Die rebelle kry stry – maar dis net ’n stilte voor die storm

DONDERDAG 29 APRIL 2004

Hoekom sal ek ’n vier-maand werksvakansie wil vat eerder as om “permanent” terug te gaan? Anders gestel, wat is die voordele van ’n vier-maand werksvakansie bo volle repatriasie?

Die onderwerp van “huis toe gaan” is teen hierdie tyd so gelaai soos ’n kraal vol beeskak – ek kan omtrent nie my voet in dié of daai rigting sit nie, dan trap ek in iets. Dapper, en vol ongeskikte waagmoed gaan ek egter weereens probeer om iets te sê oor hierdie netelige aangeleentheid.

Om al my bokse te pak, dit een-vir-een agter my fiets aan te sleep poskantoor toe, ’n paar duisend rand te spaar, die helfte van my klere weg te bliksem en die ander helfte aan te trek vir ’n vyftien uur vlug sodat ek my tasse vol CD’s, VCD’s, foto-albums en boeke kan pak, en dan te arriveer in die Hoëveld met groot ambisies is, in een woord, romanties.

Nou, dit sou fatale kritiek gewees het teen die Volle Repatriasie idee as dit nie was vir die feit dat dit juis sulke romantiese, onverantwoordelike idees is wat my vul met rewolusionêre drif nie. Ek moet egter ’n nare werklikheid in die gesig staar, naamlik dat ons graag karikature van onsself kultiveer wat ons beter in ons eie oë laat lyk as die feilbare, en soms onromantiese, alles-behalwe-held figure wat ons werklik is.

Is ek desperaat om te glo dat ek die onverantwoordelike, romantiese rewolusionêr kan wees, nie net in die oë van ander of as ’n karakter in my eie boek nie, maar sodat ek meer respek vir myself kan hê? Want weet ek tog nie alte goed dat die ware ek veel nader is aan die beeld van die Versigtige Burokraat eerder as dié van die Rewolusionêre Held nie?

Ek sal besete wees met ywer en drif as ek in werklikheid soos ’n mal heldfiguur op die dak moet klim en kan uitgil: “Ek gaan huis toe! Met fokkol geld! Ek gaan my eie digbundels uitgee, en vir al die suckers in die straat pitte druk! Ek sal vir weke daarna Stukke Skryf Waar Al die Woorde Met Hoofletters Begin. Ek sal Lenin quote, en Jean-Jacques Rousseau, en Karl Marx.

En dan sal my laaste aand in Kaohsiung aanbreek. Ek sal in ’n leë woonstel tot lank na middernag na die plafon lê en staar. Ek sal my sigarette tip in ’n leë Coke blikkie. Ek sal die volgende oggend – voor ’n besete taxi-bestuurder met my lughawe toe jaag – vir oulaas by McDonald’s breakfast gaan koop, en depressief glimlag as die mooi meisie, onbewus van die realiteit, vir my in Engels probeer sê, “C U, A-gên …”

Op daai oomblik sal ek besef dis werklik. My tyd van rondspeel in die verste uithoeke van die planeet is verby. It’s time to face my enemy. En die Rooi Held sal nêrens in my binneste te vinde wees om my moed in te praat nie.

Is ek ’n sucker vir my eie propagandistiese toesprake? Is ek desperaat om Groot Planne te formuleer omdat dit so NIE mediocre is nie? Raak ek soms so terneergedruk oor my lewe in Taiwan dat ek myself vermaak tot amper in die afgrond oor planne wat in werklikheid nie so goed is nie?

Waar trek ’n mens die lyn tussen om aan die een kant verantwoordelik te wees teenoor jouself, om jou eie ware karakter, jou eie werklike vrese te konfronteer en te erken al is jy hoe verleë daaroor, en om aan die ander kant tog soms dinge te doen in die geloof dat dit sal uitwerk?

Ek vereis nie waarborge dat alles presies sal uitwerk soos ek dit verwag nie. Ek is nie bang om ’n bietjie te suffer nie. En ek is regtig nie gepla oor middelklas gemak of aansien nie. Maar ek verloor soms my grootste vennoot in die lewe, naamlik die vermoë om myself te motiveer, wanneer ek my hand oorspeel het. As die begeerte eers by my posgevat het om te verdwyn, om êrens in ’n gat te gaan kruip waar niemand my verleentheid kan aanskou nie, kan ek aan niks anders dink nie.

As ek eindig in ’n situasie in Suid-Afrika waar ek myself moet verduidelik (“Die planne het so goed geklink in my sitkamer in Taiwan,” sal ek dink terwyl ek my kop skud in ontkenning vir die nare werklikheid), as ek my besluite, en my oortuigings en aksies die heeltyd moet verdedig, sal daar nie veel tyd wees vir sosiale kritiek nie, en nie veel energie of motivering om te kritiseer wat ek so gereed is om hier en nou te kritiseer in my “hoofkwartier” in ’n veel veiliger omgewing nie.

Ek vra dus weereens, wat is die verskil tussen, a) om al my goed te los waar dit is, vir twee maande Suid-Afrika toe te gaan, dinge uit te kyk sonder om langstaande onsekerhede te ignoreer, en dan weer terug te kom na Taiwan vir ’n paar maande; en b) om al my goed te pak en, sonder om eers die spreekwoordelike naam of plek uit te sorteer, ’n lewe te begin in my eie land wat ek sal kan handhaaf-en-hou till death do us part?

’n Volgende vraag: Wat kwalifiseer as ’n radikale, dog onverantwoordelike plan? Antwoord: Enige van my planne die afgelope paar maande kwalifiseer as presies dit – ’n plan wat sê dat ek moet teruggaan met wat ek het, in die geloof dat “dinge sal uitwerk”.

Het dinge uitgewerk in die eerste van my radikale, onverantwoordelike planne toe ek in 1991 Kaap toe gegaan het? My persoonlike dogma dikteer ’n positiewe antwoord, maar die waarheid is nie so eenvoudig nie. Of moet die blote feit dat ek wel aan die einde gegradueer het aan my gunsteling universiteit alle ander oorwegings uit die pad vee?

Het my besluit om in 1998 Korea te verlaat, en meer spesifiek om ’n moontlike toekoms in Johannesburg te gaan soek, uitgewerk? Moet dit weereens goed genoeg wees dat ek nie een aand in die straat geslaap het nie, of dat ek nooit nodig gehad het om oorskiet mieliepap uit asdromme te krap nie? As dit al vereistes is vir ’n plan om te werk, hel, dan kan ek môre (of dan “einde Junie”) teruggaan.

As my vereistes ’n bietjie fancier is, dan moet ek noodwendig tot die gevolgtrekking kom dat om terug te gaan Suid-Afrika toe in 1998 inderdaad nie uitgewerk het nie. Hoekom nie? Omdat ek nie geweet het hoe ek ’n inkomste gaan verdien nie, ek het nie genoeg geld gehad om my eie behoeftes te cover vir langer as twee maande nie, en ek het nie naastenby ’n idee gehad van wat ek met my lewe wou doen nie. (Ek het wel ’n baie goeie idee gehad van wat ek nie met my lewe wou doen nie.) Toe ek na twee maande van rondkuier wel begin werk het in Johannesburg, het ek dit gedoen in die goeie geloof dat dit orraait sal wees. Dit was nie. Die werk was vervelig. Ek het nie geld gehad om behoorlike kruideniersware te koop nie. Ek het nie geld gehad vir sosiale drankies nie. Ek het nie ’n kar gehad nie. Ek moes ses-uur in die oggend opstaan, en dan fietsry kantoor toe. Ek het met tandpyn gesit vir weke lank omdat ek nie kon bekostig om tandarts toe te gaan nie. En het ek al genoem dat die werk vervelig was? Die werklikheid van daai paar maande in Johannesburg is een van die grootste faktore wat my al vir meer as vyf jaar vasgekluister hou in Taiwan.

Natuurlik het baie verander sedert die eerste keer wat ek myself gerepatrieer het terug na my eie land toe. Nie net het ek uitgesorteer wat ek wil doen met my lewe nie, ek doen dit reeds. Ek is ook werklik nie meer gepla oor die skyn van middelklas aansien nie – en ek verstaan die redes daarvoor. Verder is ek besig met etlike kreatiewe en kommersiële projekte wat ek hier kan toemaak op ’n Donderdagaand, en teen die Saterdagmiddag in Bronkhorstspruit kan voortsit asof ek net ’n bietjie TV gekyk het vir twee dae lank. Laastens weet ek wie ek is, en ek het die (literêre) dokumente om dit te bewys.

Wat is dus die probleem? Wat is die redes vir my onwilligheid om weer ’n radikale, onverantwoordelike plan te waag?

Soos almal het ek vrese, presies die tipe dinge wat ek onder die mat invee met die ambisieuse portrette van Rewolusionêre Karikature wat ek aan myself probeer afsmeer. Ek is net ’n mens; die Rooi Held is veel meer as dit. Ek is bang dinge werk nie uit nie; die Rooi Held gee nie ’n fok om nie. Ek is bang my geld raak op, en ek moet weer ’n bywoner word in vriende of familie se huise; die Rooi Held herinner my dat ek ’n bywoner sal wees met ’n vuil baard wat soos ’n vryheidsvlag in die wind sal wapper, en dat gedigte “regtig baie beter lyk op toiletpapier as in daai fancy notaboeke waarvoor jy so lief is”.

My grootste vrees is dus nie dat ek weer onseker sal wees oor wie ek is, of oor my waarde in die Groter Beskouing Van Dinge nie. My grootste vrees is nie dat mense my sal aanstaar in die Spar en sal dink ek is ’n boemelaar nie. My grootste vrees is om my selfrespek te verloor, en dit gebeur as jy nie vir jouself kan sorg nie. En wat het jy nodig om te sorg dat jy ten minste in jou eie behoeftes kan voorsien? Geld. Genoeg daarvan.

Wat my terugbring by die onbeantwoorde hoofvraag van hierdie stuk: Wat is die verskil tussen ’n “werksvakansie” aan die een kant, en aan die ander om Soos ’n Held Terug Te Keer Na Die Land Van My Geboorte? Die verskil is geld. Met laasgenoemde opsie is dit van allergrootste belang om oor voldoende kapitaal te beskik vir ten minste ’n paar maande om die onderneming ’n redelike kans op sukses te gee. ’n Werksvakansie, aan die ander kant, is ligter op die gemoed, en ligter op die beursie. Ek kan my familie se geselskap geniet vir meer as net die duur van ’n gewone vakansie, maar met die gemoedsrus dat as my agterent begin juk, dit nie verhoudings hoef te versuur, of my moraal tot so ’n mate hoef te beïnvloed dat ek die Rooi Held voor ’n aankomende trok wil in smyt nie. Minder kontant sal ook benodig word om ’n werksvakansie te finansier as wat die geval sal wees met volle repatriasie.

Die intelligente leser mag dalk teen dié tyd wonder wat presies ’n “werksvakansie” sal behels. In kort beteken dit dat al my besittings in Taiwan sal bly, en ek derhalwe Suid-Afrika toe gaan om in die eerste plek vakansie te hou, en in die tweede plek dat ek geld sal verdien terwyl ek op vakansie is.

Die nuuskierige – en verantwoordelike – leser mag dalk ook wil weet hóé ek geld sal maak vir net twee of drie maande op ’n slag voor ek weereens landuit vlieg. Ek glo dit is voldoende om te sê dat daar ’n antwoord op hierdie vraag is – en dit behels nie enige onwettige of immorele aktiwiteite nie, net vir die rekord.

’n Ander vraag mag dalk wees hoe dit my sal beïnvloed as ’n sogenaamde werksvakansie beter uitwerk as wat ek gereken het, en ek begin wens ek het nie al my boeke en beddegoed in Taiwan gelos nie. As dit gebeur … wel, dan kan ek terugkom Taiwan toe met die drif van ’n rewolusionêre held, begin inpak die oomblik as ek my woonstel betree, en vir die laaste paar maande op my bokse slaap voor die Glorieryke Finale Terugkeer Na My Geboorteland.

’n Paar dae gelede het ek in ’n notaboek verwys na die stryd tussen die werksvakansie idee en volle repatriasie as ’n stryd tussen twee teenoorstaande ideologieë, twee verskillende planne, twee verskillende leefwyses, elkeen met sy eie sterk- en swakpunte. Ek het verder gemeen dit verteenwoordig ’n verdeling van die “Rebelle magte” in faksies van Links en Regs. Laasgenoemde sê “Kompromitteer”. Eersgenoemde sê, “Geen kompromie. Gaan terug, stry die goeie stryd, kerf ’n nis uit, handhaaf en hou.”

Ek het myself skaamteloos probeer manipuleer om te gaan vir die “dapper” opsie, om nie bang te wees vir onaangename gevolge nie, om nie soos ’n lafaard te kompromitteer met fancy idees soos “werksvakansies” nie.

Wat kan ek tog nou sê? Die rooi held is ’n sissie …

______________________