Die voordele en nadele van “amptelike notas”

DINSDAG 10 APRIL 2012

Ek is vir ’n geruime tyd al geïrriteerd met my stelsel van “Amptelike Notas” – my titel vir ’n Word dokument wat planne en idees uiteen lê rakende een of ander manier van geldmaak. So ’n amptelike nota sal gevul wees met bladsy na bladsy aantekeninge, lyste, tabelle, en verduidelikings. Dit het pynlik duidelik geraak dat ek kosbare ure spandeer daaraan om hierdie dokumente te vul met notas wat veronderstel is om ’n proses te vergemaklik, en om antwoorde te vind op vrae, sodat ek uiteindelik vorentoe kan gaan – sonder om in werklikheid veel te vorder op enige front.

My nuwe benadering is om net te begin, met ’n basiese idee van wat ek wil doen en die mees elementêre beplanning, sonder om te veel tyd te verspil op “amptelike” dokumente. Doen net, los die notas, is my raad aan myself deesdae.

Besef ek ’n paar minute gelede, ’n groot deel van my skryfwerk oor die jare kan beskou word as “amptelike notas” oor my lewe. In plaas daarvan dat ek net dinge gedoen het, het ek myself eenkant gehou, en notas gemaak oor wat ek gedink het ek moes doen, hoekom, hoekom dalk eerder nie, wat die alternatiewe was, wat meer sin gemaak het, en wat meer waarde sou hê vir myself en selfs vir ander mense.

Ek versamel inligting. Ek neem aantekeninge. Ek stel lyste saam. Ek dink idees uit – sommige daarvan ’n mors van tyd, ander heel skaflik en potensieel winsgewend. Ek gaan wel oor tot aksie, maar is dit noodwendig sleg dat ek tot dusver nie soveel toegepas het wat ek gedink het moontlik is nie?

As jy ’n rol materiaal voor jou oopgooi op die tafel om vir jouself ’n broek of ’n hemp of ’n rok te maak, glo ek dis beter om twee keer te meet, en net een keer te sny.

Dit is wel ook so dat indien jy aanhou meet en nooit by die sny en die aanmekaarwerk kom nie, jy hopelik gelukkig sal wees om te verskyn aan die wêreld nakend, met geen vrug van jou arbeid – of in hierdie geval, nie ’n draad klere – om te wys vir jou tyd nie.

______________________