die ander, kom die oomblik van insig: “Het die een moontlik iets uit te waai met die ander?”

Met laasgenoemde het ek dan ’n VRAAG geformuleer. Nadat ek vorendag gekom het met die mees waarskynlike ANTWOORD, kan ek  voortgaan om ’n TEORIE te formuleer.

Dan sal ek by die spieëltafel gaan sit, my notaboek oopmaak en iets skryf soos: “Baie mense wil ryk wees vir die gemak en sekuriteit wat dit verskaf. Baie mense wil ook ryk wees omdat hulle glo dit sal hulle belangrik laat voel …”

______________________