Die volgende stappe in my lewe

Saterdag 31 Oktober 1998

Stap Een: Ek moet myself finansieel rehabiliteer. Ek is moeg daarvoor om ’n armgat te wees. Hierdie bemagtiging sal in twee stappe bereik word: 1) skuld word nul, en 2) geld word meer.

Stap Twee: Ek moet ’n motorkar aanskaf.

Dan, die ambisie wat lank voor Stap Twee gekom het, en lank na Stap Twee nog belangrik sal wees, naamlik om te publiseer wat ek skryf.

Ek is deesdae baie besigheidsgeoriënteerd met hierdie ambisie. Watter persoon wat ’n besigheid wil begin, of ’n produk wil bemark, het nie geloof in hulle produk nie? Sal so ’n persoon tyd, moeite en geld belê in ’n produk as hulle nie glo dat hulle sukses kan behaal daarmee nie? So voel ek ook oor my “produk”.

Eugene Marais is Eugene Marais. Andre P. Brink is Andre P. Brink. En ek is ek. Daar’s die reuse van Afrikaanse literatuur, en dan is daar kantoorwerkers wat gedigte sit en skryf terwyl die baas op ’n field trip is. Maar ek glo as daar ’n produk is wat ek uit die diepte van my siel kan lewer, is dit my skryfwerk.

Ek laat myself ook nie meer toe om verlei te word deur die idealisme van om nie te wil uitverkoop aan die establishment nie. Literêre produkte word op een of ander tyd soos enige plaasproduk of verbruikersitem deel van die mark. Jy wil hê iemand moet jou werk publiseer; die mense belê hulle geld in jou en jou produk; hulle hoop dat hulle ’n opbrengs sal verdien uit hulle belegging.

Skrywers is dalk uniek in baie opsigte, maar aan die einde doen hulle wat meeste ander werkende mense doen: Hulle maak gebruik van hul vermoëns om ’n produk te lewer, en hulle word ooreenkomstig gekompenseer.

———–

[Sien die nota van 14 Januarie 2004 getiteld, “Geld en kreatiewe vryheid”.]

______________________