Die trifecta van volwasse lewe sukses

WOENSDAG 25 MAART 2015

Hier is die trifecta van volwasse lewe sukses, soos ek die breë gemeenskap – dit wil sê, meeste volwasse mense in jou onmiddellike omgewing, en/of jou vriende en familie, en/of almal op jou sogenaamde vriendelys op Facebook – se beskouings interpreteer:

1. Ten minste twee kinders – een kon ’n gelukskootjie gewees het; ’n tweede bewys dit was nie

2. Meer geld as wat jy nodig het om te oorleef – al het jy dit geërf, of gewen met ’n krapkaartjie

3. Jy doen iets interessant – kan jou beroep wees, of enige iets anders wat min of meer ’n uitdaging is

Indien hierdie kriteria aanvaar word, ken ek bitter min mense wat werklik suksesvol is. Ek sien myself amper altyd as minder suksesvol as meeste van my tydgenote omdat ons nie kinders het nie, en omdat ek net ’n bietjie meer geld maak as wat ek nodig het om te oorleef. Maar ek ken ’n hele paar mense met twee kinders, nie veel geld nie, en hulle doen nie iets interessant nie; ook mense met geld, maar hulle het net een kind, en ook húlle doen nie iets wat ek reken naastenby interessant is nie.

MAANDAG 6 APRIL 2015

Om hierdie gesprek so een tree weg te skuif van blote kampvuur-praatjies, moet dit genoem word dat daar ’n paar uitsonderings is wat hierdie formule deurmekaar sal krap.

Daar is die geval van welgestelde mense wat interessante werk doen en interessante lewens lei, maar een van hulle drie kinders word ’n moordenaar, of ’n dwelmslaaf, of beide.

Daar is die man of vrou met geld, wat ’n interessante lewe lei, wat twee of drie kinders het, en steeds getref word deur ’n middeljare-krisis en dinge sê soos, “Ek wou soveel meer gedoen het met my lewe teen hierdie ouderdom.”

En dan is daar is die pa van twee kinders wat genoeg geld verdien en in sy eie opinie interessante werk doen, wie se dogter vriende is met die dogter van die hoof van ’n internasionale konglomeraat, wat gereeld oorsee gaan vir interessante projekte en wat ’n villa besit in die suide van Frankryk. “Kan Pa nie meer geld maak dat óns ook somers in Frankryk kan spandeer nie?” sal ’n versoek wees wat gereeld die man sal laat twyfel of hy werklik so goed doen soos wat hy soms dink.

______________________