Die sekulêre monnik (wat ’n nuwe klooster soek)

Sondag 15 Maart 1998

Ek sien myself soms as ’n voormalige monnik wat sy geloof verloor het – of een wie se godsdiens hom verloor het, en wat nou opsoek is na ’n sinvolle bestaan in die sekulêre wêreld.

Ek is egter nog nie ten volle betrokke in hierdie “nuwe” wêreld nie. Daar is weë van hierdie wêreld waarmee ek nie vertroud is nie, waarmee ek selfs ongemaklik is, veral in vergelyking met individue wat hul volwasse lewens tot dusver uitsluitlik geleef het in ’n sekulêre samelewing.

* * *

In vergelyking met meeste mense wat ek hier ken, is ek nie ’n groot sukses as ’n sogenaamde “backpack traveller” nie. Terwyl hulle swerf van een land na ’n ander en interessante plekke eerstehands ontdek, verkies ek om vir ’n tyd lank kamp op te slaan op een plek, en op ’n Sondagmiddag tydsaam deur ’n hoop koerante te werk.

’n Bietjie pateties, miskien? Hoekom? Daar sal altyd mense wees wat meer gedoen het as jy, meer gesien het as jy, meer en maller mense ontmoet het as jy, en in meer en vreemder lande meer en vreemder dinge gedoen het as jy.

Ek moenie probeer om in ander mense se voetspore te volg net omdat ek dink my manier van leef is minder indrukwekkend as hulle s’n nie.

Hou op om te kompeteer met ander mense, sê ek. Doen wat jy goedvind en waarvan jy hou. As dit nie vir ’n beter rede is nie, doen dit omdat jy dan nie jouself teen ander mense hoef op te weeg en jouself te lig te bevind nie, terwyl daai maatstaf maar net een uit ’n miljoen is.

______________________