Die SELF – toepassing – identifiseer

DINSDAG 18 MEI 2004

Die SELF.

“Wat is ’n huis – die plek waar jy voel jy behoort, anders as ’n plek waar jy wéét wie jy is?”

Dit was gisteraand. Vandag vra ek, wat beteken dit om te “weet wie jy is”? Dit beteken jy weet wat jou plek is tussen ander mense met wie jy op ’n spesifieke tydstip ’n spesifieke omgewing deel. Dit beteken jy is bewus van jou eie waarde in hierdie omgewing. Jy weet ook naastenby hoe jy beskou word deur ander in die omgewing.

Interessant vir bogenoemde definisie van “huis” is dat ek nie vyf jaar gelede geweet het wie ek-in-konteks was nie (siende dat ek pas in Taiwan gearriveer het). Ek kan verder sê dat dit my omtrent vyf jaar gevat het om te weet wie ek-in-konteks is (veral tussen “ander soos ek”, naamlik ander Suid-Afrikaners in Taiwan); ook dat ek wou “huis” toe gaan kort nadat ek meer sekerheid ontwikkel het oor wie ek-in-konteks is. Dit kan verder geargumenteer word dat ek ook kan weet wie ek-in-konteks is op ’n ander plek, hoewel dit weereens tyd sal vat.

In een woord, wat definieer wie jy is? Ek sou sê meer as enige iets, verhoudings met ander mense.

* * *

Terloops, Nietzsche het nie geglo dat daar ’n “fixed self” is wat “ontdek” kan word nie. Hy’t gereken, “WILL a self and thou shalt BECOME a self.” [Eie beklemtoning]

WOENSDAG 19 MEI 2004

Is daar iets soos ’n “kern-self” wat ontdek kan word, waarop die persoon ontwikkel word wat jy graag wil wees? Kan hierdie kern-self in sy vroegste vorm beskou word as rein en onbesmet, iets wat dan deur blootstelling aan omgewing buite die baarmoeder gekorrupteer word? Of is die kern-self iets wat vanweë genetiese samestelling in die wortel reeds gekompromitteer kan wees, iets wat dan deur vroeë ervarings verder beskadig en gekorrupteer kan word, jare voor dit deur die persoon “ontdek” word?

* * *

Nietzsche reken dus dat die self nie gevind kan word nie, maar dat dit gedefinieer, en ge-word moet word. (Wat sou hy sê oor die idee van ’n “kern-self” wat ontdek kan word?)

Dit wil amper voorkom asof ek weer by die begin is: Wie is ek, en waar is my plek? Die interessante ding is nou, die Nietzsche beskouing wil ’n mens amper dwing om eerder te vra: Wie wil ek wees? En, watter plek wil ek toeëien as my eie?

Hoe definieer mens die “self” (wie jy is/wil wees)? En hoe definieer jy “plek” (jou huis/waar jy hoort)?

(Ek moet myself verwyder van die res van die mensdom en hulle soms tragiese lewens, en slegs selektief betrokke raak.)

As omgewing so ’n belangrike faktor is in kennis oor die SELF (om te weet wie jy is, of wat dit beteken om “jy” te wees), is dit moontlik om ’n universele “ek” te hê? As “ek, in Fengshan City, Taiwan” nie heeltemal dieselfde is as wat “ek” in, sê Bronkhorstspruit sal wees nie, wie is “ek” dan? En as dit verander, dan is dit mos onmoontlik om ’n universele “ek” te ken, of te kan wees! Dan is om ’n funksionerende, partikulêre “ek” te wees in die omgewing waar jy jouself op die huidige oomblik bevind, en om ’n soortgelyke persoon te wees in enige ander omgewing, die beste waarvoor jy ooit kan hoop!

Dit volg dus dat selfkennis relatief is tot jou omgewing. Wat mens wél het as jy radikaal van omgewing verander (Fengshan, Taiwan na Riyadh, Saoedi-Arabië), of as jou omstandighede radikale verandering ondergaan, is verwysingspunte. Jy weet hoe jy opgetree het in die ander omgewing, of toe jou situasie anders was, of jy reken jy weet hoe jy sou optree. Hierdie kennis voorsien jou dan van ’n verwysingsraamwerk waarbinne jy kan uitwerk hoe jy in die nuwe omgewing of veranderde omstandigheid moet optree om steeds naastenby “dieselfde persoon” te wees, indien dit enigsins van toepassing is dat daar ooreenkoms moet wees.

Kan jy jouself ooit ten volle ken? En in ag genome die kardinale rol wat omgewing speel in die “kennis” van wie jy is, WIE IS JY WERKLIK?

DONDERDAG 20 MEI 2004

Toepassing van ’n teorie/Die SELF en omgewing

So ek wil nie hier weggaan nie, want ek weet wie ek is hier. Wat ook beteken as ek hier weggaan om te woon in ’n plek soos Pretoria of Bronkhorstspruit en ek definieer wie ek is dáár, ek ook nie dáár sal wil weggaan nie, om dieselfde rede.

Jy sal nie wil weggaan van ’n plek nie, tensy jy ontevrede is met wie jy is op daai plek. Ontevredenheid van hierdie aard sal lei daartoe dat jy sal aanhou weggaan van plekke tót jy ’n plek vind waar jy nie net wéét wie jy wil wees nie, maar waar jy kan wéés wie jy wil wees.

[Die beginsel: As jy weet wie jy is op ’n bepaalde plek, en tevrede is met wie jy is op daai plek, as ekonomiese en ander faktore in daai plek verder van so ’n aard is dat jou kanse op oorlewing beter is as op ’n ander plek waar jy jouself in teorie ook kan vestig, is dit verstaanbaar en redelik dat jy sal wil bly net waar jy is.]

DINSDAG 25 MEI 2004

Identifiseer jou SELF – en hoe dit aan jou geïdentifiseer word

Die SELF, hoe die persoon sy eie SELF áán hom- of haarself identifiseer, en ook hoe die persoon sy of haar SELF aan die gemeenskap identifiseer. Laasgenoemde is egter nie ’n eenrigting gesprek nie – die taal waarin die individu sy of haar SELF aan die gemeenskap identifiseer, is nie deur die individu bedink nie, maar word benut met die komplimente, as’t ware, van die gemeenskap waarvan die individu deel is. (Voorbeelde van taalkonsepte wat benut word sluit in “man”, “vrou”, “sterk”, “slim”, “leier”, “skrywer”, “ryk”, “arm”, “intellektueel”, “ateïs” en “Christen”, om net ’n paar te noem.)

In my geval het ’n gemeenskap wat hoofsaaklik uit blanke Afrikaansprekendes bestaan, my SELF áán myself geïdentifiseer. Tans identifiseer ek myself as volwassene aan ’n ander gemeenskap – Oosters, Chinees – met behulp van taal wat ek besig is om te bemeester en ander data waarvan ek bewus geraak het deur persoonlike ervaring.

______________________