Die tipe volwassenes wat ons word

SATERDAG 2 JULIE 2005

11:35

Ek is besig om ’n Kevin Bacon movie te kyk, en ’n spesifieke storielyn vang my onkant vir die soveelste keer in my volwasse lewe. Nou, ek weet dis net ’n movie, maar dis nie wetenskapfiksie nie, dis ’n gedramatiseerde weergawe van ’n lewe waarmee ek seker is meeste kykers, wat sekerlik in die miljoene tel, kan assosieer.

Die storie verloop soos volg: ’n jong man wat ambisies het om ’n skrywer te wees en ’n beskouing het van homself as iemand wat nie net dieselfde wil doen as die spreekwoordelike almal nie, trou met ’n jong vrou wie se karakter nie so duidelik ontwikkel is as haar eggenoot s’n nie, maar wat mens kan veronderstel ambisies het van ’n meer konvensionele lewe. Hulle koop ’n huis in ’n middelklasbuurt. Hy kry werk by ’n advertensie maatskappy, en probeer skryf in die aande, maar kry nie veel uitgerig nie. Hy weet nie regtig wat hy wil hê uit die lewe nie, maar werk nietemin om die “huis” wat sy lewe is, te handhaaf – ’n lewe wat hy nie soseer gekies het nie as dit net gebeur het as ’n standaard opsie waarvoor hy die regte aksies geneem het op die regte tye, soos om op te daag vir ’n werksonderhoud en om op te daag by die bank om vorms in te vul vir ’n huislening. Hy wonder hoekom hy homself nie net kan aanvaar soos hy is nie, en tevrede kan wees met die plek waar hy is nie.

Soos verwag kon word, vat dit nie lank voor swangerskap en kinders deel word van die storie nie. Die man kla dat sy lewe sonder betekenis is, en dit word toenemend gesuggereer dat “fatherhood” die groot verskil gaan maak.

Die storie verloop dus soos volg:

– Man en vrou trou.

– Man en vrou is onseker oor die werklike waarde van hul lewens in die Groter Beskouing van Dinge (en hoewel dit al genoem is dat ons nie altyd leef in die Groter Beskouing van Dinge nie, leef ons ook nie net in die wêreld van vrot melk en vals musiek en kinders wat skree nie – al hierdie dinge is deel van iets groters, en dit weet meeste van ons). Hulle glo moontlik selfs dat hulle hul bestaan moet regverdig. Hulle moet aan die wêreld kan wys dat ook hulle iets werd is, en ’n waardige aanspraak kan maak op die suurstof wat hulle inasem, en die son wat hul wange warm bak.

– Hulle kry êrens werk, koop ’n huis, en probeer die gate vul wat onsekerheid oor die waarde van hul bestaan brand op hulle bewussyn soos ’n oop vlam gate sal brand deur delikate ryspapier.

– Hulle kry kinders – die blydskap, die groot aanpassing wat hulle moet maak in hul daaglikse lewens, die geluk en die gelukwensings onderstreep dat hulle ’n goeie punt bereik het. Hulle is nou ouers, wat beteken nuwe rolle om te speel asook die addisionele waarde wat dit aan hul lewens gee in die Groter Beskouing van Dinge. Die kind of kinders word grootgemaak om aanvanklik soos hulle ouers te wees (taal, sport voorkeure, religieuse waardes en ander lojaliteite), en na ’n paar dekades dalk soortgelyke lewens te leef. Die hele siklus word voortgesit: kry kinders, volwassenheid, kry kinders, volwassenheid, kry kinders …

Wat is my probleem hiermee? Ek hou van kinders! My eie susters het pragtige kinders en ek is gelukkig vir hulle! Ek wil dalk self eendag kinders hê! Wat is my probleem met hierdie mees primitiewe, mees wydverspreide verskynsel? My probleem is die tipe volwassenes wat vele mense word. En ek glo die tipe volwassenes wat mense word, word sterk beïnvloed deur die rede of redes hoekom hulle in die eerste plek ontstaan het. [Dink byvoorbeeld aan Prins William van Brittanje: rede vir ontstaan: om eendag koning te word (of koningin as die dobbelsteen anders geval het).] As ek kyk na my eie geval, het my ouers my dalk gehad omdat hulle meer kinders wou hê om hul eie selfsugtige redes. Ek het oukei uitgedraai. As volwassene lewer ek pittige dog effens siniese kommentaar oor ander volwassenes se lewens, ek betaal my rekeninge (laat, maar darem), en ek glo ek maak my bydrae, hoe beskeie ook al, tot die vooruitgang van beskawing, of ten minste tot die behoud van wat goed is.

Is dit nie aan die einde goed genoeg nie?

Ek dink dis tyd dat ek een van die naarste waarhede ooit in die gesig staar en dit erken: Nie almal se lewens is belangrik in die Groter Beskouing van Dinge nie. Om een lewe te hê met waarde wat die primêre behoeftige-organisme-gedrag-tot-behoefte-vervulling-model oortref, is moontlik dosyne primêre modelle nodig. Dis ’n aaklige waarheid hierdie: dat my lewe in die Groter Beskouing van Dinge meer werd is as iemand anders s’n, en dat iemand anders se lewe weer meer waarde het as myne – dat ek inderdaad wegdoenbaar is ter wille van ’n ander wie se lewe meer kosbaar is, meer waardevol as my eie. (En ek verwys nie na waarde van my lewe in die sin dat my lewe waarde het vir my ma, en Piet X se lewe het waarde vir Moeder X nie, ek praat van waarde waar verhoudings nie ter sprake is nie.)

Wat dit sal beteken is dat dalk soveel as nege uit elke tien volwasse mense kinders moet produseer om waarde te gee aan hulle lewens, en om hul deel by te dra tot die bevrediging van die behoeftes van die gemeenskap in die dekades wat kom (kinders word onderwysers, en dokters, en padbouers, en so meer). Een uit elke tien, of dalk net een uit elke honderd mense, doen meer – iets wat hul waarde transendeer bo hulle intieme binnesirkel en die arbeidswaarde wat hulle het vir die plaaslike ekonomie. Ten einde hierdie een-uit-tien of een-uit-honderd mense te produseer, MOET MEESTE VOLWASSE MENSE KINDERS KRY. Dis hoe dit is. Dis tyd dat ek dit aanvaar.

(Terloops, die movie se naam is, She’s having a baby.)

23:40

Weereens kom dit hierop neer: daar is geen universele menslike waarde nie. Elke persoon moet sy of haar eie waarde uitwerk in die Groter Beskouing van Dinge. As hy of sy nie tevrede is met die voorlopige uitslag nie, moet hy of sy self aksies neem om ’n gewenste waarde te bereik – sover dit binne sy of haar vermoë is.

Wat is jou waarde as jy dit nie self uitwerk nie, en as jy nie tel onder die groep mense wat gepla is met hulle waarde in die Groter Beskouing van Dinge nie? Dan is jou waarde die resultaat van noodlot – plek en tyd van geboorte, geslag, familie, sosio-ekonomiese status, ras, ensovoorts, behoeftes van die gemeenskap – x-hoeveelheid onderwysers benodig, x-hoeveelheid rommelverwyderaars, ensovoorts, en keuses en aksies wat jy neem, of geneem het om jou behoeftes te bevredig tot op die huidige oomblik.

Great. (Moontlike titel of subtitel vir ’n opstel: Aanvanklik oor ’n movie.)

[Sê jy werk jou eie waarde uit – wat dit ook al beteken, en jy reken jy kan ook getel word onder die groep mense wat gepla is met hul waarde in die Groter Beskouing van Dinge, is dit nie uiteindelik ook 100% deel van jou proses om jou eie behoeftes te bevredig nie? Een uit honderd mense wat dan uitstyg bo die spreekwoordelike massas, doen dan so vir dieselfde rede hoekom ’n bestaansboer ’n aartappel plant en oes: om eie behoeftes te bevredig.]

______________________