Die probleem met posisie inneem

SONDAG 6 APRIL 2014

Siende dat daar altyd feite is oor ’n aangeleentheid waartoe jy nie toegang het nie, dat daar altyd dinge is oor ’n persoon, ’n insident, of ’n historiese gebeurtenis waarvan jy nie weet nie, of wat jy nog nie in ag geneem het in jou argumente vir of téén iets nie, kan jy ooit werklik posisie inneem?

Wat staan jou te doen? Moet jy eenvoudig altyd op die muur sit? Moet jy dink aan ’n standaard vrywaring wat jy in elke situasie sal resiteer (“Soos gewoonlik moet ek net sê, ek weet …”)? Moet jy meer krities wees? Meer sinies?

Om te leer om jou emosies te beheer, is ’n goeie begin.

DINSDAG 3 JUNIE 2014

Wat sou ek doen as ek in Winston Churchill se posisie was in die Tweede Wêreldoorlog – Winston Churchill, wie deur vele mense as ’n held beskou word? Sou ek byvoorbeeld ingestem het tot bomaanvalle op burgerlike areas in Duitsland in die laaste maande van die oorlog, waar ek sou geweet het duisende mense, insluitende jong kinders, sou doodbrand en op ander verskriklike maniere sou sterf, of vermink sou word?

Ek sou graag wou sê ek sou nie ingestem het daartoe nie. Maar omdat ek nie in sy skoene was nie, kan ek nie oordeel nie.

Die volgende stelling kom toe by my op, veral met Winston Churchill in gedagte: “Ek kan nie oordeel nie, maar ek sal myself weerhou van verheerliking.”

______________________