Die Russiese Rewolusie, en my pogings tot ’n redelike normale lewe

SATERDAG 4 FEBRUARIE 2017

Ek het die laaste paar weke weer tyd gespandeer aan die redigering en vertaling van materiaal wat ek geskryf het in die middel- tot laat-negentigs en die vroeë nulle. Soos ek toe vanmiddag terugry van die werk af, dink ek aan van die temas wat keer op keer kop uitgesteek het in die materiaal. Ek dink toe daaraan dat ek ietwat verleë is oor die hele storie dat ek in my laat-twintigs en selfs nog vroeë-dertigs nie geweet het wat om te doen met my lewe nie. Ek het nie ’n ordentlike plan van aksie gehad nie; ek het nie geweet watse tipe sukses ek veronderstel was om na te jaag nie; en ek het nie ’n behoorlike begrip gehad van die lewe waarvolgens ek kon uitwerk watse besluite ek moes maak nie.

Soos ek verder huis toe ry, maak een gedagte toe plek vir die volgende. Ek dink eers aan my plegtige voorneme van gister dat ek vanmiddag, na my gewone take op die rekenaar, ’n middagslapie sal vat, en dan die nuwe boek gaan begin lees wat ek onlangs gekoop het vir my Kindle (oor die onopgeloste moord op ’n 20-jarige Britse vrou in Peking in 1937). Dit herinner my toe aan die lang artikel wat ek besig is om deur te werk op my leestoestel, en ek wonder vir ’n oomblik of ek dit eers klaar sal lees voor ek sal begin met die nuwe boek. Dis meestal teorie, dink ek toe, en dis moeilik om te volg en ’n bietjie vervelig.

Die artikel – eintlik ’n lesing wat gegee is jare gelede by ’n kongres – handel oor Leon Trotsky, rewolusionêr, skrywer en politieke teoretikus van die vroeë twintigste eeu. Ek dink toe hoe Trotsky, Lenin en ander Bolsjewiste soos Nikolai Bukharin “next level” slim was. Tussen konferensies wat hulle moes beplan en bywoon en wegkruip vir polisie en argumenteer oor die fyn punte van ideologie, het hulle ook nog ellelange artikels geskryf oor die teorie van politieke rewolusie. En omdat daar heelwat kompetisie was in die veld van politieke rewolusie teorie in die laaste dekades van die negentiende eeu en die eerste twee of drie dekades van die twintigste eeu, kon jy nie wegkom met strooi nie. Sodra iemand ’n nuwe stuk werk die lig laat sien het, is dit gefynkam vir historiese foute, teenstrydighede, en swak argumente. Net partyleiers en politieke aktiviste wat intellektueel besonders begaafd was, en boonop goed kon skryf, se materiaal is ernstig opgeneem wanneer besluite geneem is oor beleid en planne van aksie.

Boem! tref dit my: Daai rewolusionêre wat die politieke beheer van die ou Russiese Ryk wou oorneem, daarin geslaag het, en toe sit met die gebakte pere, het nie regtig geweet wat hulle doen nie! Nie net het hulle planne van aksie verander soos omstandighede dit vereis het nie, daar was ook ernstige meningsverskille onder die leierskorps oor watter teorieë gevolg moes word wanneer besluit moes word op politieke, ekonomiese, en maatskaplike beleid. Die wêreldbeeld en die begrip van hoe menslike bestaan veronderstel was om te verloop wat gegeld het vir eeue, is ook opsy geskuif. Die nuwe leiers in die Kremlin het ’n radikaal verskillende idee aangehang waarvolgens hulle geglo het mense se lewens bestuur moes word. Om beleid te kon bepaal, besluite te kon maak, planne van aksie te formuleer en planne van aksie uit te voer, het hulle egter meer as ’n radikale idee nodig gehad – hulle het teorieë benodig wat ’n bepaalde begrip oor menslike natuur in ’n koherente geheel kon saambind met politiek en ekonomiese beginsels en nog ’n paar ander dinge.

Vladimir Lenin, Leon Trotsky, en Lev Kamenev (1920)

’n Oorsigtelike beskouing van politieke teorie in die tyd voor, gedurende, en na die 1917-rewolusie is genoeg om óf ’n mens se kop te laat spin, óf jou aan die slaap te verveel. Die ou Sosiaal-Rewolusionêre Party het byvoorbeeld geglo in die sosialisering van grond, oftewel dat plaasgrond verdeel moes word onder die kleinboere, terwyl Lenin en die Sosiaal-Demokratiese Arbeidersparty (uit wie se range die Bolsjewiste gekom het) geglo het in die kollektivisering van landbougrond – om dit onder staatsbeheer te plaas. Die SDAP het klaslidmaatskap gedefinieer in terme van eienaarskap van produksiemiddele, terwyl die Sosiaal-Rewolusionêre klaslidmaatskap gedefinieer het volgens die surplus waarde wat uit arbeid getrek word. Volgens die eerste definisie was kleinboere wat bestaansboerdery beoefen het, nie van enige loonarbeid gebruik gemaak het nie, en die grond besit het wat hulle bearbei het, lede van die kleinburgerklas. Volgens die tweede definisie kon hulle gegroepeer word saam met ander mense wat arbeid voorsien het eerder as mense wat arbeid gekoop het, en kon derhalwe saam met industriële arbeiders gesien word as deel van die werkersklas. (Hierdie verskil mag dalk vandag vir sommige mense lyk na ’n akademiese punt, maar veral in die 1920’s en 1930’s was dit ’n saak van lewe en dood.) Die skeuring van die Sosiaal-Demokratiese Arbeidersparty in 1903 was grootliks te wyte aan ’n verskil van mening oor beginsels en teorie. Een van die belangrikste punte waaroor die twee faksies verskil het, was oor die definisie van “partylid”. Lenin en sy ondersteuners (die latere Bolsjewiste) het aangedring daarop dat kandidate lid moes wees van een van die party se organisasies, terwyl hul opponente gereken het dit was goed genoeg as die persoon slegs gewerk het onder die leiding van ’n party-organisasie. Laastens was daar ook die verskil tussen Leon Trotsky en sy ondersteuners in die 1920’s wat geglo het dat die rewolusie ten alle koste uitgevoer moes word na ander lande, en sy aartsvyand in die party, Josef Stalin, wat van mening was dat sosialisme eers opgebou moes word in een land. (Weereens lyk dit dalk vandag na ’n debat tussen bleeksiele, maar Stalin het sterk genoeg daaroor gevoel dat hy ’n sluipmoordenaar gestuur het om ’n yspik in Trotsky se skedel in te kap om die argument te wen.) Trotsky het ook die idee aangehang van Permanente Rewolusie, wat volgens Wikipedia soos volg gedefinieer word: “Permanent Revolution is the theory that the bourgeois democratic tasks in countries with delayed bourgeois democratic development can only be accomplished through the establishment of a workers’ state, and that the creation of a workers’ state would inevitably involve inroads against capitalist property. Thus, the accomplishment of bourgeois democratic tasks passes over into proletarian tasks.” (En om te dink daar is mense wat reken om ’n rewolusie suksesvol deur te voer, het jóú kant net meer gewere nodig as die ander kant.)

Terug na my eie beskeie struwelinge in my twintiger- en vroeë dertigerjare. Ek het nie ’n land gehad wat soos ’n ryp perske in my skoot geval het nie, maar ek het my eie lewe gehad wat voor my uitgestrek het. Net soos die Bolsjewiste in die twintigerjare (en natuurlik die dekades daarna, maar dis ’n ander storie) moes uitwerk hoe hulle te werk moes gaan om ’n regering te vorm, beleid te bepaal, en infrastruktuur en dienste te behartig wat miljoene mense se lewens sou raak, moes ek ook besluit hoe ek te werk sou gaan om my eie lewe in ’n bepaalde rigting in te stuur, en dalk iets te doen waarop ek later kon terugkyk met meer trots as skaamte. En net soos die Bolsjewiste die maniere van dink en dinge doen verwerp het van wat die gevestigde politieke, ekonomiese en maatskaplike orde was in Rusland tot en met 1917, so het ek ook besef dat ek eers sou moes uitwerk hoekom ek een ding moes doen en nie ’n ander nie, hoekom ek nie net kon volg in die spore van ander mense nie, hoekom wat goed gewerk het vir vele van my tydgenote, nie noodwendig vir my kon werk nie. Ek kon nie net wegspring en my lewe begin “regeer” nie. Ek moes eers uitwerk hoekom dinge is soos dit is. Ek moes planne van aksie uitwerk wat sou strook met wat ek uitgewerk het, en met die “beleid” waarop ek besluit het.

Enige een wat ’n bietjie kennis het van twintigste-eeuse geskiedenis sal weet die Bolsjewiste se eksperiment het uiteindelik nie uitgewerk nie. Slim mense kan verduidelik waar die teorie soos ontwikkel deur Marx, Trotsky, Lenin en ander verkeerd was, en waar dit dalk kon gewerk het as dit nie was vir die destruktiewe beleid en sinnelose geweld van bloeddorstige helhonde soos Josef Stalin nie.

Na ek al daai tyd gespandeer het om te probeer uitwerk hoe ek my lewe wil leef en hoekom op so ’n manier, waar ek vandaan kom in die breër sin as net om na my pa en ma te kyk, en hoe ek inpas in die massa van stimulus buite my vel, moet ek sê dat my eie lewe tot dusver redelik goed uitgewerk het. Ek weet ook watse veranderinge ek nog kan aanbring om dit beter te maak. En as ek moet, kan ek alles verduidelik aan iemand wat die regte vrae vra. Wat, as ek so daaraan dink, nie sleg is nie, siende dat ek baie ver van “next level” slim af is.

______________________