Die programmering van die materialistiese wêreld

VRYDAG 2 NOVEMBER 2012

Ek vind dit altyd fassinerend: die verleentheid om nie besig te wees met iets wat veronderstel is om geld te maak nie, wanneer dit van jou verwag is, of wanneer jyself verwag het om besig te wees met so ’n aktiwiteit.

Ek het ’n bedrywige oggend gehad. Vroeg al beddegoed en ander klere gaan was, drukwerk gaan doen by die 7-Eleven, voortgegaan om ’n les voor te brei vir ’n privaatklas vanaand, en teen twaalfuur begin gereed maak vir ’n vergadering by ’n skool. Ek het geweet dat ek na die vergadering my voorbereiding moet afhandel vir vanaand se klas, aandete moet gaan koop en nuttig, en dan vertrek vir my laaste kommersiële aktiwiteit van die dag.

Net voor die vergadering sien ek dat ek ’n oproep gemis het. ’n Twee-minuut gesprek bring die inligting dat die privaatstudent vir wie ek veronderstel was om vanaand klas te gee, steeds in Taipei is, en dat die klas dus gekanselleer is.

Teen halfvier is ek en N. terug van die vergadering af (ons gee klas by dieselfde skool). Ons stop toe by die 7-Eleven by ons woonstelgebou sodat sy iets kon koop om vinnig te eet, voor sy na ’n ander skool toe ry om vir die volgende paar ure daar klas te gee. Ek wens haar ’n aangename res van die middag toe, herinner haar daaraan om veilig te ry en iets ordentliks te eet vir aandete, en draai in die rigting van ons woonstelgebou. Dit is ’n reënerige, koelerige Vrydagmiddag. Al my “werk” vir die dag is afgehandel. En ek voel skuldig. En ongelooflik verleë.

Kan dit wees dat ek waaragtig nog nie verder beweeg het as die robotagtige programmering van die materialistiese wêreld nie? Is dit nog enigsins toepaslik om na al die jare se opweeg van waardes steeds skaam te voel net omdat ek ’n laaste paar ure van ’n “werksweek” in die gesig staar waarin ek geen sigbare kommersiële rol gaan vervul nie? Waar ek – kan jy jouself dit voorstel? – dit dalk rustig kan vat?

Hoekom kry sommige mense dit reg om nie twee keer daaroor te dink nie? Hulle kry ’n Vrydagmiddag af, gee ’n onbeskaamde gil van verligting, en snel huis toe. Hoekom is dit dat ék skaam voel oor so iets, al weet ek dat ek heel waarskynlik steeds op my eie gaan werk aan iets anders?

Die antwoord is vervelig. Die antwoord het al te veel keer sy gesig gewys.

Meeste van die werk waarmee ek myself besig hou, het min of geen kommersiële waarde, of het nog geen vrugte gedra wat enige materiële voordeel gebring het nie. In ’n materialistiese wêreld waar jou persoonswaarde bepaal word deur hoeveel kommersiële waarde jy skep, of hoeveel kommersiële waarde jy in jou handsak of beursie ronddra, swik selfs die alleen-werkende entrepreneur en skrywer van nie-kommersiële materiaal dan ook soms voor die versoeking om aan die wêreld te kan wys dat ook hy “besig” is. “Kyk julle! Ek sit nie net heeldag agter my rekenaar besig met skryfwerk en internet projekte en sulke dinge nie! Ek gaan ook soms uit en doen dinge hoofsaaklik vir geld, soos ander mense!”

Wat gebeur dan wanneer jy ’n geleentheid mis om iets te doen hoofsaaklik vir geldelike gewin wanneer dit verwag was van jou, en wanneer jyself aangeneem het dat jy die geleentheid sou hê? Die ou programmering skop weer in – asof jy nog nooit eens probeer het om anders daaroor te dink nie.

______________________