Die tyd loop uit

MAANDAG 7 FEBRUARIE 2011

Ek sien vanaand die nuus dat Gary Moore gister oorlede is.

Vanmiddag, terwyl ek die video gekyk het van die Traveling Wilburys se “End Of The Line”, het ek twee besluite gemaak:

1. Ek het ’n vennoot nodig. Ekstra kapitaal sal handig wees, maar dis meer vir die kritiese stem wat nie beïndruk sal wees met nog ’n “fantastiese” idee nie. “Oortuig my,” het ek nodig om te hoor.

2. Ek is amper 40. Ek reken ek het vyf jaar op die meeste om iets te doen met die skryfwerk wat ek geproduseer het in my twintigs en dertigs. Indien ek werk maak daarvan, kan my diens as skrywer van min of meer eiesoortige materiaal voortgaan. Indien ek aankarring met my skryfwerk op dieselfde trant as die laaste vyf jaar – met elke nou en dan ’n beweging in die regte rigting net om weer momentum te verloor … kan ek maar vergeet. Dit sal oor en verby wees.

Gary Moore is gister oorlede. Maar soos ek luister na sy meesterstuk, “The Messiah Will Come Again”, besef ek: hy het musiek gemaak, en sy musiek is sy nalatenskap.

[Elf dae later, op 18 Februarie 2011, is een van my gunsteling Afrikaanse sangers, Lucas Maree, ook oorlede. Dit het die belangrikheid van die gedagtes van 7 Februarie 2011 bevestig: As jy iets het om te sê, as jy reken jy het iets om by te dra, moenie uitstel nie.]

______________________