Die ontwaking en ontwikkeling van ware liefde

VRYDAG 6 JANUARIE 2006

Die ontwaking: Jy raak bewus van die vermoë, en die keuse, om goed te kan wees vir iemand; om dinge te kan doen wat daai persoon se werklikheidservaring beter sal maak, selfs ’n mooier kwaliteit sal gee. En dit gee ’n betreklike satisfaksie om die keuse, die potensiaal, te realiseer.

SONDAG 22 JANUARIE 2006

’n Groot deel van dit wat “liefde” genoem word in ʼn intieme verhouding, is ’n intense deernis wat die twee mense het vir mekaar, wat op sy beurt spruit uit ’n gewaarwording, na herhaaldelike en voortdurende kontak in ’n wye reeks situasies, van die “ander een” as een soos ek, in die mees betekenisvolle filosofiese en sielkundige wyse denkbaar.

Hierdie deernis aspek van “liefde” is diepgesetel. Wanneer hierdie houding jeens ’n spesifieke persoon eers wortelgeskiet het, kan dit ’n leeftyd hou. Dit is veel, veel sterker as gevoel – wat wissel van dag tot dag, en volgens gemoed en omstandigheid.

Keuse – ’n uitdrukking van vrye wil asook ’n uitdrukking van hoe jy jouself sien, hoe jy jouself definieer as mens, asook hoe jy gesien wil word deur ander – speel ’n groter rol by die intense deernis aspek van liefde as by die opwinding van romantiese euforie.

Hoe meer deernis in ’n intieme verhouding, hoe meer akkuraat kan die verhouding beskryf word as een waar “ware liefde” aan die orde van die dag is – of ’n verhouding waar “ware liefde” die regerende agent is. Indien ’n intieme verhouding hoofsaaklik gekenmerk word deur romantiese euforie, met die veel meer betekenisvolle en substansiële deernis merendeels afwesig, of waar die verhouding gereeld in gedrang gebring word deur aksies en gedrag wat fluktueer volgens gevoel, sal dit meer akkuraat wees om te sê dat “ware liefde” nie die regerende agent is in ’n spesifieke verhouding nie.

Ware liefde kan, uiteindelik, slegs ontwikkel in ’n intieme verhouding indien die karakters van die twee partye dit toelaat – karakter wat spruit uit die ontwikkeling van jou persoon, selfkennis, en ’n gesonde graad van selfrespek.

SATERDAG 28 JANUARIE 2006

Die vermoë om lief te hê gaan enige betekenisvolle verhouding vooraf. Dit is natuurlik ʼn algemene verskynsel dat ’n verhouding tussen twee mense bevorderlik is daarvoor dat hierdie vermoë om lief te hê, geaktiveer word. Dit is egter ook waar dat sommige verhoudings met die verloop van tyd eenvoudig blyk nie bevorderlik te wees daarvoor nie.

______________________