Die noodtoestand is verby

WOENSDAG 9 FEBRUARIE 2011

’n Noodtoestand het geheers in my lewe die afgelope vyf jaar. Hierdie eksistensiële toestand dikteer dat ek moet … dat ek nodig het … dat ek absoluut verplig is om eers geld te maak voordat ek kan bekostig om weer enige ernstige tyd te spandeer aan my skryfwerk. Dit impliseer dat skryfwerk ’n luuksheid is wat ek nie kan bekostig in ’n tyd van nood nie.

Wel, ek dink dit is pynlik duidelik dat die noodtoestand nie werk nie. So, ek gaan dit laat vaar. (Of het ek die noodtoestand nodig om myself sover te kry om werk te doen wat geld maak? Ek glo: Nee.)

Waarop kom dit neer? Dit beteken eerste skof van die dag, na ontbyt tot aandete, werk ek aan literêre projekte. Tweede skof, na aandete tot slaaptyd: besigheid, insluitende Engelse klasse.

Ek het ’n goeie idee wat ek moet doen met al my besigheidsprojekte. Indien van die projekte egter soveel werk behels dat ek nie aan enige iets anders kan werk nie, sal dit beteken ek byt te veel af. Ek sal in so ’n geval eenvoudig ander mense moet betaal om van die werk te doen, en as ek dit nie kan bekostig nie, sal ek dit moet laat gaan.

Feit van die saak is, sonder my skryfwerk is ek net ’n ou wat sy bes probeer om geld te maak. Soms slaag hierdie ou, soms misluk hy. Die res van die tyd lees hy sy geskiedenisboeke en kyk hy TV. Is dit ek? Dalk oor vyf jaar, in alle eerlikheid, of oor tien. But I’ll be doomed, if not damned as well, as ek my skryfwerk verlore laat gaan.

“Maar jy werk mos aan jou skryfprojekte – soort van,” sal my denkbeeldige gespreksgenoot van vele jare laat hoor.

Nie regtig nie, sal ek antwoord. Die bietjies werk wat ek so nou en dan doen, kan vergelyk word met die droë korsies en bene wat iemand vir ’n hond onder die tafel voer. Dis nie genoeg nie. Dis nie genoeg om ’n hond wat veronderstel is om wag te hou, lewendig te hou nie.

Ek kies nie my skryfwerk hier bo pogings om geld te maak, of soos ek dit graag noem, “besigheid” nie. Ek kies beide. Ek weet wat ek moet doen. Ek doen dit. Ek hoef nie die heeltyd myself daaroor te bekommer nie. En ek hoef beslis nie te glo dat ek een of ander geldgod moet beïndruk met hoe hard ek probeer nie.

Ek herhaal: Ek weet wat ek moet doen, ek is reeds besig om dit te doen, en ek sal voorgaan om ses dae per week te werk daarvan. Maar die tyd het gekom om weer aandag te gee aan iets wat verder strek as net geld.

______________________