DIE PAD NA VERLIGTING (EN MATERIËLE GEMAK)
Wanneer ek, soos nou, baie kwaliteit tyd op my eie spandeer, vorder ek vinniger op my pad na wat mens sekerlik “enlightenment” kan noem. As ek agt ure of meer per dag klasgee (soos ‘n paar jare gelede), is meeste van my breinkrag en energie gefokus op die handhawing van my waardigheid, om lewendig van punt A tot punt B te kom, en om Engelse lesse aan te bied met die minimum verveling (hoofsaaklik vir myself). As ek ‘n paar minute het om stil te staan en te dink oor wat ek doen, kom ek gewoonlik nie verder as hoe graag ek iets anders wil doen nie.
Wanneer ek dan uiteindelik by die huis kom, voel ek dat dit net regverdig teenoor myself is om af te skakel, musiek te luister, TV te kyk, elke nou en dan geld te spandeer vir die ontspanning daarvan, en om junk food te eet omdat ek dit “verdien”. Dan gaan slaap ek, net om die hele siklus weer van voor af te begin ‘n paar ure later.
Wanneer ek my tyd minder fokus op die somtyds noodsaaklike najaag van materiële gemak, het ek doodgewoon meer tyd om te fokus op sekere vraagstukke, om blokkasies te verwyder op my pad na kennis en begrip. Ek kan vir lank genoeg fokus op ‘n probleem om dit uit te sorteer sonder die afleidings van lawaaierige kinders, of sonder om na vyf of tien sekondes van staar na die swartbord my gedagtegang te versteur om voort te gaan met my les. ‘n Noodwendige resultaat is dus dat ek aansienlik vinniger vorder na ‘n punt wat ek hoop om te bereik in die nabye toekoms.
‘n Ander ironiese resultaat van hierdie proses van kreatiewe vryheid is dat dit idees oplewer wat uiteindelik ook die behoeftes aan materiële gemak en sekuriteit kan bevredig.
Die ideale eindresultaat? Om laasgenoemde punt – materiële gemak en sekuriteit – te bereik deur gebruik te maak van jou talent en kreatiewe vermoëns.
(Vrydag, 19 September 2003)
___________
